DIE WINCKLERS

Die sanger Heinz Winckler laai soggens sy drie seuns, Lian (10), Simeon (8) en Reuben (6), by hul skool op Somerset-Wes buite Kaapstad af.

View this post on Instagram

Going back to school like...

A post shared by Heinz Winckler (@heinz.winckler) on

“Dit was hoog tyd. Ons het omtrént vreugde en vrede in die huis gehad,” vertel Heinz se vrou, Aletté-Johanni, oor hul seuns se eerste skooldag. Lian en Simeon is onderskeidelik in gr. 4 en 2, en by hul skool gaan leerders tans in alfabetiese volgorde skool toe.

“Dié met vanne wat met A tot M in die alfabet begin, gaan van agt- tot elfuur skool en die res van twaalfuur tot drieuur. Ek was nog nooit so bly dat my van Winckler is nie,” spot die ma van vier.

LEIGHMEN MARSHALL

Dié 12-jarige akteur, wat Quinton in die sepie Suidooster speel, is tans ’n gr. 6-leerder aan ’n skool op Malmesbury in die Wes-Kaap.

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

“Ek het my vriende en die skool gemis. Ons het aanlyn geleer, maar dis nie dieselfde nie,” sê Leighmen. Hy mis dit om met sy maats te speel, naby aan mekaar te staan en potlode oor en weer te leen. “Al is niks meer dieselfde nie, wens ek ons kon net ’n gewone dag by die skool hê om weer lekker te speel.”

VIAN SINGLETON

Vian (14) is ’n gr. 9-leerder aan ’n hoërskool in Braamfontein, Johannesburg.

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

“Ek is ongelooflik trots op my skool en hoe covid-19 bestuur word,” vertel die akteur, wat Thomas in 7de Laan speel.

“Ons is ten volle op datum wat akademie betref te danke aan proaktiewe e-skool wat van dag een af tydens die inperking aangebied is,” vertel hy. “Ek mis sport en veral rugby en atletiek, wat my gunstelingsportsoorte is. Dan is daar ook redenaars, tienertoneel en verskeie ander kultuuraktiwiteite wat afgestel is vir die jaar.”

TIM THERON

Die akteur en regisseur Tim Theron se dogtertjie, Sophia (5), het ook onlangs na haar skooltjie op Stellenbosch teruggekeer.

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

“Sy het daarna uitgesien om weer haar juffrou en maatjies te sien,” vertel Tim. Hy en sy vrou, Juanli, het ook ’n seuntjie, Migael (3).

“Dit was beslis ’n aanpassing om ná maande weer terug te keer skool toe, want haar wêreld was vir ’n oomblik baie klein en sy het elke dag net vir ons gesien. Die begin van skole is ’n baie goeie en gesonde normalisering, veral vir kinders. Elke dag kan jy sien hoe sy dit meer geniet.”