Alise was op 14 Junie nog besig met haar 39 week-skandering toe die dokter sien dat sy in ’n vroeë kraamstadium is.

Sy is daarna dadelik in die St. George’s-hospitaal in Gqeberha opgeneem. “Die volgende middag was ons perfekte en gesonde Harper gebore,” vertel Alise aan Huisgenoot.

JJ en Alise se dogtertjie is met ’n keisersnee in die lewe gebring.

JJ Engelbrecht en sy vrou, Alise, met hul skattige kleinding. Foto: Verskaf
JJ Engelbrecht en sy vrou, Alise, met hul skattige kleinding. Foto: Verskaf

Haar trotse ma vertel dit was onbeskryflik om klein Harper vir die eerste keer vas te hou.

“Dis in daardie eerste sekondes wat ’n mens ervaar en beleef hoe groot die Here is en hoe genadig en getrou Hy altyd is,” vertel Alise.

“Dit was ’n wonderlike dag van opwinding, afwagting en avontuur. Die hospitaalpersoneel en my dokter was wonderlik.

“Dit was ’n baie spesiale ervaring en ’n geseënde twee dae in die hospitaal.”

Volgens Alise was Harper nog net ’n plesier sedert hulle teruggekeer het na hul huis in die Oos-Kaap.


“Sy is werklik die soetste baba. Ons is ongelooflik geseënd. Sy huil baie min — eintlik net as ons moet doek ruil,” sê Alise.

Verder slaap Harper soos ’n droom, koer sy oor haar “engelkind”.

JJ se eerste Vadersdag was geseënd, vertel sy. Harper was veronderstel om op dié dag haar opwagting te maak, maar het eerder besluit om hulle ’n bietjie vroeër te verras, verklap Alise.

“Al vier oumas en oupas, asook Harper se ooms en tannies was hier by ons huis vir ’n heerlike familiebraai en feesviering.”

Dit was ’n baie spesiale dag vir JJ en die res van die familie, sê Alise.

JJ het self sy dogtertjie se naam gekies. “Ons het ’n lys name gehad wat ons oor die tyd neergeskryf het en toe ons uitvind ons verwag ’n dogtertjie was daar net die een opsie,” vertel sy.

Volgens Alise verwys Harper na “harpist”, die Engelse woord vir ’n harpspeler. Sy haal 2 Konings 3:15 aan. Die teksvers lui: “Maar bring nou vir my ’n harpspeler. En toe die harpspeler op die snare speel, het die hand van die Here op hom gekom.”

Sy haal ook Openbarings 14:2 aan, wat lui: “En ek het ’n geluid uit die hemel uit hoor kom wat soos die gedruis van ’n groot watermassa en soos die gedreun van swaar donderweer geklink het. Die geluid wat ek gehoor het, was ook soos dié van siterspelers wat op hulle siters speel.”

Alise sê hulle glo dat Harper altyd die Here se teenwoordigheid sal bring en mense sal aanraak met Sy liefde wat deur haar straal.

Haar tweede naam, Rei, beteken “pragtig, gesofistikeerd, lieflik en elegant” in Japanees, sê Alise

JJ en Alise se stroopsoet engelkind, Harper Rei, l
JJ en Alise se stroopsoet "engelkind", Harper Rei, lê snoesig in haar kot. Foto: Verskaf

Die paartjie sien uit na hul lewenspad saam met hul kleinding.

“Ons is baie geseënd met ’n gesonde, stroopsoet dogtertjie en sien daarna uit om hierdie kosbare tyd saam met haar te deel,” vertel sy. “En ook om hierdie tyd saam met familie en vriende deur te bring.”

JJ en Alise het mekaar die eerste keer in 2014 in ’n restaurant op Stellenbosch ontmoet en vyf jaar later, in Januarie 2019, afgehaak.

JJ het verlede jaar van Japan af teruggekeer waar hy vir die Japannese Sunwolves-klubspan uitgedraf het.

Hulle woon deesdae op ’n plaas in die Oos-Kaap.

Hulle sien nou uit na ’n nuwe hoofstuk: hul nuwe rol as ouers.

Die laaste keer toe Huisgenoot met die egpaar gesels het, kon hulle nie wag vir klein Harper se koms nie.

“Ons kan nie wag om te sien hoe sy gaan lyk, wat haar persoonlikheid is en waarvan sy gaan hou en nie gaan hou nie,” het Alise toe aan Huisgenoot gesê.

“Ek sien daarna uit om my eie beste maatjie te kry en vir haar die beste moontlik te kan leer en bied vir die groot wêreld waarin sy binnekort sal tree,” het Alise destyds vertel.

As pa kon JJ nie wag om 'n “onafhanklike, selfversekerde dogter met integriteit en diep Christelike waardes” groot te maak nie. 

En nou kry hulle eindelik hierdie kans met dié dat hul gesin nou tot drie uitgebrei het.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.