Hy vergeet hoeveel keer hy al ’n bedorwe brokkie genoem is; hoeveel keer al gesê is hy is net die seun van ’n skatryk rolprentmagnaat en gewese skoonheidskoningin in wie se skoot alles val. 

Of dat hy vanweë die kollig op sy ouers altyd bekend sal wees as die seun van Boet (82) en Tereza (50) Troskie – nie net as Jamie, soos hy graag wil wees, nie. 

Vandag is hy ’n volwasse jong man van 21 met sy lewenspad oop voor hom. 

Om onder die radar te leef was nooit ’n opsie nie. Jy’t groot spore om vol te staan – en dis angswekkend.

Maar 17 jaar ná sy bekende ouers se egskeiding in 2002 voel hy steeds hoe nuuskierige oë hom oral volg. 

“Ek is ongelooflik na aan my ma en pa. Maar daar word nog altyd van my verwag om iets groots met my lewe te doen,” vertel die frisgeboude Jamie.

“Om onder die radar te leef was nooit ’n opsie nie. Jy’t groot spore om vol te staan – en dis angswekkend.”

Jamie maak vandag vir die eerste keer in sy ma se huis in Bloemfontein sy hart oop oor hoe dit voel om in die skaduwee van glansouers te leef, en oor boelies.

Ook oor hoe swaar dit was om in die kollig te rou ná die tragiese dood van sy bababoetie, Jayden, in 2016.

“Ek het met Jayden se dood besef hoe moeilik dit werklik is om bekende ouers te hê. Want dit was ek wat as tiener die kameramanne moes gaan wegjaag toe hy op ses dae oud dood is. En dit was ek wat moes skool toe gaan terwyl ons hartseer aan die wêreld bekend was.”

Hy streef nog altyd daarna om soos sy sakemanpa, B
Hy streef nog altyd daarna om soos sy sakemanpa, Boet Troskie, te wees. Foto: Misha Jordaan

Maar nou het hy die eise van die kollig oplaas aanvaar, sê Jamie. Hy is reg om uit die skaduwees te tree. “Ek broei aan groot planne vir die toekoms. Maar nie omdat dit van my verwag word nie; omdat dit is wat ek graag wil doen.”

In pa Boet se huishouding het Jamie oordaad gesmaak: duur sportmotors en ’n privaat vliegtuig; ’n agtslaap­kamerhuis met vier huiswerkers; ’n sjef en onthaalsaal vir honderd gaste.

Maar volgens Tereza het sy “brand­arm” en “diep in die skuld” met Jamie uit haar huwelik met Boet gestap.

Tog sou hy al die weelde verruil het vir ’n “normale kinderlewe”, sê Jamie. 

Hier in die doodgewone voorstedelike huis in Bloemfontein waar Jamie en Tereza al ’n jaar woon, is hy gelukkiger as ooit. 

Op skool het sy klasmaats geweet sy pa is ’n eiendomsmagnaat en rolprent­maker en dat sy ma Mev. Suid-Afrika 1999 was. 

Sy ouers se openbare egskeiding het sake vererger. 

“Ek was op skool altyd ’n teiken vir boelies. Hulle het my ’n rykgat genoem wat vir niks hoef te werk nie,” vertel Jamie, ’n derdejaarstudent in B.Com. (Regte) aan die Universiteit van die Vrystaat.

Langs hom vertel Tereza: “Hy was nog klein, dan bel die skool en sê die boelies is besig met hom. Dan jaag ek skool toe en tel daardie boelie aan sy skooldas op. Ek wou Jamie met my lewe beskerm.”

Jamie hervat: “Ek en my ma het nog altyd ’n close verhouding gehad. 

'Om onder die radar te leef was nooit ’n opsie nie. Jy’t groot spore om vol te staan – en dis angswekkend.'

Tuis het sy alles gedoen om my lewe so normaal moontlik te hou. En dit was. Maar in die openbaar was ek altyd die kind van die geskeide bekendes,” sê Jamie.

Boet se Mimosa Films het vroeër treffer­flieks soos The Gods Must Be Crazy en Dirkie vervaardig. 

Hy besit ook die Mimosa-winkelsentrum in Bloem­fontein. Tereza was ná die egskeiding gereeld in die nuus oor skuldinvorderaars wat haar meubels en vier Bloemfonteinse biltongstalletjies wou vat.

In 2016 moes sy weens R80 000 se agterstallige huurgeld uit ’n luukse huurhuis trek. Dit het aan Nelie Smith-Mansuitrusters, ’n Mimosa-filiaal, behoort. 

“Ek het geweet die afknouery gaan oor my ouers se roem en my pa se geld,” sê Jamie. “My ma het altyd gesê die boelies is net jaloers; ek moet my nie daaraan steur nie. En dankie tog ek het nie.”

