Prinses Gabriella en prins Jacques van Monaco was
Prinses Gabriella en prins Jacques van Monaco was vol hanswors­streke by die onlangse Monaco ePrix in Monte Carlo. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ja, hulle is die bloubloed-afstammelinge van ’n waardige Europese adelhuis; die seun en dogter van een van die wêreld se beroemdste glanspare.

En ja, hulle het seker rede om terneergedruk te lyk ná ’n jaar waarin hul gesin onder covid-19 en gerugte oor hul pa se beweerde voorhuwelikse losbandigheid deurgeloop het. Maar wat pret en oulike streke betref, is prinses Gabriella en prins Jacques van Monaco nes enige ander sesjarige.

Die geleentheid waar die tweeling hul lieflike lawwighede gewys het, was die tweejaarlikse Monaco ePrix vroeër vandeesmaand. Dié beroemde resies vind plaas in die strate van dié klein stadstaat langs die hemelblou Middellandse See.

Jacques poseer vir die kamera.
Jacques poseer vir die kamera. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die room van die wêreld se rykes en glansmense was daar. Op die platform van waar prinses Grace en prins Rainier se afstammelinge gewoonlik op die gewone sterflinge neerkyk, was prinses Charlene dié dag nie teenwoordig nie.

Dit was haar man, prins Albert, se werk om ’n oog oor hul spruite te hou. En man, was dit duidelik dié twee woelwaters weet hoe om pret te hê. Dan was dit hansworsstreke, dan het hulle ’n streep op ’n niggie getrek, dan het hulle prins Albert vir ’n drukkie gaan pla.

Saam met hul pa, prins Albert, en niggie Kaia-Rose
Saam met hul pa, prins Albert, en niggie Kaia-Rose Witt­stock. Foto: Gallo Images/Getty Images

Vir twee kleuters wat dikwels op staatsgeleenthede bedeesd en beskaafd moet optree, was dit dalk lekker om so ’n bietjie handuit te ruk.

Gelukkig het Albert hulp met die kinderoppassery gehad; Pierre Casiraghi, sy suster Caroline se jongste seun, en twee kinderoppassers was ook daar.

Daar was ook nog ’n kleuter om hulle geselskap te hou: Kaia Rose Wittstock, die dogter van Charlene se broer Gareth Wittstock. Die drie kleingoed het mekaar rondgejaag en gegiggel terwyl die grootmense gekyk het hoe die renmotors verbyflits.

Dalk sal klein Jacques nog later in sy lewe ’n liefde vir raserige motors ontwikkel, maar in dié stadium lyk dit of die enjins se gebrul hom nog skrikmaak – die knapie het sy hande oor sy ore gedruk elke keer wanneer die renmotors verby hul platform jaag.

 Die renmotors by die ePrix se geraas was soms te
Die renmotors by die ePrix se geraas was soms te veel vir Jacques. Foto: Gallo Images/Getty Images

Gabriella, wat ál meer soos haar ma begin lyk, het op haar beurt nie afgesteek by die modeslawe op die paviljoene nie. Haar denimrokkie met ’n Daisy Duck-prentjie op is deur Monnalisa, ’n modehuis vir kinders, ontwerp en kos sowat R3 000.

Dis duidelik die tweeling is versot op mekaar. Op een van die foto’s wat die dag geneem is, kraai Gabriella van die lekkerkry terwyl haar boetie haar ’n drukkie gee.

Dit was van vroeg af duidelik Gabriella is die ekstrovert onder die twee, iets wat haar ouers ook verklap.

“Breedweg gestel, is Jacques ’n bietjie skamer en stiller, maar hy kan ook lekker grappies maak,” het Albert onlangs aan die tydskrif People gesê. “Hy is ’n goeie waarnemer en hou daarvan om die situasie eers op te som – dan doen hy sy ding.

