Die sangpaar Ricus Nel en Liza Brönner se seuntjie, Dawid, het sy eerste verjaardag gevier. 

Liza het die oulikste foto van klein Dawid op Instagram gedeel om hom geluk te wens. 

"Ek sluk vandag swaar aan my trane. Trane van dankbaarheid en vreugde. Dankbaar teenoor die Here dat Hy my geseën het met jou, my klein Dawid," skryf sy by die foto.

"Voor jou geboorte het ek geleer wat dit is om met ’n smeekgebed te glo en te vertrou dat God getrou sal wees aan Sy woord. Ná jou geboorte het ek besef dat God ALTYD getrou sal bly aan Sy woord.

"Ek beleef alles weer opnuut vir die eerste keer saam met jou, en ek love elke oomblik daarvan.

"Nooit gedink ’n hadida sal my so kan laat glimlag nie (jou ogies helder op as jy daai geluid hoor), of dat ek sal hande klap en 'mooooooi' sê elke keer wat jy poep nie (ja poep, vra elke ma), dat ek 'Tjoeke tjoekepaf', 'Handjies klap', 'Wielie-walie' en natuurlik 'Boerepompie' uit volle bors saam sing net om te sien hoe lekker jy daai lyfie beweeg nie, en om die weirdste danspassies te doen net om jou te hoor lag nie," skryf Liza.

"Ek het ook nooit gedink dat ek so sal kan liefhê nie. Met elke mylpaal besef ek net weer hoe groot God is.

"Vandag is jy een jaar oud en my gebed vir jou is dat jy in die perfekte wil van God sal stap en dat goedheid en guns jou sal volg al die dae van jou lewe.

"Die beste ‘titel’ wat ek agter my naam kan sit is 'Mamma' en ek is die Here ewig dankbaar! Geluk my klein lyf! Mag die Here jou nog baie jare vir ons leen! Lief vir jou – Mamma,” skryf die sangeres. 

Ricus en Liza het kort ná hul seuntjie se geboorte aan Huisgenoot vertel dat hul rol as ouers al hul verwagtings oortref. "Sy lag helder ons dag op en hy slaap baie goed, wat natuurlik ’n pluspunt is," het hulle vertel. 

Tog erken die sangpaar, wat hul eersteling gereeld na vertonings neem, dat ouerskap nie sonder uitdagings kom nie. “Maar dis niks wat ’n mens nie kan hanteer nie. Dit is ongelooflik dat die Here ouerskap in jou gebou het,” het Liza voorheen vertel. 

Die voormalige 7de Laan-akteur en regisseur Christo Davids en sy vrou, Cindy, se seuntjie, Elijah, het met sy derde verjaardag makietie gehou met ’n Lion King-tema. 

"By Elijah se verjaardagpartytjie. Dankie @cindydavids1402 vir ’n wonderlike dag. Elijah is geseën om jou as sy ma te hê,” skryf hy by ’n foto wat tydens sy eersteling se verjaardag geneem is. 

Christo het voorheen aan Huisgenoot vertel dat hy sy eersteling grootmaak met die wete dat ongegag wat gebeur, sy pa altyd daar sal wees vir hom. 

“Ek probeer soveel tyd moontlik saam met hom deurbring. Hy is nou my grootste verantwoordelikheid en ek hoop hy's eendag baie gelukkig,” het Christo voorheen aan Huisgenoot vertel.

View this post on Instagram

Beautiful wedding in Upington #L&L #WilliamsWedding??

A post shared by ????? ?????s (@cindydavids1402) on

Die inspirende Springbok-kaptein Siya Kolisi en sy vrou, Rachel, se dogtertjie, Keziah, het ook die afgelope naweek aan haar verjaardagkoek gesmul. Die Bok-kaptein se jongste spruit het haar tweede verjaardag gevier.

View this post on Instagram

My kiddies ??

A post shared by Siya Kolisi (@siya_kolisi_the_bear) on

Die glanspaar het ook ’n vierjarige seuntjie, Nicholas, wat nes sy sussie saam in hul pa se vreugde gedeel het toe die Springbokke onlangs die Wêreldbekerrugbytoernooi in Japan gewen het. 

Baie geluk julle!