Robbie het tydens die Wêreldbekertoernooi sy album Robbie Wessels en sy Bokke bekendgestel.

Die album bevat onder meer die liedjie "Legendes" wat ou rugbyhelde vereer. Robbie het dit dus goedgedink om op dieselfde manier aan Siya hulde te bring.

Die liedjie het eintlik so half oor sy pad gekom, vertel Robbie aan Huisgenoot.

"Ek het net een oggend wakker geword en gevoel ek wil ’n lied skryf oor Siya Kolisi," sê hy. Robbie was soos talle van sy landgenote tuis vasgenael voor sy kassie saam met sy familie om die Wêreldbeker-eindstryd tussen die Bokke en Engeland te kyk. 

 

“Die lied weerspieël die impak wat die Rugbywêreldbeker-oorwinning op die land se eenheid gehad het,” vertel Robbie.

“Dit gaan veral oor Siya Kolisi en die rol wat hy gespeel het. Dit is ’n motivering vir enige persoon wat opkyk na Kolisi, wat in moeilike omstandighede grootgeword het, maar nog steeds die bul by die horings pak en ’n sukses van hul lewe kan maak.”

Die Springbokke was self ’n onvergeetlike voorbeeld vir mense wêreldwyd – die feit dat mense uit verskillende kulture, tale en agtergronde as ’n eenheid kan saamstaan.

“Dit is ’n bewys dat ons as Suid-Afrikaners dit ook in ons daaglikse lewe kan implementeer en dat ons sterker saam is,” verduidelik hy.

Siya se lewensreis vanaf jong  seun in die township Zwide in Port Elizabeth tot kaptein van die 2019-wêreldbekerkampioene het inderdaad die hartsnare van menige Suid-Afrikaner geraak, rugbyliefhebber of nie.

Siya se rugbyafrigter uit sy laerskooldae, Eric Songwiqi, het voorheen aan Huisgenoot vertel dat Siya selfs as jong seun altyd optimisties en positief was.

 "Hy was ’n besige outjie, maar hy was eerbiedig en het sag gepraat. Sy dissipline op en af van die veld af het vir my gewys hy gaan ver kom," vertel Eric.

Sedert die Bokke se oorwinning op 2 November word die Bok-kaptein omtrent besig gehou.

Siya is onlangs in Engeland gewaar waar hy 'n wedstryd by die sokkerklub Liverpool se tuisveld Anfield bygewoon het.

Die sokkerklub het ’n foto en video van Siya gedeel waar hy met ’n Liverpool-baadjie pryk, en vertel van die oomblik toe hy die Reds se afrigter, Jürgen Klopp, onlangs in Kaapstad ontmoet het.

Siya is ook in die Britse hoofstad, Londen, opgemerk. Volgens die sportaanbieder Robert Marawa het Siya ’n ooreenkoms geteken om by die Amerikaanse rapper en sakeman Jay-Z se hoëprofiel-sportbestuursagentskap Roc Nation aan te sluit.

Jay-Z is getroud met die bekende Amerikaanse sangeres en treffermasjien Beyoncé en sy maatskappy bestuur ook musikante soos die popster Rihanna.