En wanneer die son sak, is hul ontvlugting nie TV-skerms of ’n iPad nie, maar hulle gooi hul koppies agteroor en bewonder die helder sterre van ’n tropiese paradys.

Selfs skoolwerk is aanloklik, want hoe dan nou anders as jy dit met ’n uitsig op die blouselblou waters kan doen . . . 

Dit klink dalk soos die lewe van die Disneyprinses Moana, maar twee maande lank was dit die lewe van klein Evah (8) en Shay (6) Panagio. 

Dis hoe lank die twee sussies saam met hul bekende ouers, die aanbiederspaar Nico (45) en Christi Panagio (41), op die eiland Samoa gewoon het terwyl Sur­vivor South Africa: Island of Secrets daar verfilm is.

Nico is die aanbieder van dié gewilde reeks waarin ’n groep Suid-Afrikaners dit nou in ’n stryd om oorlewing op die kassie uitspook. 

Dis vir Nico belangrik om nie lang tye weg van sy gesin af te wees nie; daarom het al die Panagio’s saamgereis toe die reeks vroeër vanjaar op ’n eiland duisende kilometers buite Suid-Afrika verfilm is.

Hulle is die afgelope drie maande weer terug op eie bodem en het hul baaikostuums en plakkies vir winterjasse en ­serpe verruil.

Nico is reeds bedrywig met sy volgende projek waar hy “voor en agter die skerms” werk aan ’n komediefliek, Mykonos. Hy en Christi het tyd afgeknyp om kosbare foto-oomblikke van hul tyd op Samoa met Huisgenoot te deel.

Eilandhuisie

Die Panagio’s het in ’n hotel in Apia, Samoa se hoofstad, tuisgegaan. Die gesin het in ’n gedeelde kamer met ’n prentjiemooi uitsig op die see gebly. 

Al was die kamer toegerus met ’n klein kombuis, het Christi en Nico geen tyd agter die kospotte deurgebring nie.

“Die lewe in ’n hotelkamer was heerlik omdat daar so min was om skoon te hou,” erken Christi oor dié opset wat ver verwyder was van hul gewone huislewe. 

Die hotelsjefs het daagliks vir hulle en die res van die produksiespan drie maaltye berei.

“Tuna is die eiland se hoof uitvoerproduk, so ons het gereeld heerlike tunageregte geëet. Saam met elke middag- en aandete het ons ’n vars kokosneut gekry waarvan ons die sap met ’n strootjie uitgedrink het.

Toe hulle hoor ons is van Suid-Afrika, het hulle selfs een aand vir ons gebraai.”

Die reeks is vir 39 dae verfilm, maar die Panagio’s en produksiespan was 49 dae lank op die eiland. 

“Ek het tien dae gekry om gewoond te raak aan die plek en ’n idee te kry van waar alles is,” verduidelik Nico. Dit het hulle ’n paar dae gevat om by die nuwe tydsone aan te pas, want Samoa is 12 uur voor Suid-Afrika.

“Ons was ’n week lank vlugvoos ná 26 uur in die lug om tot daar te reis,” sê Christi.

“Ons het die eerste week baie deur die dag geslaap en teen middernag het almal kiertsregop op die bed sit en gesels.”

Die eilandlewe

Die gebied waar hulle gewoon het, is ongerep en nie ver gevorder wat toerisme betref nie, vertel Christi, wat ook bekend is as aanbieder van die VIA-mooimaakprogram Die Skatties.

“Daar is min winkels, net twee teerpaaie en drie restaurante.”

“Jy beweeg terug na die basiese dinge in die lewe,” vertel sy. Dit was anders as verlede jaar se ervaring toe hulle vir die vorige aflewering van Sur­vivor saam met Nico na El Nido in die Filippyne gereis het. 

“El Nido is ’n besige, kosmopolitaanse eiland; Samoa vat jou verder terug in tyd: Dit is rustig; daar is watervalle, swemgate, tropiese reënwoude en ons het ons harte op die natuurskoon verloor. 

