Akker en Angie van der Merwe kort na AJ se geboort
Akker en Angie van der Merwe kort na AJ se geboorte. Foto: Verskaf

Akker draf sedert 2019 vir die Engelse Premierliga-span Sale Sharks uit. Hy en sy gesin woon in Manchester in Engeland. Akker en sy vrou, Angie, is reeds die ouers van 'n driejarige seuntjie, Anrich. 

Die jongste toevoeging tot hul gesin heet Armand. Die kleinman is vernoem na sy pa, Akker, wat eintlik Armand heet.

Klein Armand het sy ouers vroeër verras. 

“Die plan was om AJ op 12 April met ’n keisersnee uit te haal omdat hy met sy kop na bo en boudjies na onder gelê het. In die Verenigde Koninkryk wag hulle tot op 39 weke voor die baba uitgehaal word as gevolg van gesondheidsrisiko’s,” vertel Angie (28).

Tog is sy ouers baie bly hy het besluit om so 'n bietjie vroeër te kom. Dit gaan baie goed met ma en seun nadat hulle 24 uur in die hospitaal deurgebring het. 

“AJ is die teenoorgestelde baba as wat Anrich was. Hy is baie rustiger, en dis lekker om so vinnig weer by die huis te wees,” verklap Angie. 

AJ is baie rustiger as sy ouboet Anrich vertel Ang
AJ is baie rustiger as sy ouboet Anrich, vertel Angie. Foto: Verskaf

Anrich is 'n trotse ouboet.

“Hy sê vir AJ hy is baie lief vir hom en hulle gaan beste maatjies wees. Hy help baie rondom die huis ook en selfs om boetie se doek om te ruil. Ek kan nie vir Here genoeg dankie sê vir so ’n mooi seuntjie nie,” koer Angie liefdevol oor haar eersteling. 

Akker en sy twee jong manne. Foto: Verskaf
Akker saam met sy twee seuns. Foto: Verskaf

Die aanvanklike plan was nie om AJ na sy hakerpa te vernoem nie. 

“Ons het lank gevat om op name te besluit. Toe besluit ons om te wag tot wanneer hy hier is. Toe ek hom sien toe sê ek dis Akker se tweeling. Hy is net so ’n vegter soos sy pa, en daarom het ons besluit op Armand jr.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe