Boodskappe van gelukwensings het van oor die wêreld vir die paartjie ingestroom toe Vernon (33) Donderdag die eerste foto van sy pasgebore seuntjie met sy meer as 55 000 aanhangers op Instagram deel. 

Die nuwe pa straal behoorlik van trots op die kiekie terwyl sy pasgebore seuntjie snoesig in sy arms lê.

By die foto skryf hy: "Sjoe, wat ’n oggend. Dit was ongelooflik om te sien hoe my seun vanoggend gebore is. Dankie Here vir die geskenk van lewe en dat ma sowel as seun gesond is," skryf Vernon. Hy voeg ook by: "God is goed, altyd.” 

Die Protea-naatbouler se vrou, Mandy, het ook Vrydag die geboorte van hul seuntjie aan Huisgenoot bevestig.  

“Ons klein kampioen kon nie langer wag om ons met sy teenwoordigheid te seën nie," het sy op Instagram geskryf by ’n foto van haar en haar pasgebore baba. "Welkom in die wêreld my perfekte klein seuntjie. Jy het uit die staanspoor ons harte gesteel en met God aan ons kant belowe ons om jou lief te hê en te beskerm al die dae van ons lewe,” skryf Mandy, wat ook ’n sewejarige seun uit ’n vorige verhouding het.

Mandy en Vernon het in Februarie vanjaar op ’n prentjiemooi wynlandgoed op Stellenbosch afgehaak. Hy het dadelik geweet Mandy is "die een" toe hul paaie die eerste keer in 2006 by ’n vriend se huis kruis waar hulle albei gekuier het, het Vernon toe vertel.

Dis omtrent ’n baba-fees in die Protea-familie! Die voormalige krieketheld Mark Boucher en sy vrou, Carmen, het ook gister hul eersteling in die wêreld verwelkom. 

Vernon en Mandy het nog onlangs lekker saam uitgespan voor hul kleinding se koms.

View this post on Instagram

suns out, bumps out ??

A post shared by Mandy Hudson Philander (@mandyphilander_) on

Mandy het in September vanjaar haar ooievaarstee by die Le Franschhoek Hotel & Spa in Franschhoek gevier.  

Vernon en Mandy het nog nie die naam van die kleinding verklap nie, maar dié knapie het duidelik reeds sy ouers se harte gesteel.

Baie geluk Vernon en Mandy!