So het jy hulle nog nooit sien smeul nie. Uitgevat in ’n aandpak, kompleet met ’n swart strikdas, lyk die donkerkop Adonis die ene James Bond. Die langbeenblondine aan sy sy herinner in haar glansryke aandrok aan ’n ster uit Hollywood.

Selfs op straat is hulle die soort paartjie wat jou laat omswaai om weer te kyk. Hy met sy Mediterreense voorkoms en sy met haar blonde lokke en seeblou oë.

Maar wanneer Nico en Christi Panagio eers optof, soos vir Huisgenoot se glansfotosessie vandag, slaan hulle die asem weg. Deesdae kry ons heelwat van hulle te sien.

Nico (44) is die aanbieder van die M-Net-werklikheidsreeks Survivor South Africa: Philippines en Christi (40) bied Die Skatties, ’n mooimaakprogram op VIA, aan.

Maar met ons fotosessie is geen teken van ’n informele eilandvoorkoms aan Nico te bespeur nie. En Christi is ligjare verwyder van ’n prikkelpop.

Ook hul dogters, Evah (7) en Shay (5), is in blink rokkies opgetof en spring opgewonde vir ’n foto saam met ma en pa voor die kamera in.

Die prentjie voor die lens is volmaak: modelmooi ouers, suksesvol op die kassie, dolverlief...en elegant en stylvol daarby.

Die aanbiederspaar geniet dit om vandag hul beste fotovoetjie voor te sit. Hulle is immers albei voormalige sepieakteurs wat die kuns van ’n oomblik voor die kameras en ’n lewe in die kollig goed verstaan.

Maar Christi verduidelik gou dit kom nie vanself nie. “Ons is allesbehalwe glansryk in ons alledaagse lewe. Ons het natuurlik oomblikke, maar dit verg werk en tyd en is nie iets wat sommer net gebeur nie.

Ek wil nie namens my kinders kies of hulle bekend wil wees nie
Christi

Jy kan my nie gou uit die bed trek en sê ‘wees glansryk’ nie.” By hul huis op die Kaapse Skiereiland sal ’n mens hulle soos enige ouerpaar kaalvoet en in loslitklere aantref.

Soggens is dit regmaak vir skool, kosblikke pak, kinders skool toe karwei en smiddags huiswerk, buitemuurse aktiwiteite en speeltyd. Naweke het hulle tyd vir bordspeletjies en aktiwiteite in die buitelug soos stap en fietsry.

Nes enige doodgewone gesin. Hul kleingoed het trouens nou eers agtergekom hul ouers is beroemd. Albei het voorheen in 7de Laan gespeel, Nico as George Kiriakis en Christi as Karien.

‘Ons het besluit om vir eers af te skaal omdat die belegging in ons kinders groter is as enigiets wat geld kan koop’ Foto: SJ Van Zyl

“Dis glad nie ons werklikheid by die huis nie,” sê Christi.

“Die wêreld push roem vreeslik baie, maar ons wil hê ons kinders moet weet dit is nie noodwendig soos almal dink dit is nie. Jy verloor jou privaatheid, wat ’n groot geskenk in die lewe is. Ons wil hê hulle moet teen die stroom op swem en nie net najaag wat die wêreld as suksesvol beskou nie.”

Die twee het lankal besluit om nie hul kinders se gesig in die media of sosiale media te wys nie.

“Ek wil nie namens my kinders kies of hulle bekend wil wees nie. Dit berus nie by ons om te besluit of hulle op 16 by ’n winkel wil instap en mense agter hul rug hoor praat nie. Dit maak ons nie minder trots op ons kinders nie,” voeg sy by.

“Ek dink nie ons hoef ons kinders elke dag in die sosiale media te plaas om vir hulle te wys hoe lief ons hulle het nie. Ons deel handjies, voetjies en gedagtes van hulle, want hulle is die kosbaarste deel van wie ons is.”

Die toegewyde ouerpaar probeer sorg dat een van hulle altyd tuis by die kinders is; daarom sal hulle nie gelyk werkprojekte aanpak nie.

Hulle reël ook hul werkrooster so dat dit hulle nie vir lang tye van mekaar en die kinders weghou nie. “Terwyl ’n vorige reeks van Survivor verfilm is, het ek op ’n dag ’n Skype- gesprek met Evah gehad.

