Halle gaan nie net die regisseur van die fliek Bruised wees nie, sy gaan ook die hoofrol vertolk. Die fliek draai om Jackie, oftewel Justice, 'n gemengde vegkuns-vegter wat té veel keer harpuis geruik het.

Sy maak dan reg om weer in die gevegskryt te klim teen 'n opkomende ster en terselfdertyd aan haar verhouding met haar sesjarige seun te werk, wat sy jare lank afgeskeep het.

Halle is omtrent bedrywig. Die ma van twee gaan ook volgende jaar teenoor Keanu Reeves in die aksieprent John Wick 3: Parabellum te sien wees. Sy vertolk die rol van Sophia in die derde aflewering van die John Wick-rolprentreeks. Sy beskryf die rol as as een van die fisiek uitdagendste fliekrolle wat sy al gespeel het. 

"Ek het nog nooit in my lewe so hard geoefen nie. En dit het 'n beter mens van my gemaak," vertel sy. "Uitdagings soos dié hou ons jonk, vol energie en selfvertroue. Dit help ons besef ons kan meer doen as wat ons gedink het."

Sy loof ook die mense wat saam met haar in die fliek verskyn en sluit af met: "My seer spiere is hier om vir jou te sê jy kán dit doen".

Laurence Fishburne, Ian McShane en Anjelica Huston is ook in die fliek wat op 17 Mei 2019 uitgereik sal word.


Dink positief

As Patience Phillips in die superheldfliek Catwoman (2004) en die Ursula Andress-oomblik as Giacinta “Jinx” Johnson in die Bond-fliek Die Another Day (2002) teenoor Pierce Brosnan het baie van haar kritici van haar persoonlike dramas en stormagtige liefdeslewe vergeet.

Hier was 'n aktrise wat nie net aantreklik was nie, sy kon boonop fisiek uitdagende rolle die hoof bied.

Halle is nie iemand wat op haar louere rus nie. Daardie lenige lyf getuig nie net van goeie gene nie, maar van harde werk in die gimnasium, 'n gesonde leefstyl en 'n vrou wat vasberade is om so lank moontlik so goed moontlik te lyk.

In Junie vanjaar het sy hart oopgemaak oor die kronkelpad wat haar lewe tot nou toe geloop het. Hoe het sy die talle struikelblokke oorbrug?

Sy skryf dit toe aan die vermoë om stil te raak en daardeur haar eie persoonlike sterkte te vind, as deel van die genesingsproses.

Woensdag het sy 'n smeulende foto met haar 3,4 miljoen aanhangers op Instagram gedeel wat talle na hul asem sal laat snak. Maar dit gaan oor meer as net die foto.

Halle deel ook 'n sterk en positiewe boodskap met haar bewonderaars: "Skoonheid ontstaan die oomblik wanneer jy besluit om jouself te wees," het sy by die foto geskryf.

View this post on Instagram

Beauty begins the moment you decide to be yourself.

A post shared by Halle Berry (@halleberry) on

Wanneer Halle nie voor die kameras verskyn nie, is boks een van haar gunsteling-oefensessies. Sy peper glo die slaansak al die afgelope dekade, en die laaste drie jaar is dit deel van haar gereelde oefenroetine. En te oordeel aan die foto is sy beslis nie 'n katjie om sonder (boks-)handskoene aan te pak nie!

Volgens haar stel boks jou in staat om elke spier in jou liggaam te help vorm en boonop is dit 'n uitstekende verbrander van kalorieë en vet.

"Ek is gek oor die feit dat ek altyd 'n nuwe manier kry waar ek myself kan uitdaag en nuwe spiere kan bewerk," sê Halle, die ma van 'n vierjarige seun, Maceo, en 10-jarige dogter, Nahla.

Agt kitsfeite oor Halle Berry

Halle, gebore Maria Halle Berry, se ouers het haar na 'n afdelingswinkel vernoem: die ou Halle-gebou in Cleveland in die deelstaat Ohio, waar die Halle Brothers-afdelingswinkel was.

Haar groot deurbraak tot die silwerdoek het in 1991 gebeur toe sy Samuel L. Jackson se dwelmverslaafde meisie in Spike Lee se Jungle Fever vertolk het. Sy het ter voorbereiding van die rol vir 10 dae nie gestort nie. "Dis waar (ek het nie gewas nie), vra vir Sam Jackson, hy moes dit ruik!"

Vroeg in die 1990's is diabetes by Halle gediagnoseer. Sy eet vyf mini-maaltye deur die loop van die dag en volg 'n gesonde eetplan en 'n goeie oefenroetine.

Terwyl sy in die 1990's aan die fliek The Last Boy Scout gewerk het, het haar destydse kêrel, Wesley Snipes, haar glo so erg aangerand dat sy 80% van haar gehoor in haar linkeroor verloor het. Halle het dit nie stilgehou nie, want sy sê sy het "nie tyd vir onnoselheid" nie.

Die rok deur die Lebanese ontwerper Elie Saab wat sy in 2002 na die Oscar-toekennings gedra het, het saam met haar elegansie haar die titel van die gewildste uitrusting in die eerste 74 jaar van die gesogte toekennings besorg. Sy's ook met 'n Oscar-beeldjie huis toe sy die eerste swart Amerikaanse aktrise geword het om met 'n Oscar in 'n hoofrol bekroon te word vir haar rol as Leticia Musgrove in die dramafliek Monster's Ball van 2001.

In 2005 is sy deur die Razzies aangewys as die swakste aktrise (Catwoman), en vir die eerste keer ooit sedert iemand hierdie onbenydenswaardige toekenning toegedig is, het Halle vol grasie self opgedaag om haar toekenning persoonlik in ontvangs te neem.

Halle was een van die bekendes wat in Augustus 2013 in die hof geveg het vir die beskerming van bekendes se kinders teen die paparazzi. ’n Maand later is die wet deurgevoer waarvolgens dit 'n misdaad vir teisterende fotograwe, oftewel paparazzi, is om 'n kind van bekendes af te neem (foto's en video). Oortreders kan 'n boete van $1 000 of tronkstraf van 'n jaar opgelê word.

Bronne: eonline.com, inquisitr.com, kwbe.com, ohfact.com, 10-facts-about.com