Ricus het onlangs ’n foto gedeel waar hy en hul 10 maande oue seuntjie mondfluitjie speel.

Dawid het gesien hoe sy pa met die fluitjie oefen terwyl hy vir sy vertonings voorberei en het toe begin saamspeel.

Al het hy nog nie die blaastegniek onder die knie nie, het hy sy ouers lekker laat lag met sy probeerslag om die mondfluitjie te speel.  

“Hy na-aap deesdae alles wat ’n mens doen,” vertel Ricus laggend aan Huisgenoot

Hy sit ook nie stil as ma en pa begin musiek maak nie en sal altyd na ’n tamboeryn of marakka gryp. “Hy sal dan sy koppie skud en dans al te lekker saam,” vertel sy trotse pa.

Dawid was net sewe maande oud toe hy sy verhoogdebuut gemaak het. 

Die sangerpaar se eersteling toer gereeld saam met sy ouers en wou gedurende een vertoning vroeër vanjaar nêrens anders as in sy ma se arms wees nie. 

Liza het voorheen aan Huisgenoot vertel dit was ’n bietjie van ’n uitdaging om heeltyd met hom in haar arms te sing. “Hy het gelukkig deur die hele vertoning soos ’n klip geslaap,” het sy vertel. 

Volgens Ricus was Dawid reeds by agt of nege van hul vertonings. “As dit nie te ver is om te ry nie, vat ons hom saam.”

Al gaan hul seuntjie gereeld saam na vertonings en na-aap hy sy ouers as hulle musiekinstrumente speel, is hulle nog nie seker of hy in hul voetspore gaan volg nie. 

“Dis seker enige ouer se droom dat jou kind in jou voetspore volg, maar ek is nog nie 100% seker nie. Hy is nog bietjie klein en dis nog te vroeg om te sê waar sy belanstellings lê,” sê Ricus.

Die klein mannetjie vier ook op 22 November sy eerste verjaardag en sy ouers sien vreeslik daarna uit. 

“Ons beplan ’n lekker partytjie saam met sy maatjies en baie koek. Pappa sing die aand by Afrikaans Is Groot, maar sal vir seker eers by sy partytjie wees,” verseker die sanger.