Tog spog Le Roux van Vuuren, ’n voormalige deelnemer aan die kykNET-kookprogram Kokkedoor, vandag weer met ’n gladde vel en ’n skitterwit glimlag.

Hy is een van die 13 deelnemers wat in die VIA-werklikheidsreeks Dr. Nou, ’n transformasie ondergaan het. Die episode van sy oormaaksessie is Donderdagaand op VIA uitgesaai.

Le Roux het in Augustus 2018 deur die nag vanaf Pretoria na Bloemfontein gery om melkterte af te lewer waarmee hy geld vir sy seun, CJ, se droom-rugbytoer na Nieu-Seeland wou insamel.

Die ongeluk het in die vroeë oggendure plaasgevind toe Le Roux vir ’n paar sekondes aan die slaap geraak het. Die motor het die pad verlaat en gerol. 

Merke wat deur sy ongeluk in 2018 veroorsaak is
Merke wat deur sy ongeluk in 2018 veroorsaak is.

Hy het in die proses sy bekken gebreek en moes vir vyf weke lank in die hospitaal aansterk. Hy moes bykans ook weer van vooraf leer loop. 

Le Roux was in Augustus 2018 in 'n ernstige motoro
Le Roux was in Augustus 2018 in 'n ernstige motorongeluk en moes vyf weke lank in die hospitaal aansterk.

"As dit by jou kinders kom moet jy moed bymekaar skraap ongeag die omtandighede," vertel Le Roux. "Al was dit moeilik, wou ek seker maak dat ek my kinders wys dat ek goed gaan herstel. Jou kinders leer by jou en dis ’n ouer se verantwoordelikheid om nie op te gee nie.”

Le Roux is ’n man wat hou van lag, maar ná die ongeluk was hy selfbewus oor hoe sy tande lyk. Sy tienerdogter, Ella, het hom gedurig herinner dat hy sy hand voor sy mond moet sit as hy lag omdat so baie van sy tande uit was. 

"Soms is die lag so lekker dat ek skoon vergeet het my mond is oop en my tande wys,” vertel Le Roux. Hy wou weer vol selfvertroue kan lekker lag. 

Sy kinders was ’n groot rede waarom hy besluit het om vir Dr. Nou in te skryf, vertel Le Roux. Hy wou nie hê dat sy uitgebreekte tande ’n verleentheid bly vir sy dogter is nie.

"Ek wou nie hê sy moet haarself skaam vir haar pa nie," verduidelik Le Roux. 

Dr. Riekie Smit, ’n plastiese chirurg, werk aan Le
Dr. Riekie Smit, ’n plastiese chirurg, werk aan Le Roux se gesig.

In die episode het dr. Riekie Smit, ’n plastiese chirurg van Pretoria, die merke wat die ongeluk op Le Roux se gesig gelaat het met laserbehandeling behandel, terwyl die tandarts dr. Jurgens Grové, wat in Bryanston praktiseer, aan sy tande gewerk het. 

Die merke op sy gesig word behandel.
Die merke op sy gesig word behandel.

Hy het sy nuwe voorkoms gedurende 'n oggendtee aan sy naaste mense ontbloot. Die eindresultaat van sy transformasie het nie net vir Le Roux nie, maar ook sy dogter in trane gehad.

Trane van blydskap vloei nadat hy 'n transformasie
Trane van blydskap vloei nadat hy 'n transformasie ondergaan het.

"Met Le Roux se inskrywing was sy liefde vir sy kinders duidelik en dit is wat hom laat uitstaan het, sê Henck Conrey, die aanbieder en vervaardiger van Dr. Nou. "Sy storie het my aangegryp. Dit laat my elke keer met ’n knop in die keel wanneer die deelnemers hulself sien nadat die behandeling gedoen is en die trane oor hul nuwe voorkoms begin rol."

Le Roux se passie ken geen einde nie. Hy het op 6 April begin met ’n staptog van 1 500 km van Vanderbijlpark in Gauteng na Kaapstad. Hy is nou twee weke op die pad. Die tog is om geld vir traumabehandeling vir leerders van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark in te samel. Volgens sy Facebook-blad loop hy vir hoop, aksie en genesing. 

Le Roux se naaste mense sien sy nuwe voorkoms.
Le Roux se naaste mense sien sy nuwe voorkoms.

Altesaam vier leerlinge is dood en 22 beseer toe ’n loopbrug op Vrydag 1 Februarie ineengestort het. Indien alles volgens plan verloop, beplan hy om in Mei in Kaapstad te arriveer. 

Omdat hy self ’n ernstige ongeluk oorleef het en erge pyn ervaar het, wil hy mense wat deur moeilikhede gaan verenig, maar hulle ook bemoedig om op te staan en vorentoe te beweeg.

Le Roux saam met sy kinders.
Le Roux saam met sy kinders.

"As jy val en seerkry, staan jy weer op en loop," sê Le Roux.

Al het hy self ’n bietjie geval, het hy opgestaan en loop hy nou letterlik en figuurlik vorentoe.