MARIJKE VAN DER WESTHUIZEN 

marijke van der westhuizen,aktrise,getroud met rug
Marijke van der Westhuizen en haar metgesel Ernst Joubert. Foto: Verskaf

Marijke was mal oor haar matriekafskeidrok. Hier poseer sy saam met haar broer, Werner Maree, voor die geleentheid in 2001.

Die Getroud met rugby-aktrise onthou hoe potblou haar arme metgesel, Ernst Joubert, se tone deur haar matriekafskeidrok geslaan is. 

“Die ontwerper het sinkers in die soom gesit om dit reg te laat hang,” vertel sy. 

“Elke keer wanneer ons gedans het, het die sinkers sy tone getref!” 

Die oudleerder van die Hoërskool Witteberg op Bethlehem het alles baie geniet – tot byna aan die einde: “My rok het mooi gehou tot ons op pad na die ‘afterparty’ was. Toe breek een van die deursigtige bandjies en ek kon dit nie red nie! Ek het gelukkig ander klere vir die ‘after­party’ gehad.”

SHIMMY ISAACS 

shimmy isaacs,aktrise,komediant
Shimmy Isaacs. Foto: Verskaf

Blou is haar gunstelingkleur; daarom het sy ’n moulose babablou rok met “sulke grys vere” na haar matriekafskeid in 1999 gedra, vertel die aktrise en komediant Shimmy Isaacs. 

“Ek het op Worcester grootgeword en gedink ek is ‘fashion forward’,” spot die Knapsekêrels-ster. 

Die grappige matrikulant van Worcester Gimnasium het die aand saam met haar vriende geniet, maar as sy wel iets kon verander, sou sy ’n ander metgesel wou saamneem.

“Hy was ’n vriend van my, maar het nie lank gebly nie en toe na sy meisie toe gegaan,” sê sy.

Dit is dus haar raad aan vanjaar se matrikulante: Kry ’n metgesel wat die hele aand na jou sal kyk.

MARGUERITE VAN EEDEN 

marguerite van eeden,aktrise
Marguerite van Eeden. Foto: Verskaf

Die hoogtepunt van haar matriekafskeid was om die hele aand saam met haar vriende deur te bring, onthou die aktrise Marguerite van Eeden, wat in 2015 aan die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl gematrikuleer het. 

Sy en haar ma het ’n pragtige tweedehandse rok gekry waarvan sy die rugkant laer laat maak het.

“Ons hoor toe by die winkel dit was nogal Mej. Matie­land van 1996 se rok vir haar kroningsaand!” vertel Marguerite, wat in Februarie in Huisgenoot en kykNET se tweede fliek, Vergeet my nie, te sien is. 

“Die hoogtepunt van my aand was dat ek as hoofmeisie ’n bottel sjampanje met ’n swaard kon oopbreek. Ek het dit nie die eerste keer reggekry nie, maar wel die tweede keer.”

ROELINE DANEEL 

roeline daneel,aktrise
Roeline Daneel en haar vriendin ­Ingrid Lezar. Foto: Verskaf

“Matriekafskeid was destyds ’n baie kleiner gedoente as nou,” vertel Roeline Daneel. 

Dié Fynskrif-aktrise het in 2003 aan die Hoër Meisieskool Bloemhof op Stellenbosch gematrikuleer. 

As sy vandag iets kon verander, sou haar rok minder oranje en blink wees en haar hare nie in “so ’n stywe, formele updo” gedoen wees nie.

“My kerngroep vriendinne en ons ouers het vooraf by die Spier-wynlandgoed net buite Stellenbosch drankies gedrink. Dis die deel wat ek die beste onthou,” sê sy. 

“Ons het lekker gelag en gesels, en ek het vir die eerste keer gesien hoe iemand ’n bottel vonkelwyn met die sabrage-tegniek met ’n swaard oopmaak.”

Op die foto poseer sy saam met een van haar vriendinne, Ingrid Lezar.

ANSU VISSER 

ansu visser,aktrise
Ansu Visser. Foto: Verskaf

Sy het ’n baie spesifieke idee vir haar matriekafskeidrok gehad, sê die aktrise Ansu Visser oor haar matriekafskeid aan die Hoërskool Die Wilgers in Pretoria. 

Maar die eindproduk het dié idee ongelukkig nie heeltemal weerspieël nie. 

“Die enigste ding wat reg was, was die kleur en die ‘strappies’!”

Die kos wat voorgesit is en haar metgesel is van die dinge wat haar bybly van die aand. 

“Hy was ‘amazing’. Ons het so lekker gedans en dit was so gemaklik saam met hom,” vertel Ansu oor die afskeid saam met een van haar beste skoolvriende. 

As sy die aand in 2010 vandag kon oorhê, sou sy langer by die matriekafskeid self gebly het en nie so vroeg na die afterparty gegaan het nie.

En haar raad aan vanjaar se matrikulante?

“Geniet dit! Dit is ’n ‘big deal’, maar dit is nie jou troue nie. So ‘chill’ uit daaroor.”

matriek,matriekafskeid
Foto: Verskaf
Pronk in Huisgenoot!
Wil jy jou matriekafskeidfoto’s in Huisgenoot sien? 

As jy in 2019 in matriek is en jou matriekafskeid vanjaar vier, stuur jou matriekafskeidfoto’s na matriekafskeid@huisgenoot.com

Alle matrikulante van 2019 en hul ouers kan foto’s stuur. Ons wil ’n keur van die foto’s op die Local Is Lekker-blaaie in die tydskrif plaas. 

Sluit die volgende inligting by jou e-pos in: jou naam en van, jou metgesel se naam en van, asook jou skool se naam. 

Deur foto’s in te stuur gee jy vir Huisgenoot toestemming om die foto’s in die tydskrif of op ons webtuiste te publiseer. 

SLUITINGSDATUM: 5 NOVEMBER 2019
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.