Egskeiding

Ná sy ouers se egskeiding het Jamie en Tereza digby Boet in Bloemfontein gewoon. Jamie was elke tweede naweek en elke tweede skoolvakansie by Boet.

“Mense se verwondering oor my pa was nog altyd vir my ongelooflik. Kleintyd het ek vir hom gesê: ‘Pappa, ek wil ook eendag ’n sakeman soos jy wees.’ Dan het hy vir my gesê: ‘Die belangrikste in dié bedryf is menseverhoudings – onthou dit.’ En ek onthou dit vandag nog.”

Bennie Herbst (39), met wie Tereza 14 jaar in ’n verhouding was voor hulle in 2014 getroud is, was vir Jamie soos ’n tweede pa. Boet is destyds in dieselfde jaar met sy derde vrou, Tracy (55), ge­troud, en ook sy steun hom, sê Jamie.

“My ouers se egskeiding was vir my moeilik. Ek was jonk. Teen die tyd dat ek verstaan het, het dit nie saak gemaak nie. Ek was so gelukkig: Ek het twee pa’s wat my nog altyd net gesteun het en ’n ma wat die wêreld vir my sal gee.”

Hy koester nog altyd sy besonderse band met sy ma. “Ons was al saam deur baie moeilike dinge. Maar nog altyd het ons een reël: Ons jok nooit vir mekaar nie. Eerlikheid is alles,” vertel hy. 

Dit was Jamie wat Tereza bygestaan het ná die dood van Jayden, haar en Bennie se baba wat op 26 Julie 2016 met behulp van ’n surrogaatma gebore is nadat Tereza se baarmoeder in 2014 ná ’n kankerskok verwyder is. 

Ses dae ná Jayden se geboorte het sy hartjie ophou klop nadat vog ver­moedelik in sy longe beland het. 

“Dit was die ergste ding wat al ooit met ons gebeur het,” sê Jamie.

“Ek het die aand van sy dood by my pa geslaap. Die volgende oggend, op pad skool toe, het ons by my ma stilgehou om my skooldas te kry. Toe ek die huis binnestap, het ek my verbeel ek hoor my ma lag. Maar toe ek in haar kamer instap, sien ek sy huil hartverskeurend. Toe sê sy hulle het alles moontlik gedoen, maar Jayden is dood.”

Elke koerantplakkaat oor Jayden se dood het die seer verdiep.

“Ek het probeer om daar te wees vir my ma; om vir haar te wys sy kan altyd met my praat. Maar sy het my amper meer bygestaan as ek vir haar. Sy was so sterk . . . Ek is so lief vir haar.”

Tereza se oë blink van die hartseer ­herinnering.

“Bennie het drie jaar lank met Jayden se babapakkie wat hy daardie laaste aand gedra het in sy jagbaadjie rondgeloop,” vertel sy.

“Ek het niks gesê nie, want ons elkeen het verskillend getreur. Ons het nie gelyk heel geword nie. Maar nou is die babakleertjies weg en ons hele gesin weer gesond.”

Jamie het krieket vir ’n nuwe passie verruil: die
Jamie het krieket vir ’n nuwe passie verruil: die gimnasium. Foto: Instagram/ @jamietroskie

Hy is nou op die beste plek nóg, vertel Jamie. En hy het ’n passie vir gim ontwikkel. Die lenige skoolseun van vroeër jare is nou ’n ware spiertier.

“Ek kyk nou vir die eerste keer ooit in die spieël en hou werklik van wat ek sien,” sê hy skaam.

Hy oefen deesdae sommer twee keer per dag, “want ek neem aan ’n internasionale kompetisie van 45 dae deel waar die beste trans­formasie prysgeld wen”.

Hy het die gimkleremaatskappy Lift Apparel gestig. Dalk sal hy en sy sakemanpa nog eendag saamwerk, sê hy.

Jamie en sy meisie, Nicola Steyn, gaan al twee jaa
Jamie en sy meisie, Nicola Steyn, gaan al twee jaar uit. Hulle studeer albei B.Com. (Regte) aan Kovsies. Foto: Fani Mahuntsi

Hy trek sy meisie, Nicola Steyn (20), nader. Sy studeer ook B.Com. (Regte) en is in haar tweede jaar. Hulle gaan al sedert September 2017 uit. 

“Kyk net hoe mooi is sy,” koer Jamie. Tereza laat hoor: “Sy is al deel van die familie.” 

Enige ander groot droom vir die jong man wat nou eers sy eie pad in die lewe kan inslaan?

“Om maar tog ’n kleinboet of -sus te hê,” sê hy met ’n kykie na Tereza. “Ons het net anderdag daaroor gepraat. 

En sy en Bennie wil graag nog ’n kind hê. Vir die eerste keer kan ons almal weer openhartig daaroor praat.”

Want al staan hy nou sy eie skoene vol, bly familie mos maar familie. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.