Die donker kant van die so­siale media is oorbekend: die bekgevegte, afknouery en venyn oor maeres en mooies se glansryke Instagramplasings.

Om nie te praat van fopnuus wat so vinnig versprei dat die waarheid soms sukkel om in te haal nie. Tog het dié digitale platforms ook ’n vro­liker kant.

Dit gun spitsvondige gebruikers ’n ruimte om tong in die kies met vriende en geliefdes die draak te steek. En as dié gevatte kommentaar van beroemdes kom, kan die kubergespot skreeusnaaks wees.   

Ricky Gervais

Ricky gervais
Ricky Gervais en die vrou in sy lewe, Jane ­Fallon. Foto: Gallo Images/Getty Images

As jy dié Britse komediant en akteur se Instagram bekyk, sal jy dink sy meisie, Jane Fallon (59), is ’n tragiese figuur wat g’n vriende het nie. Die 58-jarige komediant plaas gereeld foto’s van sy Britse skrywermeisie, met wie hy al sedert 1982 in ’n verhouding is, en trek haar siel uit.

Daar is foto’s van haar waar sy alleen tussen bome stap, waar sy alleen sit en op haar selfoon besig is, waar sy in ’n sneeubedekte landskap loop of alleen in ’n restaurant sit.

En by elke foto skryf hy dieselfde onderskrif: “Jane saam met al haar vriende.”Toe hulle in November verlede jaar in Parys, Frankryk, vakansie gehou het, het Ricky sy geliefde in Frans geterg met ’n foto van haar wat alleen stap met die Eiffeltoring op die agter­grond: “Jane, avec tous ses amis.” (Jane saam met al haar vriende.)

ricky gervais
Hy steek gereeld die draak met haar op foto’s oor haar “eensame” bestaan. Foto: Instagram/@rickygervais

Onlangs het hy ’n foto van haar in ’n woud gedeel met die woorde: “Niemand is veiliger nie. #corona.” En die gespot oor haar “eensame bestaan” is nie waar die tergery ophou nie.

 “Sy kan nie eens die kat se aandag kry nie,” skryf hy by ’n foto van hul kat wat slaap terwyl sy oor hom buk. 

“Ek’s wêreldwyd ’n grap, maar dis oukei. Dit laat my lag,” het Jane aan die tydskrif Hello! gesê.

Chrissy Teigen en John Legend 

chrissy teigen en john legend
Die model Chrissy Teigen weet hoe om dinge lig te hou. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die veelbekroonde sanger en sy modelvrou is al jare lank ’n glanspaartjie en het twee oulike kinders, Luna (3) en Miles (1), maar weet hoe om dinge vars en snaaks te hou: in die openbaar en in die sosiale media. 

luna
Hul dogter, Luna, met ’n ­Arthur-speelding. Foto: Instagram/@chrissyteigen

Chrissy (34) se humorsin laat haar aanhangers gereeld skater, veral as sy haar man heel onskuldig op ’n sarkastiese wyse spot.

“Sy is my no. 1-trol op die internet,” het John (41) al oor haar gesê. 

Sy het seker gemaak John trou nie weer met iemand anders ná haar nie, spot Chrissy op Twitter: “Ek het altyd ’n nota in my sak waarop staan: ‘John het dit gedoen,’ net ingeval ek vermoor word, want ek wil nie hê hy moet ná my weer trou nie.”

Dan is daar ook die talle kere dat sy haar man Arthur noem omdat hy glo vir haar soos dié aardvark uit die kinderreeks Arthur Read lyk. Sy het al op Instagram ’n foto van hul dogtertjie met ’n Arthur-speelding opgelaai met die onderskrif: “Luna en haar pa.” 

chrissy teigen
Die model Chrissy Teigen weet hoe om dinge lig te hou. Haar man, John Legend, is altyd in die spervuur. Foto's: Twitter/Chrissyteigen

Toe sy hom in 2017 ná ’n aardbewing bel om te sê sy is veilig, het John nie sy foon geantwoord nie. Weer het Chrissy haar tot Twitter – waar sy 12 miljoen volgelinge het – gewend en sarkasties aan John geskryf: “Hei, ek leef. Dis orraait, jy hoef nie jou selfoon te antwoord nie. Ek wil tog nie hê jy moet jou oor my bekommer nie.” 

Sy vertel ook sy stuur gewoonlik kaal­foto’s van haar vir John en stuur dan daarna vir hom ’n opvolgboodskap: “Jammer, daai was nie vir jou bedoel nie.” Alles net om sy siel uit te trek. 

