Cobus (29), wat deesdae vir die Northampton Saints in Engeland uitdraf, het onlangs sy seun, Righardt, aan sy meer as 23 000 Instagram-volgelinge bekend gestel. Die kleinding is op 15 Maart gebore.

"Hy’s hier en hy’s perfek," het dié trotse pa by ’n foto van sy bulletjie geskryf. Op die kiekie, wat omtrent die hartsnare roer, hou Righardt met sy handjie sy pa se pinkie vas.

View this post on Instagram

He's here and he's perfect. ??

A post shared by Cobus Reinach (@cobus.reinach) on

Cobus en sy vrou, Frances (29), het besluit om hul eersteling na hul pa’s te noem. Hul kleinding se volle naam is Righardt Christian Jacobus Reinach. Hy is genoem na Cobus se pa, die oud-Springbok Jacobus Reinach, en Frances se pa, Christian.

"Hy is so ’n easy-going, stil en soet seuntjie," vertel Cobus uit Northampton in Engeland aan Huisgenoot.

"Ons wens vir hom is dat hy sal groei om alles te wees wat hy kan wees, ’n gelukkige lewe sal lei, maar veral geluk op ’n betekenisvolle wyse sal vind."

Pa en seun geniet 'n spesiale oomblik. Foto: Verskaf
vaderskap,baba,liefde
Cobus is omtrent in sy noppies oor vaderskap. Foto: Verskaf

En hy is omtrent opgemaak met sy nuwe rol as pa. "Ek is nog nie eens ’n volle week ’n pa nie, maar dis ongelooflik! Ek dink dis die grootste motivering wat ek al ooit gehad het.

"Ek het ’n ongelooflike vrou en ons het nou ’n ongelooflike seuntjie, en dis vir hulle twee vir wie ek die trotsste wil maak." 

Righardt Christian Jacobus Reinach is op 15 Maart gebore. Foto: Verskaf
ma,seun,liefde
'n Liefdevolle oomblik tussen ma en seun. Foto: Verskaf

Cobus praat net met lof van Frances, ’n sakevrou. Hy en Righardt kon nie vir iemand beter in hul lewe gevra het nie, sê hy. 

“Wanneer dit by mense kom vir wie sy lief het, is daar nie ’n berg wat sy nie sal klim nie. Ek weet die manier waarop sy na my kyk, my liefhet en ondersteun gaan sy ook vir hom doen."

Die paartjie, wat op 11 April hul tweede huweliksherdenking vier, het in 2017 vanaf Durban na Northampton in Engeland verhuis sodat Cobus daar sy rugbyloopbaan kan voortsit. 

Volgens Cobus was dit ’n groot aanpassing op ’n persoonlike en professionele vlak. "Ek en Frances was baie gelukkig in Durban. Suid-Afrika sal altyd ons huis wees, maar alles het ’n tyd en nou geniet ons hierdie hoofstuk en die uitdagings wat daarmee saamkom," sê hy.

"Frances gaan gereeld Suid-Afrika toe vir werk en ons bring my afseisoene daar deur; so dit gaan vir Righardt lekker baie tyd in SA gee. Dis vir ons belangrik dat hy ook met die Suid-Afrikaanse kultuur grootword." 

Cobus floreer in sy nuwe span. Hy is in Desember as die Gallagher Premiership-rugbytoernooi se speler van die maand aangewys.

View this post on Instagram

?????? its been a good weekend. @redhatphotodotcom

A post shared by Cobus Reinach (@cobus.reinach) on


Cobus was ook deel van die Northampton Saints-span wat vanjaar vir die eerste keer die Premiership Rugby-beker verower het, toe hulle Saracens, wat uit veel jonger spelers bestaan het, met 23-9 geklop het. 

So het Cobus in 2013 oor sy Bok-drome met Huisgenoot gesels

Hoewel Cobus in 2015 laas vir die Springbokke teen Argentinië uitgedraf het, koester hy steeds die droom om in vanjaar se Wêreldbekertoernooi in Japan vir die Bokke te speel.

Maar vir eers is sy gesin sy grootste prioriteit. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp, en teken in op ons nuusbriewe.