Sy het gevra ek moet haar optel,” onthou Nico. Toe hy probeer verduidelik hy kan nie omdat hy te ver van haar af is, kon hy die teleurstelling op haar gesiggie sien.

Foto: SJ Van Zyl

“Kinders wil in jou arms sit, drukkies hê en gekoester word,” sê Nico.

Hy wou nie weer so lank weggaan sonder om sy dogters teen hom te kan vasdruk nie; daarom is die hele gesin saam na El Nido in die Filippyne toe vanjaar se seisoen van Survivor sewe weke lank daar geskiet is.

Al was hy elke dag druk besig as aanbieder van die reeks, het dit vir hom gemoedsrus gegee om te weet hulle is naby.

“Christi is ’n sonskyn-eilandmeisie. Dis interessant hoe sy by die huis altyd alles haarfyn beplan en agtermekaar het,” gesels hy oor sy vrou.

“Jy sal haar nooit vang dat sy ontspan nie, maar wanneer ons na ’n eiland gaan, raak sy rustig.” Dit is omdat sy van die son, see en somer hou, sê Christi. “Dis waar ek op my beste is.” Sy en die kinders het bedags die eiland verken terwyl Nico gewerk het.

“Toe ons in El Nido aankom, het Shay nog met vlerkies geswem. Maar toe ons daar weg is, het sy soos ’n meermin geswem en bollemakiesies in die water gemaak,” vertel die trotse ma.

Die kinders is my eerste prioriteit. Dis vir my so vanselfsprekend. Dit maak my nie ’n goeie ma nie; dit maak my bloot ’n ma
Christi

Hulle het gereeld met ’n kajak die see binnegevaar, soms van nader kennisgemaak met ’n seeskilpad of vars kokosneute gekoop.

Die reeks is aan die begin van die jaar deels in die somervakansie geskiet, en toe die nuwe skooljaar in Suid-Afrika begin, het Christi tussen die eilandpret deur saam met Evah, ’n gr. 2-leerder, die letters van die alfabet en leeswoorde geoefen.

Nico het elke tydjie wat hy tussen die verfilming deur kon afknyp, saam met sy gesin op die lakenwit strande of in die soel blou see deurgebring.

As aanbieder van Survivor het hy daagliks gevoel asof hy ’n episode van die werklikheidsreeks beleef.

“Ek het elke dag gesien wat tussen die deelnemers gebeur en wie wat gedoen het. Ek het dié gesien wat honger is, dié wat seer het en dié wat verstoot word. Elkeen se ontdekkingsreis was rou en intiem vir my.”

Soms wou hy graag vir ’n deelnemer ’n vertroostende drukkie gee, maar hy moes ferm en onbevooroordeeld bly. Maar sodra ’n deelnemer se vlam geblus is en die kameras ophou rol het, het hy sy kans aangegryp.

Met ’n lag erken hy: “Ek het vir elke liewe een wat uitgestem is, ’n stinky, smelly, sticky drukkie gegee.”

Omdat sy en Nico graag ’n gesonde invloed op hul kinders se lewe wil uitoefen, het Christi besluit om haar loopbaan grotendeels opsy te skuif.

“Die kinders is my eerste prioriteit,” sê Christi. “Dis vir my so vanselfsprekend. Dit maak my nie ’n goeie ma nie; dit maak my bloot ’n ma.”

Dit het meegebring dat hulle ook geldelik opofferings moes maak. “Ons het besluit om vir eers af te skaal omdat die belegging in ons kinders groter is as enigiets wat geld kan koop,” verduidelik Nico.

Wanneer Christi ’n week of twee vir ’n werkprojek druk besig is of moet weggaan, hou Nico die fort by die huis soos toe die tweede seisoen van Die Skatties onlangs geskiet is.

Die fotograaf SJ van Zyl, voor wie se lens die akteurspaar vandag vir glansfoto’s skitter, het met die idee vir die werklikheidsreeks vorendag gekom. Die aktrise Diaan Lawrenson is die vervaardiger en haar man, Jody Abrahams, behartig die regie.

Christi en Diaan, wat Paula in 7de Laan gespeel het, loop al ’n lang pad saam.

“'n Mens is daagliks op die stel by 7de Laan; dus word die mense jou familie. Julle word buddies for life,” sê Christi.

Sy was gretig om vanjaar weer Die Skatties aan te bied omdat dit “allesbehalwe ’n gewone mooimaakprogram is”.

