Prinses Charlene het Sondag, geklee in ’n wit doktersjas en met ’n masker vir beskerming teen die coronavirus, besoek afgelê by nuwe ma's en hul babas in die kraameenheid van die Prinses Grace-hospitaal in Monaco om Moedersdag te vier. 

“Prinses Charlene het vanoggend op Moedersdag die kraamsaal van die Prinses Grace-hospitaal besoek om die jong ma's geluk te wens en pasgebore babas in die prinsdom te ontmoet," lui die inskrywing wat Sondag op hul amptelike Facebook-blad gedeel is.

Die besoek is gereël deur die Monaco Rooikruis en sy vrywilligers, lui die inskrywing verder. Daar is ook foto's van Charlene (42) se besoek op Facebook gedeel.  

Charlene en haar man, prins Albert (62), se vyfjarige tweeling, prins Jacques en prinses Gabriella, is in 2014 in dieselfde kraamsaal gebore. 

Na haar hospitaalbesoek Sondag het Albert en klein Jacques en Gabriella by hul ma aangesluit vir middagete by die Castelroc-restaurant, wat reg oorkant die paleis is.  

Terwyl Suid-Afrika en ander lande soos Amerika Moedersdag reeds vroeg in Mei gevier het, vier Frankryk en Monaco dit ietwat later. 

Dié verskil kom volgens die webtuiste French Moments uit die keiser Napoleon se dae uit. Die voormalige Franse keiser het Moedersdag aan ma’s met groot families opgedra, en na die Eerste Wêreldoorlog is dit aan weduwees wat mans in die oorlog verloor het gewy. Sedert 1950 gedenk die Franse die laaste Sondag in Mei, of eerste Sondag in Junie as Moedersdag. 

Albert het in Maart vanjaar positief getoets vir die coronavirussiekte, maar het sedertdien ten volle herstel. 

“Almal gaan deur dieselfde ding. Die kinders is gesond en piekfyn. Dit kan met enige gesin gebeur,” het Charlene kort daarna aan Huisgenoot vertel terwyl sy en die tweeling in afsondering was in Roc Agel, die gesin se huis op die Franse platteland. 

Die egpaar en ander lede van Monaco se Grimaldi-familie het ook verlede week die heropening van die Place du Casino de Monte-Carlo bygewoon. 

“Saam is ons sterk,” het die Zimbabwies-gebore prinses op haar amptelike Instagram-profiel geskryf by ’n foto van haar en Albert met maskers voor die openingseremonie. 

Die Monaco-koninklikes is ook nie enigste adellikes wat hierdie naweek fees gevier het nie. 

Kyk net hoe oulik lyk Swede se prinses Estelle (8) en prins Oscar (4). 

Die kinders van kroonprinses Victoria en haar man, prins Daniel, het saam met hul ouers Swede se nasionale dag op 6 Junie gevier. 

Estelle en Oscar het vir foto's poseer buite hul woning, die Haga-paleis in die Sweedse hoofstad, Stockholm. Die Sweedse koningshuis se amptelike Instagram-profiel, @kungahuset, het die foto's gedeel. 

Bronne: Monaco-Tribune, French Moments, My Royals