Sy’s koel verby en kielie die lagspiere met haar skreeusnaakse manewales wat sy so gereeld vasvang en met haar meer as 187 000 Instagram-volgelinge deel. Nadia Jaftha (25), ’n Kaapse model, sangeres, blogger en sosialemediaster, woeker omtrent met haar talente.

Ons het by haar gaan inloer.

Vertel ons meer oor jou grootwordjare en passie vir video’s maak.

Ek het in Port Elizabeth grootgeword en in my laaste paar jaar op laerskool na Kaapstad verhuis. Ek was nog altyd lief vir drama en was betrokke by skoolopvoerings en toneelstukke.

Ek het toe mediastudie aan die Universiteit van Kaapstad studeer.

Ek het ook ’n beurs ontvang om vir my meestersgraad aan die New York Film Academy te studeer, wat ek nog van plan is om te doen.

When you need to pee but you’re trying to be cute ??

A post shared by Nadia Jaftha (@nadiajaftha) on

Ek het net altyd geweet ek wil nie ’n nege-tot-vyf-werk hê nie. Vandat ek klein was, wou ek altyd op die een of ander verhoog wees en ek het my toe tot sosiale media gewend om my handelsmerk te ontwikkel.

Jy is van blogger na vlogger en toe ’n beïnvloeder. Hoe het dié oorgang gebeur?

Ek het in 2015 begin met blogging, waar ek my inhoud en foto’s beplan het en ook baie inspirerende inskrywings aanlyn gemaak het.

Ek het my kleredragidees en skoonheidswenke gedeel. Later kon ’n mens video’s op Instagram deel en ek het dit begin geniet om video’s van modes en snaakse dinge te plaas.

Dit het daartoe gelei dat ek op YouTube begin vlog het oor wat ek op ’n spesifieke dag doen. Hoe groter jou gehoor, hoe groter jou invloed in die sosiale media.

Facts??‍??

A post shared by Nadia Jaftha (@nadiajaftha) on

Het jy al vreemde interaksies met jou aanhangers gehad?

Ja, beslis. Ek het al video’s van my broer, Taariq, se kinders opgelaai en dan het mense hulle voorgekeer en gevra om ’n foto saam met hulle te neem, want hulle dink dis my kinders.

So ek plaas nou minder foto's van hulle, want ek is aanspreeklik vir dit wat ek oplaai.

Waar kom jou inspirasie vir die inhoud van jou video’s en inskrywings vandaan?

Ek kry baie van my inspirasie wanneer ek saam met my vriende uithang.

Ons sal byvoorbeeld oor iets praat of iets snaaks sal gebeur en ek dink outomaties: “Dis ’n fantastiese idee vir ’n video!”

Be a circle in a room full of squares

A post shared by Nadia Jaftha (@nadiajaftha) on

Ander kere sal ek iets snaaks in die sosiale media sien en die idee aanpas om dit meer “ek” te maak. Ek doen self die redigering vir my foto’s en video’s as dit nie ’n professionele fotosessie of opname is nie.

Wie ook al saam met my uithang, is die fotograaf van die dag en moet die perfekte foto’s van my kiek.

@lindylinsmakeup ??

A post shared by Nadia Jaftha (@nadiajaftha) on

Enige raad aan tieners wat hul eie inhoud in die sosiale media wil deel?

Aanvanklik het ek begin deur ander mense se idees te verander sodat mense makliker aanklank daarby kon vind.

Hulle het daarvan gehou omdat hulle dit nog nie gesien het nie.

Ek dink dis belangrik – dit is goed om deur ander geïnspireer te word, maar my raad is om te begin deur op jou eie belange te fokus en jou eie formule te skep wat vir jou werk.

Jy sal dan volgelinge kry omdat mense wil sien wat jy sê, wat jou siening is en hoe jy dink. Jy lyk altyd gelukkig op jou foto’s en video’s.

Het jy ooit ’n slegte dag, en hoe hanteer jy negatiewe kommentaar aanlyn?

Baiekeer kan ek dit net afskud, maar daar is dae dat dit ’n mens nogal swaar tref. Op sulke dae bring ek gewoonlik baie tyd saam met my gesin deur.

Nadia en haar ma, Nawal. Foto: Instagram

En jy sal weet wanneer ek omgekrap is, want my ma sal daaroor aangaan of in die sosiale media iets daaroor sê.

????‍??

A post shared by Nadia Jaftha (@nadiajaftha) on

Wat wil jy graag met jou titel as sosialemediabeïnvloeder bereik?

Ek hoop om ’n soort nalatenskap agter te laat, of dat mense my sal onthou vir my persoonlikheid en die positiewe invloed wat ek op die gemeenskap uitgeoefen het met die werk wat ek doen.

Vertel ons van jou ander belangstellings en projekte

Die mooi deel van dit wat ek doen, is om inhoud te kan skep oor enigiets waaroor ek passievol voel, sonder beperkings.

Verlede jaar was my passieprojek om my liedjie, Paradise, uit te reik.

Dit was so ’n ongelooflike ervaring en nou soek my aanhangers nog. (Hou dus hierdie ruimte dop!) Ek is ook mal oor die buitelewe en reis na nuwe plekke, veral saam met my ma en vriendin Lindy Lin.

Die Filippyne, Italië en Libanon is almal op my lys van gunstelinge. Ek is ook ’n effense tomboy – ek ry amper elke dag branderplank.

Wie is jou gunstelingvloggers?

Internasionaal is dit Casey Neistat en plaaslik beslis Qaanita Orrie, Aqeelah Harron, Paula Bee, Cynthia Gwebu . . . die lys gaan aan.

Daar is so baie fantastiese Suid-Afrikaanse vloggers wat baie moeite doen met hul werk.

That investigator friend..

A post shared by Nadia Jaftha (@nadiajaftha) on

Nadia sê

  • Ek is die dankbaarste vir my ma.
  • As ek ’n blom was, sou ek vir seker ’n sonneblom gewees het.
  • Ek sal graag ’n dag lank die aktrise Emma Stone wil wees.
  • Ek kan nie sonder sonskerm klaarkom nie.
  • Voor ek gaan slaap, smeer ek Vicks aan my lippe.
  • My modesin is iets wat altyd verander en hang van my bui af. Ek kan van supermeisie na tomboy na ekstra verander wanneer ek wil.