“Die plek het ons almal se siel geraak,” vertel Christi. 

Dis vir Nico belangrik om fiks en gesond te bly; daarom het hy tyd gemaak om op die eiland te gaan draf. Nadat die kameras begin draai het, het hy net vier af dae gekry om die eiland te verken. 

“Ek en Christi het ’n lekker beach bar so 45 minute van ons hotel af ontdek waar ons bier wat plaaslik gebrou word, geniet het.”

Hulle het ook deur tropiese reënwoude staproetes na watervalle en swemgate aangedurf.

Nico en Christi het albei voorheen in die SABC2-sepie 7de Laan gespeel. Nico was te sien as George Kiriakis en Christi as Karien Momberg. 

Dit was vir hulle lekker om op die eiland ’n rukkie lank onbekend te wees, weg van winkelsentrums waar hulle gereeld herken en deur aanhangers voorgekeer word. 

“Mense neem dikwels skelmpies ’n foto van jou; ons maak maar of ons dit nie sien nie, maar soms wil jy ook net anoniem wees,” verduidelik Nico. 

Tog het die nuus dat Survivor in Samoa verfilm word gou oor die eiland versprei en wou omtrent “elke plaaslike inwoner ’n foto saam met enig­iemand op stel neem”, lag Nico.

Die inwoners se amptelike taal is Samoaans. Met hul donker hare en blas vel “lyk hulle baie soos die mense in die animasiefliek Moana”, vertel Christi. “En boonop het dié gewilde Disneyfliek se liedjie – I Am Moana – oral op die eiland opgeklink.” 

Een lastigheid was die baie musiekte. “Daar is nie giftige slange nie, maar die muskiete was oral. Hulle lyk en klink soos hommeltuie,” sê Nico laggend. 

Sonskynmeisie

see,samoa,vakansie
Christi geniet die Samoaanse hitte. Foto: Verskaf

By die Panagio’s se huis in die Kaapse Skier­eiland sal jy Christi nie sommer sien ontspan nie. Daar beplan sy alles haarfyn en sorg dat alles agtermekaar is, maar die son, see en somer van ’n eilandlewe maak haar rustig. “Dis my gunstelingplek en waar ek op my beste is. Ek dink soms ek is ’n meermin,” spot sy. 

Wanneer die twee sussies bedags in die hotel se swembad of in die see baljaar het, het sy ’n lekker kol op die strand of langs die swembad gekies om ’n ogie oor hulle te hou, en dan haar leesboek oopgeslaan. Nico se af tyd was min, maar wanneer hy tussendeur die verfilming tyd kon afknyp, het hy ook saam met hul dogters op die strand baljaar.

Christi het dan die vrye tyd gebruik om aan die viering van haar en Nico se huweliks­herdenking te beplan. Die paartjie ken mekaar al 19 jaar en is vir 13 daarvan ge­troud. 

“Ons sou op ons herdenking op 18 Maart teruggevlieg het na Suid-Afrika, maar het toe op die nipper besluit om ná Survivor se verfilming eers vir ’n week Thailand te besoek. 

Ons het destyds vir ons wittebrood daarheen gereis, en dit was vir ons ’n full circle-oomblik om dié keer ons dogters saam te neem.” 

Christi het ook vanjaar slimmer en ligter gepak, in die kol vir die Samoaanse hitte en hoë humiditeit. “Ek het byna 10 bikini’s ingepak, baaikostuums vir die meisies, baie hoedjies en genoeg sonskerm.”

Bedrywig op die stel

survivor sa,tv
Christi en hul twee dogters het gaan kyk hoe Nico werk tydens ’n stamuitstemming. Foto: Verskaf

Die omgewing was ’n paradys, maar Nico se tyd vir rondlê en die son opslurp was naby aan nul. “’n Maklike dag was agt uur se werk, en op ’n moeilike dag was ons 16 uur lank besig.” 

