Prinses Charlene, prins Albert, prins Jacques en p
Prinses Charlene, prins Albert, prins Jacques en prinses Gabriella straal op ’n nuwe foto. Foto: Facebook/Palais Princier de Monaco/Eric Mathon

Die foto is in November in Monaco geneem voor Charlene (42) haar hare op ’n drastiese wyse in ’n deels Mohikaanse, deels parmantige elfiestyl aan die een kant kaal geskeer het.

Op die foto straal die stylvolle ma van twee in ’n elegante wit eenstuk en halssnoer van die modehuis Dior. Haar man, prins Albert (62), en hul sesjarige tweeling, prins Jacques en prinses Gabriella, pryk ook daarop. Gabriella lyk alte fraai in ’n ligpienk uitrusting met ’n kuifie nes haar Zimbabwies gebore ma. Haar broer, Jacques, is op sy beurt uitgetof in ’n blou pak en das identies aan dié van sy pa.

Die kiekie van die gesin sal in die prinsdom Monaco op die Franse Riviera verkoop word en die opbrengste sal aan humanitêre organisasies in dié land geskenk word, het die paleis se amptelike Facebook-blad aangekondig. 

Charlene, wat op 25 Januarie haar 43ste verjaardag vier, het ook ’n onderhoud toegestaan aan die Franse tydskrif Point de Vue. In die onderhoud verklap sy dat Albert aanvanklik geskok was deur haar nuwe Mohikaans geïnspireerde haarstyl, maar hy het darem mettertyd daarvan begin hou, berig People. 

Aan die einde van verlede jaar is prinses Charlene
Aan die einde van verlede jaar is prinses Charlene met ’n splinternuwe, halfgeskeerde haarstyl gesien toe sy ’n Kersge­skenk­versprei­ding by die paleis in Monaco gehou het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die voormalige Olimpiese swemmer het ook vroeër vandeesmaand aan Huisgenoot verklap hoekom sy op die gewaagde haarstyl besluit het. 

“Dit was covid en inperking, met geen werk- en reisverpligtinge nie. Ek het gevoel dis die ideale tyd om te eksperimenteer en ’n bietjie pret met my hare te hê,” het sy vertel. 

Sy het ook aan Point de Vue vertel dat sy voorbereid was vir die reaksies op die haarstyl. 

“Natuurlik. Die opmerkings van ‘maar wat doen sy’ en ‘dis nie koninklik nie’ – ek ken dit al te goed. En ek het niks vir hulle te sê nie, behalwe dat ons in 2021 leef, en dat daar in hierdie tye wat so moeilik is ander, baie belangriker kwessies is wat ons aandag verdien.”

Bronne: People, Daily Mail