In ’n greep uit die Britse televisiekanaal ITV se dokumentêr Anne: The Princess Royal at 70, help die koningin se enigste dogter, prinses Anne (69), haar om dié manier van kommunikasie te navigeer.

Die 94-jarige koningin en Anne het in Junie ’n video-oproep met van Brittanje se gesondheidswerkers gehad. Weens die coronaviruspandemie en die gevolglike inperking in Brittanje kon die koninklike familie nie soos oudergewoonte hul werk in persoon uitvoer nie. 

In die kort video hoor ’n mens hoe Anne haar bejaarde ma vra: “Kan jy almal sien? Daar behoort ses mense op jou skerm te wees.” Die koningin antwoord dan: “Ja, wel ek kan vier sien.” Waarop Anne laat hoor: “Eintlik hoef jy nie my te sien nie. Jy weet mos hoe ek lyk”. 

Sosialemediagebruikers kon nie genoeg kry van die beroemde ma en dogter se interaksie nie.

“Ek is mal daaroor. Die hele wêreld sukkel met Zoom op dieselfde manier: ‘Kan jy my sien?’, ‘Kan jy my hoor?’, ‘Is ek aan?’, ‘Is my agtergrond netjies en skoon?’ Mal oor hul menslikheid, nederigheid en grasie,” meen een Twitter-gebruiker.

Nog ’n gebruiker, Lizzy Hatton, het laat hoor: “Ons queenie is op zoom! Te oulik.”

Anne het ook op die Internasionale Dag vir Verpleegsters in Mei vanjaar saam met haar ouer broer prins Charles, sy vrou Camilla, die hertogin van Cornwall, Catherine, die hertogin van Cambridge, en haar skoonsuster Sophie, die gravin van Wessex, aan ’n gesamentlike video-oproep deelgeneem om dankie te sê aan verpleegsters vir die belangrike werk wat hulle tydens die covid-19-pandemie doen. 

En terwyl koningin Elizabeth darem al haar hand in 2014 aan haar eerste twiet gewaag het, het haar dogter Anne in die dokkie laat hoor dat sy so ver moontlik van Twitter af wegbly. 

“Ek weet wat Twitter is, maar ek sal nie naby dit kom nie, al betaal jy my ook,” skerts die prinses. 

Die dokkie waaruit die greep kom, is Woensdagaand uitgesaai ter viering van Anne se 70ste verjaardag op 15 Augustus. 

In die dokumentêr praat die prinses, wat al as die hardwerkendste koninklike beskryf is, oor haar gesin en haar liefdadigheidswerk. Haar man, Sir Timothy Laurence, en kinders, Peter Phillips en Zara Tindall, maak ook hul verskyning in die program. 

Anne se kinders het liefdevol vertel van hoe goed sy met haar kleindogters is. 

Peter en sy vrou, Autumn, wat tans besig is om te skei, het twee dogters, Savannah (9) en Isla (8), terwyl Zara en haar man, die voormalige Engelse rugbyspeler Mike Tindall, die ouers is van Mia (6) en Lena (2).

Autumn en Peter Phillips (links) en Zara en Mike T
Autumn en Peter Phillips (links) en Zara en Mike Tindall by die troue van prinses Eugenie en Jack Brooksbank in 2018. Foto: Getty Images/Gallo Images


“Sy hou daarvan om hulle te sien perdry, en om hulle oor te nooi vir middagete op Sondae. Hulle doen al die dinge wat ons as kinders gedoen het,” het Peter (42), wat in sportbestuur werk, gesê. 

“Ons hou daarvan om hulle net daar te los op Sondae. Sy jonger suster, Zara (39), voeg op haar beurt by: "Ons sê net: ‘Totsiens, ons sal die kinders later kom optel.'" 

Anne by haar kleindogters, Isla Phillips, Mia Tind
Anne by haar kleindogters, Isla Phillips, Mia Tindall en Savannah Phillips. Foto: Getty Images/Gallo Images

Bronne: Daily Mail, ITV News, The Guardian, The Telegraph