Daar was dreigemente, ’n bedrieëry, ’n ontvoering, ’n gestryery en toe het Binnelanders se gewilde kuierplek, Nagskof, afgebrand.  

Vir dié tonele het regte vlamme op stel geknetter.

“Dit was baie eg,” vertel Freddie Sauerman, wat gedurende die verfilming van die brandtonele nog Binnelanders se vloerbestuurder was. Hy is deesdae die produksiebestuurder by dié gewilde kykNET-sepie. 

“Gedeeltes van die stel het in die slag gebly – een van die banke en die Nagskof-toonbank.”

Om beheer oor die vlamme te behou, het hulle vir die tonele slegs van gasbranders en ’n tipe brandende jel gebruik gemaak.

“Die jel kan steeds veroorsaak dat materiaal en hout ook aan die brand slaan, so daar is ‘n streng oog gehou oor alles wat brand,” verduidelik Freddie.

“Daar was agt brandblussers op stel en vier bestryders wat die vlamme geblus het sodra ek cut geroep het.”

Freddie is ook self opgelei as 'n gesondheid- en veiligheidsbeampte en het met die hulp van nog twee beampes gesorg dat alles glad verloop. 

’n Kreatiewe span wat spesialiseer in spesiale effekte se hulp is spesiaal vir die tonele ingeroep. Binnelanders se regisseur het aan hulle gekommunikeer presies wat hy graag op die skerm wil weerspieël Die span het toe saamgewerk om die balans te kry van vuurtonele wat eg is, maar steeds veilig is. 

Almal het baie nou saamgewerk en presies geweet wat van hulle verwag is voordat die verfilming kon begin. 

“Kommunikasie was van kardinale belang," benadruk Freddie.

Die vloerbestuurder en koördineerder van spesiale effekte is die enigste twee wat gedurende die verfilming opdragte kon uitdeel – so het hulle verseker dat almal op dieselfde bladsy bly. 

Daar was ’n lang aanloop tot die afgelope paar dae se dramatiese gebeure. 

Naomi (Je-ani Swiegelaar) het ’n nare verrassing gekry in Nagskof, wat deur haar man, Louis (Germandt Geldenhuys), bestuur word, toe sy onder valse voorwendsels daarheen gelok is en teen haar wil deur Alice (Laré Birk) aangehou is.

Naomi word teen haar wil aangehehou.
Naomi word teen haar wil aangehehou.

Toe Louis 'n foto van sy vrou in aanhouding ontvang, het hy hom na die nagklub gehaas. Alice en knetterende vlamme het hom by Nagskof ingewag en 'n struweling het in die vlamme uitgebreek. 

Alice is reg om amok te maak.
Alice is reg om amok te maak.

Vir drie jaar het almal gedink dat Alice oorlede is, maar sy het toe al die tyd haar dood versin en was vir ’n tweede keer daarop uit om wraak op Louis te neem. In 2017 het sy onsuksesvol wrede planne beraam in 'n poging om hom te vermoor. In die proses het sy haar eie suster, Tracey (Corné Crous), wat in daardie stadium verloof was aan Louis, vermoor.

Alice was in Kroonstad saam met Louis op skool en hou hom ná al die jare steeds verantwoordelik vir die gru-ongeluk waarin sy op die aand van hul matriekafskeid was – al het hy niks daarmee te doen gehad nie. 

Louis en Naomi het gelukkig ongedeerd aan die ander kant van die vlamme uitgekom en Alice het vermoedelik doodgebrand.

Kykers is deur die jare gereeld deur gebeure in Nagskof vermaak. Dit was die plek waar paramedici ná ’n lang werksdag vir ’n drankie ontspan het, waar daar geleenthede vol pret gehou is en selfs waar bekende sangers soos Bok van Blerk en Die Heuwels Fantasties op die verhoog verskyn het.

Is dit nou finaal die einde van hierdie geliefde kuierplek?

“Kykers gaan die skerm en drama moet dophou om te sien wat die toekoms vir Binnelanders se gunstelingwatergat inhou,” is al wat  Ernst Swart, die publisiteitbestuurder van Binnelanders, in dié stadium kan verklap.