Die Britse koninklike huis het Vrydagmiddag op hul sosialemediaprofiele die paartjie se troudatum aangekondig. Hulle haak op Vrydag 29 Mei af.

Beatrice, die oudste dogter van die omstrede prins Andrew en sy eksvrou, Sarah Ferguson, het in September verlede jaar in Italië aan Edoardo (37), 'n eiendomsontwikkelaar, verloof geraak.

Beatrice se ouma, koningin Elizabeth, het toestemming gegee dat haar kleindogter en haar Italiaanse verloofde, wat ’n driejarige seun uit ’n vorige verhouding het, by die St. James-paleis in Londen trou.

“Koningin Elizabeth het haar toestemming gegee dat die seremonie by The Chapel Royal by St. James-paleis gehou kan word," lui die inskrywing op die Britse koninklike familie se amptelike Instagram-profiel. 

“Die seremonie sal gevolg word deur ’n privaat onthaal, wat die koningin gee, in die tuine van die Buckinghampaleis,” lui die inskrywing verder. 

Die laaste onthaal vir 'n koninklike troue wat hier gehou is, was dié van die monarg se kleinseun prins William en sy vrou, Kate. 

Eugenie en Edoardo het verlede jaar in Italië verloof geraak terwyl hulle daar met vakansie was. Die paartjie was toe net 11 maande saam. Edoardo het die jawoord gevra met ’n verloofring van R1,9 miljoen.

Haar pa, prins Andrew, die hertog van York, wat verlede jaar uit koninklike ampte uitgetree het te midde van die voortslepende skandaal rondom sy vriendskap met die wyle veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein, sal sy oudste dogter na die kansel begelei.

Andrew en Fergie het ook nog 'n dogter, prinses Eugenie (29).

Edoardo het ’n driejarige seun, Wolfie, by sy eks Dara Huang.

Volgens die Amerikaanse glanstydskrif People gaan Wolfie sowel as prinses Charlotte, prins William en Kate se vierjarige spruit, deel van die gevolg wees. 

BRONNE: harpersbazaar, express.co.uk, Daily Mail, Fox