Terwyl deelnemers in die eerste seisoen ’n gedaantewisseling ondergaan het om soos prikkelpoppe uit die 1950’s te lyk, beeld hulle in die tweede seisoen veral ikone uit wat ’n verskil in mense se lewe gemaak het.

Dié keer word plaaslike bekendes in vroue omskep wie se naam in die geskiedenisboeke verewig is.

Dit sluit onder andere in die voormalige Mej. Suid-Afrika Cindy Nell-Roberts, wat die Mexikaanse skilder Frida Kahlo gaan verpersoonlik; die RSG-omroeper Martelize Brink, wat in ’n rolstoel is, wat die Argentynse presidentsvrou Evita Perón gaan uitbeeld; en die bekroonde aktrise Crystal-Donna Roberts wat die Amerikaanse sangeres Eartha Kitt gaan voorstel.

“Dis ongelooflik om te sien hoe die vroue voor jou transformeer wanneer jy hulle op ’n manier wys wat die beste eienskappe in hulle na vore bring en hul uniekheid vier,” sê Christi.

Wat haar eie voorkoms betref, vertel Christi sy is nou 10 jaar ouer as toe ons haar destyds in 7de Laan gesien het.

“In die bedryf kry ’n mens dikwels menings oor hoe jy behoort te lyk,” sê sy.

“Jy word met mense vergelyk wat botoks gebruik en dit plaas druk op jou oor iets wat jy nie self wil doen nie. “Ek besef ek lyk ouer as voorheen, maar dis oukei. Hoekom moet iemand wat 40 is 30 lyk? Die oomblik dat jy vrede daarmee maak en besef jy doen die werk oor jou liefde en passie om te perform en nie oor hoe jy lyk nie, vergeet jy gou wat ander mense dink.”

Sy is dankbaar vir Nico se steun terwyl sy aan Die Skatties gewerk het.

“Hoeveel mans ken jy wat twee weke alleen na jong kinders sal kyk sonder enige hulp van ’n kinderoppasser? En hy beskou dit nie as kind oppas nie, maar as gehaltetyd saam met sy dogters.”

‘Ons kon nie twee meer spesiale dogtertjies gemaak het as die twee ongelooflike kinders wat ons gekry het nie’ Foto: SJ Van Zyl

Nico het sy eerste vuurdoop gehad toe Evah nog ’n peuter en Shay ’n baba was. Christi het toe ’n klein onderneming gehad en is vir twee weke Pretoria toe om ’n skryfbehoeftestalletjie by die Tierlantynkies Kuier & Koopfees te beman.

Daarna kon Nico in sy motiveringspraatjies dié raad vir nuwe ma’s uitdeel: Los jou kinders so gou moontlik ’n week of twee alleen in hul pa se sorg.

“Hy sal nooit weer by die huis opdaag en vra: ‘Waar is my bord warm kos?’ nie. Hy sal trouens die kos saam huis toe bring,” laat Nico hoor.

“Die eerste drie dae is maklik,” vertel hy van sy eie ondervinding. Sy laat ’n lysie op die yskas en bevrore geregte wat ontdooi kan word. “Maar ná drie dae is die kos en doeke op en begin dinge uitrafel.

Dan moet jy winkel toe met ’n kind op elke heup, jy moet kos maak en hulle in die bad kry.

“En wanneer hulle eindelik in die bed is, draai jy om en sien die huis is omgekeer, jy het net een skoen aan, jou hare staan in alle rigtings en jy wonder: Hoe op aarde kry sy dit reg?”

Toe ons Nico en Christi vir die onderhoud ontmoet, sê hy in ’n intieme oomblik vir sy vrou: “Jy lyk mooi.” Die man wat al menige TV-kyker se knieë lam gemaak het, is ook vir sy vrou steeds “vrekmooi”.

“Hy kan by die huis in ’n sweetpakbroek rondloop dan lyk hy steeds soos ’n model uit die tydskrif GQ,” sê Christi. En Nico terg: “Het sy al vir jou gesê sy is my grootste aanhanger?”

Hulle is al 18 jaar saam en 12 jaar getroud. Saam het hulle ook al voor groot uitdagings te staan gekom soos toe Christi gesukkel het om swanger te raak.

Foto: SJ Van Zyl

Sy het endometriose, ’n chroniese toestand waar die endometrium, die voering van die baarmoeder, op plekke daarbuite groei. Dié toestand maak dit nie onmoontlik om swanger te raak nie, maar wel moeiliker.