Haar ouers sê Gabriella is ’n ekstrovert.
Haar ouers sê Gabriella is ’n ekstrovert. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Gabriella is meer sosiaal en is beslis nie op haar bek geval nie. Sy is ’n karakter wat daarvan hou om te dans en te sing en gee glad nie om om voor mense te wees nie.”

Vroeër vanjaar het die publiek ook ’n glimp van die tweeling se persoonlikheid gekry toe hul ma ’n klompie kostelike foto’s bekendgestel het wat die gesin oor Paasfees geneem het. Daarop kyk die tweeling reguit in die kamera terwyl hulle van oor tot oor glimlag.

Weer eens is Jacques se arm om Gabriella se skouer. Dis goed dat hulle soms kans kry om ’n bietjie laf te wees, want die lewe wat op hulle wag, gaan een vol statigheid en erns wees – hulle verteenwoordig die toekoms van een van die wêreld se beroemdste koningshuise.

Gabriella kraai van die lag terwyl haar boetie haa
Gabriella kraai van die lag terwyl haar boetie haar ’n drukkie gee. Foto: Gallo Images/Getty Images

Veral Jacques, as toekomstige staatshoof van Monaco, word reeds gaandeweg deur sy familie voorberei op die pligte wat hy sal moet vervul. Hoewel hy twee minute ná sy sussie gebore is, bepaal Monaco se wette dat net ’n man die hoof van die regering kan word.

“Ons verduidelik net vir hulle in die eenvoudigste moontlike taal wat koninklike pligte als behels,” sê Albert. “Ons dril darem nog nie die verwagtinge stap vir stap by hulle in nie. Ons wil hulle nie te veel in die kollig sit nie.”

‘Jacques is ’n bietjie skamer, maar hy kan ook Lekker grappies maak’

Ná ’n uitdagende 2020 lyk dit asof dinge darem nou vir Monaco se heersersgesin ’n bietjie beter gaan. Albert het verlede jaar covid-19 opgedoen en worstel nou nog met van die gevolge, insluitend uitputting.

Hy het ook in ’n dokumentêre program op TV sy hart oopgemaak oor die eensaamheid en verveling wat hy soms as hoof van ’n bloubloedfamilie moet deurmaak. Die paleislewe is glo nie net maanskyn en rose nie.

“Daar is te min tyd vir spontane aktiwiteite. Jy moet selfs vir spontaniteit ’n plek op die skedule maak,” sê hy.

Prinses Charlene vroeër vanjaar by die begrafnis v
Prinses Charlene vroeër vanjaar by die begrafnis van die Zoeloe-­koning, Goodwill Zwelithini, in KwaZulu-Natal. Foto: Gallo Images/AFP

Nog ’n drama verlede jaar was aantygings in die Franse tydskrif Paris Match dat die geldsake by Charlene se stigting, die Prinses Charlene van Monaco-stigting, dalk nie lyk soos dit moet lyk nie.

Charlene het oor Paasfees dié gesinsfoto op Instag
Charlene het oor Paasfees dié gesinsfoto op Instagram gedeel. Foto: Instagram/@hshprincesscharlene

Charlene het dié bewerings as “algehele versinsels” afgemaak en beklemtoon sy bly toegewyd aan die welsynorganisasies wat sy ondersteun. Dan was daar ook die petalje wat gevolg het toe ’n vrou einde verlede jaar beweer het Albert is die pa van haar kind wat in 2005 gebore is.

As hierdie bewering wel gronde het, is die kind verwek voor Albert en Charlene getroud is. Nie Albert of Charlene het op dié bewering kommentaar gelewer nie en die jongste nuus was dat die saak in die hof sou gaan draai.

Albert het minstens twee ander bevestigde buite-egtelike kinders. Maar diegene wat weet wat in die paleis aangaan, sê Albert en Charlene is opreg verbind aan mekaar en gelukkig saam.

Hul gesin bly hul prioriteit – en hul kinders se duidelike geluk is ’n bewys van hul ouers se liefde en toewyding.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe