Liezel en haar verloofde, Mike Fannin, 'n direkteur van 'n beleggingsmaatskappy, het tydens 'n vakansie in Kroasië hul seilvaardighede geslyp met 'n seiljagvaart na vyf van die meer as 1 240 eilande. 

'n Ervare skipper was aan boord. Hy het hulle met die verskillende aspekte van seilvaart bygestaan wat hulle tydens hul kursus geleer het.

“Ek was mal oor die feit dat jy elke dag in 'n nuwe stad en hawe kan wakker word. Dit was ook interessant om te sien hoe groot die wêreld van seilvakansies is,” vertel Liezel oor hul 10 dae in Kroasië. 

Liezel en Mike span uit in Kroasië. Foto: Verskaf
Liezel en Mike span uit in Kroasië. Foto: Verskaf

“Ek het 'n aantal Suid-Afrikaners ontmoet wat gereeld as deel van hul vakansie vaar en sê dis 'n bekostigbare manier om saam met vriende of familie te reis.” Dié Kfm-aanbieder het vroeër vanjaar dol geraak oor seiljagte toe sy op ’n vaart na die Seychelle vakansie gehou het.

 “Elke dag het ons na 'n nuwe eiland geseil en van plankroei tot fietsry en plaaslike kookkuns gedoen. 

“Dit het my die geleentheid gebied om meer van die Seychelle te ervaar as wat ek sou gedoen het as ek net in ’n oord gebly het,” vertel sy. 

Liezel het toe besluit om in Mei vanjaar vir ’n seiljagkursus op Langebaan in te skryf wat deur die Atlantiese Seiljagskool aangebied word. Sy het die kursus weens haar besige werk- en reisprogram oor drie maande ingedeel. 

En hoewel die kursus nie speletjies is nie, het die teoretiese deel dit vir haar moontlik gemaak om te verstaan hoe alles verband hou met die praktiese aspek van vaar.

Liezel geniet die seewater. Foto: Verskaf
Liezel geniet die seewater. Foto: Verskaf

“Die kursus behels kaartwerk, navigasietegnieke, begrip van weervoorspellings en gevorderde seilvaardighede,” vertel sy. 

“Ek het gevoel asof ek weer terug is op universiteit aangesien ek heeldag in die klas gesit en saans vir die drie skriftelike eksamens studeer het wat ek moes aflê.” 

Sy sal haar praktiese eksamen (soortgelyk aan 'n rybewys-eksamen) in November aflê en dan haar kursus voltooi. 

Maar Liezel is reg vir enigiets. Sy het in Augustus reeds in haar eerste wedvaart as kaptein geseil. En haar groep het hul kategorie in die vrouewedvaart aan The Royal Cape Yacht Club gewen.

Sy is boonop genooi om volgende jaar aan ’n internasionale regatta deel te neem. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.