Die ma van twee het tydens ’n jaarlikse Kerspartytjie by die Pienk Paleis in Monaco gespog met ’n nuwe haarstyl wat die tydskrif People as ’n “half-hawk” beskryf.
Een gedeelte van die linkerkant van haar kop is heeltemal afgeskeer, en haar ligblonde lokke is ook ’n donkerder skakering as voorheen.
Charlene (42), haar man, prins Albert (62), en hul sesjarige tweeling, prins Jacques en prinses Gabriella, het geskenke aan kinders in die gemeenskap oorhandig. Vroeër Woensdag het die gesin ook ’n seremonie bygewoon waar ’n nuwe maritieme polisieboot na Charlene se dogter, Gabriella, genoem is.
Tydens dié geleentheid was Charlene se nuwe haarstyl onder ’n swart beret versteek.
Dis nie die eerste keer dat Charlene haar voorkoms opkikker met ’n nuwe haarstyl nie. Kyk hoe het haar hare al verander sedert sy in Julie 2011 met haar prins getroud is.
2011
Vir haar burgerlike trouseremonie sowel as die een in die kerk het Charlene haar lang lokke in ’n lae bolla gedra.
2012
In April 2012 het Charlene die Monte Carlo Rolex Meesters-tennistoernooi met ’n veel korter haarstyl bygewoon.
2015
Charlene het op 10 Desember 2014 die lewe geskenk aan haar skattige tweeling. Met die tweetjies se amptelike voorstelling op 7 Januarie 2015 was hulle nie die enigste nuutjie in hul ma se lewe nie.
’n Stralend gelukkige Charlene het op die balkon van hul paleis in Monaco met ’n nuwe kuif gespog.
Toe Jacques en Gabriella in Mei daardie jaar gedoop is, het sy haar hare netjies agteroor gekam, maar ’n maand later het sy met ’n langer golwende bob-haarstyl by die Monte Carlo-filmfees gepryk.
2016
Toe Charlene en Albert in Januarie 2016 pous Franciskus in die Vatikaanstad besoek het, was haar hare weer aansienlik korter. Jy kon egter net die voorkant sien omdat Charlene volgens protokol haar hoof met ’n wit kantdoek bedek het.
Die eerste kykie na dié korter kapsel het in Februarie 2016 gekom toe Charlene en Jacques die Saint Devote-rugbytoernooi in Monaco bygewoon het.
In Oktober daardie jaar het sy gestraal by die jaarlike Prinses Grace-galatoekenningsaand in New York.
2019
Nadat sy by haar korter kapsel gehou het tussen 2016 en 2019, het Charlene in November en Desember 2019 weer by amptelike geleenthede met skouerlengte hare gespog.
2020
In September vanjaar het die prinses weer die skêr sy werk laat doen en gespog met ’n kort kuifie. Charlene en Albert het op 24 September, Wêreldomgewingsdag, die Monte Carlo Gala vir die gesondheid van die planeet bygewoon.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET