Al het die donkerkop-adonis onlangs sy 46ste verjaardag gevier, laat hy steeds harte bolmakiesie slaan.

Nico is met die aktrise en TV-aanbieder Christi Panagio (41) getroud. Die paartjie het twee pragtige dogtertjies, Evah (8) en Shay (6).  

“Christi is ’n groot aanhanger van die gewilde Amerikaanse reeks Grey’s Anatomy. McDreamy is Patrick Demsey se karakter se bynaam, verduidelik hy oor die troetelnaam wat sy vrou vir hom gegee het. “Ek sal dit vat,” lag Nico.

“My vrou ken my baie goed en weet my gunstelingplek is om in die berge te wees. Daarom het ons vir my verjaardag op 25 Augustus ’n lekker langnaweek in ’n berghuisie deugebring,” vertel Nico aan Huisgenoot. 

Hy was pas klaar verfilm aan die aanlyn blitssepie Die Testament wat op 2 September op Netwerk24 begin en sê ná die lang ure op stel was hy reg vir ’n blaaskans.

En hoewel hy nou vir die eerste keer besef dat hy goed op pad is om die groot 5-0 te slaan, laat hy steeds menigte aanhangers se harte bolmakiesie slaan. 

“Ek het vir ’n oomblik so effens na my asem gesnak, maar het myself herinner hoe maklik dit was om my 40’s in te gaan en het daarom besluit ek gaan dieselfde voel oor my 50’s,” sê die akteur. 

“Ek dink mense praat mekaar bang as dit by ouderdom kom, en jy verwag die ergste, maar sodra jy eendag daar uitkom, besef jy dis glad nie so erg nie,” voeg hy by. 

Maar hoe kry hy dit reg om op 46 steeds so goed te lyk? Wat is sy geheim?  

“Dankie vir die kompliment," antwoord die hartebreker beskeie. "Ná 40 vat 'n mens wat jy kry,” spot Nico oor die vraag. 

“Ek doen my bes om so aktief as moontlik te bly sonder om obsessief daaroor te raak. Ek het deur die jare agtergekom dit is belangrik om konsekwent te bly wanneer dit kom by jou dieet en oefening. Dit verg baie om jou gesondheidsplan ’n leefstyl te maak, eerder as om ’n quick-fix-oplossing te soek,” sê hy. 

EETPLAN

Nico sê hy en sy gesin probeer so ver moontlik om gesonde dieetkeuses te maak.

“Ons glo in balans en sal ons nie lekkernye ontsê nie. In die week is ons meer bewus van wat ons eet. Naweke is dit gemakliker en gee ons oor aan lekker eet.”

OEFENPROGRAM

Dis ook geen geheim dat die akteur mal is oor draf nie. Hy sal op enige bestemming 'n draffie inwerk.

“Ek probeer altyd om ’n draffie in my besige skedule in te pas net om te sê ek het gedraf. Al is dit in Central Park in New York,  Stanley Park in Vancouver of op die eiland Samoa.”

Die nuutste seisoen van Survivor, wat nou uitgesaai word, is vroeër vanjaar in Samoa verfilm. Al het hy al die wêreld vol getoer, bly Kaapstad se berge sy gunstelingplek om te draf.

VELSORGROETINE 

Volgens Nico hou hy nie van te veel fieterjasies nie en verkies om dinge so eenvoudig as moontlik te hou.

“Met die dat ek so baie tyd in die son, wind en see deurbring moet ek goed na my vel kyk. Daarom gebruik ek en Christi albei die velsorgreeks pHformula. In this business when it comes to your face, you don’t mess around,” lag hy. 

SURVIVOR

Dis natuurlik ook vir hom belangrik om fiks te bly vir Survivor South Africa: Island of Secrets. 

Nico is die aanbieder van dié gewilde reeks, waarin ’n groep Suid-Afrikaners dit nou in ’n stryd om oorlewing op die M-Net uitspook. 

“Survivor verg baie fisieke werk en fiksheid, want ons is heeldag op ons voete in die skroeiende hitte, stap deur palmwoude en oor vulkaniese rotse,” vertel Nico. 

Omdat dit vir hom belangrik is om nie lang tye van sy gesin af te wees nie, het sy vrou en kinders saamgereis toe die reeks vroeër vanjaar in Samoa verfilm is. 

Die reeks is in 39 dae verfilm, maar die Panagio’s en die produksiespan was 49 dae lank op die eiland. 

“Ek doen nie enige iets spesifiek om vir Survivor voor te berei nie, maar ek maak net deurlopend seker dat my normale fiksheidsroetine in plek bly,” sê hy.

  • Survivor South Africa: Island of Secrets word Donderdagaande om 19:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai.
  • Kom neem deel aan die gesprek. Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.