Die Pasella-aanbieder Vicky Davis het onlangs met haar man, die musikant Schalk Joubert, en hul twee kleingoed, Lira (3) en Luca (4 maande) in Sedgefield in die Wes-Kaap uitgespan en dit was die perfekte geleentheid vir die vierstuks om voor die kamera te pryk.

Dié geliefde aktrise, TV-aanbieder en skrywer se skoonsuster Danita het met haar fotograaf-vriendin Louann Waters gereël vir ’n fotosessie een laatmiddag op ’n strand in Plettenbergbaai.

Vicky het met die musikant Schalk Joubert in 2014 getrou. Hulle het twee kinders: Lira (3) en haar vier maande oue bababoetie, Luca. Foto: Louann Waters

Hulle het in Sedgefield met Schalk se suster en sy ouers uitgespan. Dit was veral spesiaal om vir “ouma en oupa met hul vier kleinkinders”, wat Schalk se suster se twee dogtertjies insluit, af te neem sê Vicky. 

Hoewel haar strandvakansie “heeltemal te kort” was, het dit haar genoeg laat uitrus om met nuut uit te sien na al die projekte waarby sy in 2018 betrokke is.

The Cape Town Music Academy, die nie-winsgewende organisasie waarby sy betrokke is, het ook ’n paar groot projekte in die pyplyn. “Die eerste projek is ’n musiekproduksie, ‘Afrika my Verlange / Afrique mon Désir’ met regie deur David Kramer en met Laurinda Hofmeyr, Schalk, en ’n groep sangers en musikante van Wes-Afrika wat by die Woordfees en KKNK gaan wys,” sê Vicky.

“Daarna neem ons die vertoning in Junie vanjaar Frankryk en Nederland toe,” voeg sy by.

Vicky hou ook vanjaar vir die tiende jaar haar lyf Pasella-aanbieder.

“Ek en Schalk en beslis die kids sou nou nog ’n week langs die swembad en by die see kon ontspan,” spot sy.

Hulle het darem nou dié pragtige kiekies om hul vakansie deur hul besige jaar te onthou.

Kyk hier na die mooi foto's:

Die pragtige gesin. Foto: Louann Waters
Vicky en haar kinders, Lira en Luca. Foto: Louann Waters
Vicky en haar man, Schalk Joubert. Foto: Louann Waters