Wanneer hy nie besig was om te verfilm nie, het hy voorberei vir tonele wat verfilm moet word. 

“Ek het my girls daagliks vir middagete gesien. Soggens het Evah en Shay lekker vroeg opgestaan en ontbyt saam met my geëet. Dan het ek diep in hul oë gekyk, aandagtig geluister en was ek net in die oomblik teenwoordig. Dit was regtig kosbaar om hulle elke dag te kon sien, al was dit net vir ’n rukkie.” 

Survivor, wat Nico vanjaar vir die vyfde keer aanbied, is ’n reeks wat fokus en lang ure verg. “Dit sou vir my moeilik raak as ek my moes bekommer oor my vrou en kinders wat nie naby is nie. Hul teenwoordigheid het daardie spanning uitgesny.”

Vir Christi is dit ewe spesiaal om in haar man se werk te deel.

“Dis ongelooflik om te sien hoe toegewyd hy is en hoe goed hy die druk hanteer. Hy was soms so moeg dat hy tussen tonele net vir 10 minute ’n power nap in die hotelkamer kom vang het. Hy werk so hard en wil nie dinge hê wat sy aandag aftrek nie. 

Suid-Afrika se tyd verskil ook dikwels van die eilande waar Survivor verfilm word, wat dit moeilik maak om oor Skype kontak te behou. Ons is sy steunnetwerk, en hy wil ons vir gemoedsrus naby hê,” verduidelik Christi.

“En ons kla glad nie. As jy môre vir ons sê ons moet reis, pak ons vandag ons tasse.”

Die deelnemers het op verskeie afgeleë dele van die eiland gebly.

“Die stamberaadsessies (waar deelnemers uitgestem word) was naby aan ons hotel, en ek en ons dogters het ook een aand die geleentheid gekry om van agter die kameras een van die sessies dop te hou. Ons hele gesin is groot aanhangers van dié reeks, so dit was spesiaal en baie opwindend,” borrel Christi. 

Kinderparadys

Terwyl Nico gewerk het, het Christi die eiland saam met hul dogters verken. Hulle het gereeld met ’n kajak die see ingevaar, gesnorkel en met handoeke op die strand uitgespan. 

Die twee sussies was veral gefassineer deur die eiland se ryk natuurlewe, soos die klein krappies wat parmantig in die deurskynende water skarrel. 

“Hulle het skulpies opgetel en elke dag soos meerminne geswem,” vertel Christi. 

Die eenvoud van die eilandlewe het Evah en Shay opnuut kreatief laat dink.

“Ons dogters het met bokse en gom, inkleurpotlode en ’n skêr vir hulle ’n pophuis gebou. Soms het ons kospakkies gepak en piekniek op die strand gehou terwyl ons die sonsondergang bewonder het.”

Ná ’n dag se aktiwiteite in die buitelug was hulle so uitgeput dat hulle teen agt­uur saans al vas aan die slaap was.

Tussendeur die eilandpret het Christi daagliks een of twee uur se skoolwerk vir hulle ingepas.

“Hulle is in gr. 1 en 3, so dit was maar basiese leeswerk en wiskunde. Hulle het my egter mooi laat verstaan dat ek hulle nie op Suid-Afrikaanse vakansiedae of naweke mag laat werk nie.” 

Om Samoa te groet was swaar, “maar ons kinders ken al die opset. Wanneer ons daar is, geniet ons elke oomblik en is ons dankbaar om vir hulle die ervaring te gee, maar wanneer ons huis toe gaan, geniet hulle dit weer om in hul eie omgewing te wees,” verduidelik Christi.

“Hulle verstaan die wegbreek is tydelik vir hul pa se werk en dat ons lewe by die huis heel anders en normaal is.” 

Hul roetine is reeds weer terug na regmaak vir skool, kosblikke pak, huiswerk en buitemuurse aktiwiteite. Want net so lekker soos die lewe op ’n eiland, is hul regte lewe tuis. 

Survivor South Africa: Island of Secrets word Donderdagaande om 19:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.