Rolene het die opwindende nuus in die sosiale media gedeel. Sy en haar man het alreeds ’n driejarige seuntjie. 

"Welkom, klein liefie," het Rolene op Instagram by ’n foto van die nuwe baba wat sy ouboet se hand vashou geskryf. Sy het in die inskrywing onthul dat hul seuntjie Maandag gebore is.

"Ons is so dankbaar om jou by ons gesin wat nou amptelik vier is te verwelkom. Jou ouboet is gereed om jou hand vas te hou op hierdie reis genaamd die lewe. Ons gesonde babaseun van 4,4 kg is op 10 Februarie om 23:46 gebore. Ons is geweldig geseënd om albei gelukkig en gesond te wees en ons geniet oneindige drukkies. Dankie Hemelse Vader."

Rolene se Mej. SA-familie was van die eerste wat haar gelukgewens het met die nuwe kleinding. 

"Ahh welkom liefste Boeta," het Demi-Leigh Tebow, wat in 2017 die Mej. Heelal-kroon gedra het, geskryf.

Die voormalige Mej. Suid-Afrika Adé van Heerden het ook die nuwe baba verwelkom. "Welkom aan Boetie," het die mediese dokter, wat Demi-Leigh as Mej. Suid-Afrika opgevolg het, laat hoor. 

Die stilis Werner Wessels, wat Mej. Suid-Afrika se kreatiewe direkteur is, het laat hoor dat "oom Werner" alreeds die nuwe seuntjie baie lief het. 

Rolene en haar man, D'Niel, het aan die einde van 2018 besluit om hul gesin uit te brei. 

Rolene en D'Niel Strauss is alreeds vier jaar getroud. Foto: Instagram/@rolenestrauss

Sy wou egter eers ’n voorbladsessie vir die tydskrif Women’s Health waarin sy verlede jaar verskyn het afhandel, want dit sou ’n strawwe oefening behels. Daarna het sy en D’Niel, haar man van die afgelope vier jaar, begin beplan vir hul tweede kind. 

Die oud-Mej. SA het haar tweede spruit se geslag by verlede jaar se Pink Polo-geleentheid by die Val de Vie-landgoed in die Paarl bekendgemaak. 

Sy het die geslag van die nuweling  –  ’n seuntjie – met ’n poeierblou belt om haar middel bekendgemaak. Die belt is met ’n wit vloerlengte skepping gekombineer.


Rolene meen sy is bevoorreg dat die piek van albei swangerskappe in die somer is. 

Sy het onlangs op haar YouTube-kanaal onthul sy het destyds met haar eersteling ’n moeilike geboorte ondergaan. 

Sy het tydens ’n gesinsvakansie aan die Suid-Kaap kontraksies begin ervaar. “Ek het altyd geweet ek wil natuurlik geboorte skenk, maar dinge het regtig stadig verloop.”


Haar baba was groter as wat hulle verwag het en die model was omtrent 15 uur lank in kraam. “Maar ná gebed en harde werk van al die betrokkenes is ons seun met ’n gesonde gewig gebore,” vertel sy.