Hulle het jare lank na kinders gesmag en kunsmatige bevrugting beproef, maar sonder sukses. Daarna het hulle op aanneming besluit.

Klein soos hulle is, weet hul kinders hulle is aangeneem.

“Evah het ons lewe verander, meer as wat ons ooit kon dink,” vertel Nico. Toe dit twee jaar later tyd word vir nog ’n bondeltjie vreugde, het hulle dadelik geweet hulle wil nog ’n kind aanneem.

My meisies is my alles. Hulle maak my lewe vol
Christi

“Evah en Shay het die gat in ons ouerharte kom vul. Ons kon nie twee meer spesiale dogtertjies gemaak het as die twee ongelooflike kinders wat ons gekry het nie,” sê Nico.

“Mense sal soms vra: Wil julle dan nie eie kinders hê nie? Dan sê ons: Ons het dan ons eie kinders. Die oomblik dat jou baba in jou arms is, word dit jou vlees en bloed en jy kan jouself nooit indink dat dit nie is nie.”

Evah en Shay het so diep in haar moederhart ingekruip, Christi vergeet soms sy het nie self die lewe aan hulle geskenk nie.

“Ek het nou die dag met my vriendin staan en gesels toe ’n swanger vrou verby ons stap,” vertel sy.

“Toe sê ek vir haar: Ek wil net nie weer swanger wees nie. Dis hoe eg dit vir my is.” Nico is doodtevrede om die enigste man in die huis te wees.

“My meisies is my alles. Hulle maak my lewe vol.” Christi beskryf hul oudste as “meer van ’n hoofmeisie”, terwyl Shay “’n bietjie meer van ’n rebel en onafhanklik is.”

Dis so lekker om daardie een mens te hê wat jy weet alles vir jou sal gee en wat jy met alles kan vertrou
Christi

Nico vertel van goeie vriende wat hul vier kinders in dieselfde bed laat slaap het.

“Hulle almal het tot vandag toe so ’n ekstra vlak van nabyheid, vertroue en gemaklikheid met mekaar. Ons het hulle raad gevolg en laat ons kinders ook langs mekaar slaap.”

Die twee is “beste maatjies en onafskeidbaar”, sê hy.

“As jy vir die een ’n lekkertjie gee, sal sy wag dat haar sussie ook een kry voor sy hare eet.” As hulle wel stry kry, pas die ouerpaar streng reëls toe oor respek vir mekaar. Hulle mag nie mekaar stamp, slaan of op mekaar skree nie, en die woord “haat’’ word nie in hulle huis toegelaat nie.

Die twee volg ’n gesonde leefstyl, want “ons voel nie lekker as ons verkeerd eet en leef nie,” sê Christi.

Dit beteken nie dat hulle hulself lekkernye soos pizza, sjokoladebruintjies en bier ontsê nie, maar oor die algemeen verkies hulle organiese en vars kos. “Wanneer ons brood eet, bak ek dit self,” se Christi.

 As Nico nie drie keer per week in die berge gaan draf nie, sal sy dit opmerk. “Dit beïnvloed hoe ek fisiek voel, my emosies en hoe ek dink,” sê hy. Wat is hul resep vir huweliksgeluk? Tyd vir mekaar is een van die belangrikste bestanddele.

“Die kere dat ons uptight en kortaf met mekaar is, sal altyd wees wanneer ons nie tyd saam deurgebring het nie,” sê hy.

“Ons maak dan dadelik tyd om te gaan koffie drink of ’n staproete aan te durf.” Albei weet dat hulle toegewyd is aan mekaar. “Dis so lekker om daardie een mens te hê wat jy weet alles vir jou sal gee en wat jy met alles kan vertrou,” sê Christi.

Hul geloof is die hoeksteen van hul huwelik. “Sonder God sou ons nie so ’n goddelike, volmaakte liefde vir mekaar gehad het nie,” sê Nico.

Hulle bid saam, maak saam kinders groot, ontspan saam en beplan ook om nog baie saam te werk, vertel hulle.

Hulle het reeds ’n projek op die horison. Dalk ’n fliek? Hulle lag geheimsinnig, maar wil nie nou al meer verklap nie.

  • Survivor South Africa: Philippines word Donderdagaande om 19:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai.
  • Die Skatties word van 12 Julie Donderdagaande om 18:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai, met heruitsendings Saterdagmiddae om 17:00.