Liza Brönner het Dinsdag die aankondiging in die sosiale media gemaak toe sy ’n foto van haar, Ricus, en hul kleinding gedeel het.

Die sangeres straal behoorlik en het by die kosbare kiekie geskryf: “Donderdag die 22ste het my hele lewe verander! Ek kan nie glo dat mens soveel liefde kan voel nie. Dawid my seun, jy het 'n liefde binne my wakker gemaak wat ek nie eers geweet het bestaan nie!”

Liza kon ook nie uitgepraat raak oor haar man, die sanger Ricus Nel, nie.  

By die foto waar hy trots by sy vrou en pasgebore baba staan, skryf Lize: “Jou Pappa is die heel beste man op aarde! Hy was so sterk vir my. My gebed vir jou my seun, is dat jy ’n man na God se hart sal wees, en dat jy in God se perfekte wil vir jou lewe sal loop! Mamma het jou liewer as wat woorde ooit sal kan beskryf!”

Liza het Donderdag met Huisgenoot oor haar eersteling gepraat.

Volgens die sangeres van liedjies soos Emosioneel en Verlief op die Idee van My, is daar nie woorde wat die gevoel kan beskryf van die oomblik toe sy ’n ma geword het nie. “Ons het net weer besef hoe groot God is!” sê sy.

Liza sê Ricus was oorweldig deur vreugde toe hul baba gebore is. 

Klein Dawid is in die Pretoria-Oos-hospitaal gebore en het 3,7 kg geweeg.

Liza sê hulle is nie seker na wie Dawid die meeste lyk nie.

Ricus het vroeër op Instagram verklap hulle het sy liedjie Hardekole kliphard in die operasiesaal gespeel; dis die eerste musiek wat Dawid gehoor het.

Volgens die Hier by My-sangeres herstel sy goed ná die geboorte en is haar babaseuntjie baie rustig.

“Hy is so rustig. Hy hou baie van slaap. Ek voel ek wil hom net heeltyd wakker maak,” grap sy. 

Liza en Ricus het mekaar in 2010 by ’n musiekfees op Oranjeville in die Vrystaat ontmoet en het in Januarie 2013 afgehaak. 

Hoe gaan die bedrywige paartjie nou hul loopbane takel? 

Liza meen dis nog baie vroeg om te sê, maar sy glo dit sal als perfek uitwerk. Sy vertel sy sal soos normaal voortgaan, maar klein Dawid gaan oral saam.

“Net soos sy pa grootgeword het,” voeg sy by.

Sy was tydens haar swangerskap baie bang vir die geboorteproses, vertel sy, maar toe sy die eerste keer haar baba hoor huil, het al die kommer verdwyn. 

Liza laat val selfs dat hulle in die toekoms graag nog kinders wil hê.