Die donkerkopskoonheid, wat in 2017 as Mej. Suid-Afrika en Mej. Heelal gekroon is, was een van die beoordelaars by vanjaar se Mej. Suid-Afrika-kompetisie.

Die geleentheid het op Vrouedag by die Sun International se Sun Arena by Time Square in Pretoria plaasgevind.

 Demi-Leigh het op die kroningsaand in ’n poeierblou-skepping deur die ontwerper Anel Botha geskitter.

Sy het ook van haar tyd in Suid-Afrika gebruik gemaak om ’n spesiale kombuistee saam met geliefdes te vier.

“Wat ’n ongelooflike reis is dit om amper ’n bruid te wees. Aan albei my mammas, julle het my kombuistee ongelooflik spesiaal gemaak, maar in werklikheid het julle elke dag van my lewe spesiaal gemaak deur dit met moederlike liefde, guns en leiding te vul. Ek wil hê julle moet weet soos wat ek regmaak om die ja-woord te gee, sal ek nooit my liefde vir julle ontgroei nie,” het die skoonheid op Instagram geskryf met pragfoto’s van haar spesiale dag. 

Sy het op die dag nehoorlik gestraal in ’n roomkleurige rok met ’n blommekroon. 

Die voormalige Mej. SA en Mej. Wêreld Rolene Strauss het ook later foto’s van Demi-Leigh se spesiale dag in die sosiale media gedeel. 

“Jy gaan die mooiste bruid wees. Mag die Here jou so seën in hierdie tyd, geniet elke oomblik," skryf sy.

Die voormalige Mej. Suid-Afrika Melinda Bam en die skoonheidskompetisieafrigter Werner Wessels was ook onder die gaste. 

Demi-Leigh se pa, Bennie Peters, en stiefma, Elzabé Peters, het ook foto’s van hul dogter se spesiale dag gedeel en geskryf: “Demi se kombuistee. Die aftelling tot die groot dag het amptelik begin.”

Haar ma, Anne-Mari, en stiefpa, John Steenkamp, was ook onder die gaste.

Demi-Leigh het in Januarie vanjaar aan die sportster Tim Tebow (31) verloof geraak. 

Hy is ’n voormalige Amerikaanse voetbalspeler wat nou bofbal speel vir die Syracuse Mets.

Die skoonheid het kort voor haar vertrek uit New York na Suid-Afrika aan Huisgenoot verklap dat sy druk besig is om haar troue te beplan.

Dit sal in volgende jaar wees, maar waar en wanneer is nog ’n digbewaarde geheim. 

Volgens Demi-Leigh neem die beplanning van hul troue sowat 90% van haar tyd in beslag. 

“Ek is dol oor elke oomblik van die beplanningsproses. Dit is soveel pret. Ek het nooit gedink daar is soveel detail aan ’n troue verbonde nie, maar ek is dankbaar vir ’n ongelooflike troubeplanner wat my bystaan en help om lewe aan al my idees te gee,” het sy vertel. 

“Om vir hierdie hoofstuk as huweliksmaat voor te berei is ’n groot verantwoordelikheid en een waarna ek elke dag uitsien,” voeg sy by. 

“Ek is opgewonde om my lewensdoel saam met Tim uit te leef. Die wete dat ons albei oor dieselfde dinge in die lewe passievol is, is besielend.”