Lynné, wat in 2011 as Mev. SA gekroon is, se struweling met haar gewig het begin toe sy met haar eersteling, Alexander (4), swanger was.

"Ek het vier jaar gelede met my swangerskap 30 kg opgetel en die laaste jaar gesukkel om die laaste 5 kg te verloor,” vertel sy aan Huisgenoot.

Volgens Lynné (34) was sy nie op soek na ’n vinnige manier om die gewig af te skud nie, maar na iets wat volhoubaar is en haar leefstyl sou verander. Toe Lynné die gewig optel, het haar selfbeeld ’n groot knou gekry.

lynne en haar seuntjie
Sy het sowat 30 kg opgetel toe sy swanger was met haar seuntjie, Alexander. Foto: Albert Bredenhann

"Dit het my met tye depressief laat voel omdat ek nie in al my ou klere pas nie. Ek was nie gemaklik in my eie lyf nie en sou byvoorbeeld nie met selfvertroue by die see in swemklere sit en sandkastele saam met my seuntjie bou nie,” sê sy. 

Sy het besef ma-wees kan nie vir die res van haar lewe as verskoning vir haar gewig gebruik word nie en wou dringend iets daaraan doen. 

Hoe het sy dit gedoen?

Lynné het verlede jaar die hulp van Jacques en Angelique van der Linde van JVL, wat in gesondheid en leefstyl spesialiseer, ingeroep en meen dít het haar leefstyl verander. 

"Hulle het saam met my ’n basiese eetprogram uitgewerk en produkte aanbeveel wat my gehelp het om my doelwit vinniger te bereik,” vertel sy. 

Sy sê benewens die produkte wat sy gebruik het, het sy ook alle suiker, suiwel, brood en pasta uit haar dieet gesny. Lynné het verder veranderinge aan haar daaglikse roetine aangebring en doen minstens vier keer per week interval-oefeninge van 60 minute lank. Sy drink ook elke dag drie tot vier liter water. 

Lynne en gesin by die strand
Dit was vir Lynné selfs moeilik om gemaklik op die strand te wees. Foto: Verskaf

“Ek het dit al so baie gehoor, maar vir die eerste keer verstaan ek wat mense bedoel as hulle sê: Wanneer jy eet, maak seker jy neem die regte goed in. Daai eerste keer toe ek ’n verskil kon sien, was ek so geïnspireer en wou ek nie meer verkeerd eet nie. Ek wou net harder oefen sodat ek nog vinniger resultate kon sien!” vertel sy opgewonde.

Haar man, Wilhelm de Jager (35), was haar grootste ondersteuner. Die paartjie is al byna 10 jaar getroud. 

“Hy het my baie ondersteun en byvoorbeeld nie meer met lekkers by die huis aangekom om my te bederf nie en my besluit gerespekteer as ek by ’n geleentheid nie enige alkohol wou drink nie.”

Lynne en gesin
Haar man is haar grootste ondersteuner, vertel sy. Foto: Albert Bredenhann

En waarmee is sy tans besig? 

Dié sakevrou het haar eie grimeringreeks en is tans besig om te werk aan haar eie leerhandsakreeks. Sy geniet haar werk ongelooflik baie, vertel sy, en meen dis vir haar lekker dat haar produkte eg Suid-Afrikaans is. 

En sy beplan om voort te gaan met haar gesonde leefstyl. "Ja, ek het nie ’n six pack en bolletjie-skouers nie. In elk geval nog nie, maar ek voel die beste wat ek nog ooit gevoel het! Ek sien uit daarna om te sien hoe ver ek myself in 2019 kan push,” sê sy oor haar nuwe leefstyl.