Ryan Reynolds en Hugh Jackman  

ryan en hugh jackman
Ryan Reynold is ’n grapjas. Foto: Gallo Images/Getty Images

Deadpool en Wolverine sou sweerlik nie in die strokiesprentwêreld iets met mekaar te doen wou hê nie, maar die hartebreker-­akteurs wat dié superheldhelde op die silwerdoek speel – Ryan Reynolds en Hugh Jackman – is eintlik goeie vriende wat graag mekaar se siel aanlyn uittrek.

Die goedige gespot het selfs die Deadpool-fliek gehaal toe die siniese superheld ’n Hugh-masker gedra het. Hugh het toe in ’n Instagramvideo teruggekap deur ’n Ryan Reynolds-­masker te dra en dit te benadruk dat hy tog eerste as die tydskrif People se sexyste man aangewys is – reeds in 2008 – vóór die eer Ryan in 2010 te beurt geval het. 

Vir sy Australiese vriend se 51ste verjaardag in Oktober verlede jaar het Ryan (43) ’n skreeu­snaakse videoboodskap gestuur wat met Hugh se konserttoer, The Man, The Music, The Show, in Indianapolis in Amerika gewys is.

ryan reynolds
Ryan Reynolds is ’n grapjas. Hy het in ’n video sy pel Hugh Jackman laat weet wat hy van sy musiek dink. Foto's: Instagram/@thehughjackman/@vanityreynolds

In die video sing hy alte mooi vir Hugh “Happy Birthday” en deel dan net daarna ’n kwetsende boodskap waarin hy vir Hugh ’n middelvinger wys en skree: “En ek is nie eens professioneel opgelei nie!”

Dít nadat Hugh, wat al suksesvol in ’n paar musiekspele opgetree het, eens gesê het Ryan kan nie sing nie.

Rob Lowe

rob lowe
Die tergery het The Ellen DeGeneres Show gehaal toe John (LINKS) sy pa getrol het. Foto: Instagram/@roblowe

Dié akteur (56) se seuns, Matthew (27) en John (25), leef om met hul pa die gek te skeer. “Ek het twee internettrolle grootgemaak,” het Rob verlede jaar gesê. 

Hy het ’n foto op Instagram gedeel waarop hy sweet en daarby geskryf jy moet natgesweet wees as jy hard genoeg oefen. Maar sy Emmy-benoemingsertifikate was duidelik op die agtergrond sigbaar, en John het in die kommentaar laat hoor: “Die subtiele kuns om ’n selfie voor jou Emmy-benoemings te neem.”

rob lowe
Rob Lowe se seuns gebruik sy sterstatus om hom nederig te hou. Foto: Instagram/@roblowe

Die broers hou hul pa se bewegings fyn dop. “So, jy het tyd om foto’s op te laai, maar nie tyd om op my teksboodskap te reageer nie,” skryf John by ’n foto van sy pa op die Galápagos-eilande. Maar Rob sê hy wil hulle nie terugkry nie. “Ek is te lief vir hulle.” 

Intussen hou sy aanhangers sy Instagram met valk­oë dop vir nog kommentaar deur sy seuns.

Dax Shepard en Kristen Bell

kirsten en dax
Dax Shepard en Kristen Bell skeer gereeld die gek in die sosiale media. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dié twee akteurs het in 2013 ewige trou aan mekaar beloof, en hul huweliksbeloftes kon netsowel gelui het: “Ek belowe om altyd met jou die gek te skeer.”

Die paartjie dryf gereeld aanlyn die spot met mekaar, maar die snaaksste voorval was toe ’n Amerikaanse tydskrif ’n e-pos aan hulle gestuur het om kommentaar oor hul sekslewe te kry en hulle teen die tyd­skrif saamgespan het.

In die navraag beweer die tydskrif dat die twee S&M, rolspel in die slaapkamer en ’n derde bedmaat oorweeg het – glo omdat die aktrise hoop dit sal haar haar huwelik met Dax (45), van Chips-faam, veilig hou. 

“Die enigste aanstootlike ding van dié wolhaarstorie is dat Kristen nie al die dinge doen omdat sy vryerig is nie, maar eerder uit ’n desperate poging om haar huwelik te red,” het Dax laat hoor. 

Kristen (39) se antwoord was nog snaakser: “Ek sou graag kommentaar wou lewer, maar dis moeilik om te praat met ’n prop in my mond.” 

Dax het ook al ’n foto van ’n vrou wat op ’n motorfiets sit en bier drink, gedeel en vir Kristen laat weet: “Jammer, ek het nooit gedink dit sou gebeur nie, maar ek’t iemand anders ontmoet!” 

BRONNE: BORED PANDA, ENTERTAINMENT TONIGHT, USATODAY, UPWORTHY.COM, MASHABLE, THE TONIGHT SHOW STARRING JIMMY FALLON, GLAMOUR.COM, ACCESS, TIME.COM, DIGITALSPY.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.