Die voormalige Mej. Suid-Afrika en Top Billing-aanbieder sal in Junie nege maande swanger wees.

Jo-Ann en haar man, die ortopediese chirurg dr. Michael Held, verwag hul derde kind in ’n tydperk van vier jaar. Hulle is reeds die ouers van ’n seuntjie en ’n dogtertjie. 

Die afwagting is duidelik nie net tot die ouers beperk nie, want Jo-Ann se vriende en familie het Maandagoggend haar ooievaarstee saam met haar gevier. 

Haar vriendin die Kwêla-aanbieder Minki van der Westhuizen het op Instagram ’n foto van haar ooievaarstee gedeel en daarby geskryf: “Dankie, liefste Jo-Ann Strauss, vir die mooiste oggend.”


Dankie liefste @jo_annstrauss vir die mooiste oggend!!!

A post shared by Minki vd Westhuizen (@minkivanderwesthuizen) on

Die geleentheid het in die Belmond Mount Nelson-hotel in Kaapstad plaasgevind en was ’n deftige affêre, met die mooiste blomversierings en ’n koek wat amper te mooi gelyk het om te eet.

Dit was maklik om uit die foto’s agter te kom dat Jo-Ann weer ’n dogtertjie verwag. Nie net was die koek pienk nie; sy het ook gestraal in ’n pragtige pienk romp met ’n pienk blommekrans op haar kop.

Sy het op Instagram geborrel oor die mooi en spesiale oggend en geskryf: “Wie regeer die wêreld? Vroue! Oor ’n paar weke het ons twee en ook ’n sterk broer om te help om na sy susters om te sien.”