Danielle en AB de Villiers se derde kleinding is h
Danielle en AB de Villiers se derde kleinding is hier. Foto: Kevin Mark Pass Photography

Die egpaar, wat reeds twee ouer seuntjies, AB (5) en John (3), het, het op 11 November vir klein Yente in die wêreld verwelkom. Danielle en AB het albei Donderdag die nuus in die sosiale media verklap. 

“Op 11-11-2020 het ons ’n pragtige babadogter in die wêreld verwelkom,” skryf Danielle op Instagram by ’n foto van haar en AB met hul nuwe kleinding.

“Yente de Villiers, jy is die perfekte toevoeging tot ons gesin en so ’n seëning. Ons is oneindig dankbaar vir jou. Genade onbeskryflik groot. Dankie Here,” sluit sy die inskrywing af. 

View this post on Instagram

A post shared by Danielle de Villiers (@danielledevilliers)

Danielle het in Oktober vanjaar aan Huisgenoot vertel dat haar derde swangerskap ’n bietjie moeiliker as die vorige twee was. 

“Maar om te weet wat op ons wag, maak alles die moeite werd,” het sy toe laat hoor. 

Die gelukwensinge het vanuit krieketgeledere ingestroom nadat AB en Danielle hul dogtertjie aangekondig het. 

Die model Kerry McGregor, wat met die voormalige Protea-kolwer Neil McKenzie getroud is, het ’n string geel hartjies in die kommentaarafdeling van Danielle se inskrywing gelos. 

Imari du Plessis, wat met AB se goeie vriend en gewese Protea-spanmaat Faf du Plessis getroud is, het laat hoor: “Baie geluk, julle. Mag sy vir julle baie vreugde bring.” Imari en Faf het self in Augustus vanjaar hul tweede dogtertjie, Zoey, verwelkom. 

Die oud-Binnelanders-ster Pascal Pienaar het op haar beurt geskryf hoe versot sy op AB en Danielle se dogtertjie se naam is. “Baie geluk, AB en Danielle. Yente is die mooiste naam,” het Pascal laat hoor. 

AB het aan die begin van November na Suid-Afrika teruggekeer uit die Verenigde Arabiese Emirate waar hy vir die Royal Challengers Bangalore in vanjaar se Indiese Premierliga gespeel het. Die span het vierde op die punteleer geeïndig, maar kon ongelukkig nie deurdring tot die finale uitspeelrondes nie.  

Die span het ook in hul staatmaker-kolwer se vreugde gedeel deur AB se inskrywing op hul eie Instagram-profiel te deel. 

“Geluk aan Danielle en AB de Villiers met die geboorte van hul babadogter, Yente.

“Yene barali RCB . . . Yente irali RCB,” het die span hul inskrywing afgesluit, met verwysing na die spanlied wat AB en sy RCB-spanlede vanjaar gebruik het. 

AB, wat ’n paar jaar gelede ook ’n sangloopbaan van stapel gestuur het, sing die spanlied saam met die Indiese kolwer Virat Kohli. Die frases “Yene barali” (wat ook al mag kom) en “Enthe irali” (wat ook al mag wees) kom uit die Kannada-taal uit die suidweste van Indië waar Bangalore geleë is.  

AB het boonop onlangs die liedjie "The Flame" saam met Karen Zoid en die Ndlovu-jeugkoor uitgereik.

Ekstra bron: thenewsminute.com