Rolene het soos ‘n droom gelyk in ‘n goue enkellengte-skepping van die ontwerpshuis Galluzi e Gini.

Werner Wessels, wat haar vir dié jaarlikse perdewedren by die Kenilworth-renbaan by Kaapstad gestileer het, verklap dat die pragtige rok van Swarovski-materiaal gemaak is.

“Die ontwerper het materiaal oorgehad van die rok wat hy vir Tamaryn Green by die Mej. Heelal-kompetisie beplan het, maar hulle het ‘n silwer opsie van dieselfde materiaal gevind en toe haar rok daarvan gemaak. Ons het daarna besluit om vir Rolene iets spesiaals uit die goue stof maak,” het hy aan Huisgenoot vertel. 

KYK: 

Werner meen dit het perfek by vanjaar se Sun Met-tema, Precious Metals, gepas. Hulle wou graag haar voorkoms elegant en natuurlik hou. 

Volgens dié meesterstileerder het Rolene nog nooit voorheen haar hare in hul natuurlike skoonheid na ‘n geleentheid toe gedra nie, hoewel sy die mooiste bos krulle het. 

“Toe sy in 2014 aan die Mej. SA-kompetisie deelgeneem het, was dit 'n ander mode-era. Daar is verwag dat jy jou beste voetjie voorsit. Rolene het my die dag voor die kompetisie laat weet sy wil haar krulhare in hul natuurlike styl dra, maar ek het haar van plan laat verander,” verklap hy. 

“Ek het gesê: 'Nee, jy kan nie, hulle sal nie daarvan hou nie.'"

Toe Werner die eerste keer Rolene se natuurlike hare op sosialemediafoto's sien, was hy onmiddellik mal daaroor.

View this post on Instagram

She’s out of this WORLD @rolenestrauss ?? #sunmet2019

A post shared by Lee-Ann Liebenberg (@leeann_liebenberg) on

“Ons wou vanjaar dinge bietjie opskud en Rolene is gaande oor natuurlike skoonheid. Sy hou daarvan om die mooiste te lyk met die minste moeite.” 

Die boodskap agter die voorkoms, vertel Werner, was om te wys jy moet jou natuurlike skoonheid koester.

“Koester wie jy is, koester jou skoonheid! Dis wat ons met haar krulle wou doen,” sê hy.

Werner, wat Rolene reeds die afgelope vyf jaar stileer, sê hy kan nie een gunsteling onder al die Rolene-looks tot dusver uitsonder nie. Maar hy meen die naweek se Sun Met-uitrusting is definitief in sy topdrie.

Een van sy ander gunstelinge was die Pretty Woman-rok wat sy verlede jaar een aand opera toe gedra het. Die skoonheid het soos 'n ware prinses gelyk in die bloedrooi Galluzi e Gini-aandrok, met withandskoene daarby. Haar haarstyl was klassiek en die rooi lipstiffie was die kersie op die koek. 

“Dis so maklik om met Rolene te werk. Sy is een van my beste vriendinne en sy vertrou my 100%. Ek weet waarvan sy hou en weet waarin sy gemaklik is,” vertel die stilis.

Volgens Werner was die mooi ma van een vooraf wel bietjie bekommerd mense sou dink sy het nie genoeg moeite met haar voorkoms gedoen nie, maar toe is dit gelukkig baie goed ontvang.

View this post on Instagram

Serving face with @rolenestrauss ??

A post shared by Werner Wessels (@werner_wessels) on

“Die hare was beslis treffend en sy het nie 'n titsel glans ingeboet nie,” sê hy.

“Ek sien baie daarna uit om dit weer te doen en in die toekoms met die haarstyl rond te speel,” sê hy.

Watter advies het die stylghoeroe vir ander vroue wat by die Sun Met of 'n soortgelyke geleentheid wil skitter?

Hier's sy raad: 

  • Dra gemaklike en koel klere.
  • Die Sun Met is in 'n ongelooflike warm tyd van die jaar, daarom moet jy probeer om uit die son en soveel moontlik in die koelte te bly. 
  • Pak ‘n waaier of enigiets anders om jou koel te hou in jou handsak.
  • Dit is by so 'n okkasie in die haak om 'n bietjie te waag en uit die boks te dink, meen Werner: “Sit flair daarby.”