Die tweeling kan nie ophou giggel terwyl hul ousus hul grimering vir hul eerste YouTube-video aanwend nie.

“Ons gaan met die onderlaag begin,” sê Nelly Kolestein terwyl sy haar kop agteroor kantel sodat ousus Rosianne haar kan omtower.

Sy krimp ineen toe die oogomlyner aangewend word.

“Ek is bang jy gaan die ding in my oog druk,” sê sy en klap die potlood weg.

“Ontspan!” skree haar suster onge­duldig.

Nelly en haar tweelingsuster, Neev, is bewerig van die opwinding om hul eie YouTube-kanaal bekend te stel en hul ervarings aanlyn met die wêreld te deel.

Vandag, sê Neev, gaan hulle ’n foto­sessie doen om hul kanaal te bemark.

Dié kanaal sal, nes die meisies se Instagram- en Facebookrekening, wys hoe die tweeling die meeste uit die lewe tap: musiekfeeste geniet, sokkerwedstryde bywoon, in die winkelsentrum rondhang en vir die kamera glimlag.

Dis dinge wat elke 18-jarige geniet, maar Nelly en Neev is nie gewone tieners nie. Die susters kan mekaar net met behulp van foto’s en spieëls sien, en vir dié twee bestaan iets soos individuele selfies nie.

Hulle is gebore met die agterkant van hul koppe saam­gegroei, en ’n gedeelde slagaar beteken skeiding is onmoontlik.

Maar Nelly en Neev laat nie toe dat hul beperkings hulle terughou nie. Die meisies het ’n aansteeklike liefde vir die lewe en is vasbeslote om mense se siening oor gestremdheid te verander.

“Toe ons pasgebore babas was, het almal gedink ons gaan doodgaan,” sê Nelly.

“Maar hier is ons nou. Ons is 18 jaar oud en ons staan stewig op ons vier voete.”

Almal dink ons kan mekaar se gedagtes lees. Maar ons kan nie. Ons het ons eie gedagtes.

Kraniopagustweelinge, die amptelike term vir tweelinge wat aan die kop verbind is, is die seldsaamste vorm van saamgegroeide tweelinge.

“Ons het afsonderlike lywe, maar ons is aan die kop verbind,” sê Neev.

­“Almal dink ons kan mekaar se gedagtes lees. Maar ons kan nie. Ons het ons eie gedagtes; ons kan albei ons eie dinke dink en prate praat, om dit so te stel.”

Kraniopagustweelinge kom een keer in elke 2,5 miljoen geboortes voor – sowat 50 per jaar – en van dié 50 oorleef net 15 langer as ’n maand.

Dokters het nie verwag Nelly en Neev sou hul geboorte oorleef nie; en selfs al sou hulle, moes hul ouers hoor, sou hulle waarskynlik nie tot hul 10de verjaardag leef nie.

Maar die twee het alle verwagtings oortref – en hulle oorleef nie net nie; hulle floreer.

Suriname

Die tweeling se ouers, wat die kollig vermy en nie geïdentifiseer wil word nie, het tot met hul geboorte geen idee gehad hul babas is saamgegroei nie.

Hulle is in Soeriname gebore, ’n klein land in Suid-Amerika wat eens ’n Nederlandse kolonie was. Die gesin het kort ná die meisies se geboorte na Amsterdam in Nederland getrek sodat hulle gespesialiseerde mediese sorg kon kry en om vas te stel of dokters hulle kon skei.

“Dit was nie lekker om in Suriname te woon nie,” sê Rosianne (24), wat die gesin se woordvoerder geword het. Sy werk as ’n versorger van kinders met gestremdhede en het haar tweelingsusters se grootste kampvegter geword.

“Mense het hul afstand van ons gesin begin hou, want hulle het gedink die tweeling is die resultaat van die een of ander soort toorkrag.”

Toe die gesin eers in hul nuwe huis tuis was en dokters die meisies deeglik ondersoek het, is vasgestel ’n skeiding is nie moontlik nie. Aangesien hulle ’n lewensbelangrike slagaar en bloedvate deel, sal dit ’n doodsvonnis wees om hulle uitmekaar te dwing.

Al het die meisies in Amsterdam toegang tot gevorderde sorg, was dit nie maklik om in die Europese stad groot te word nie.

Ons wou hulle nie eintlik uitneem nie, want mense kan baie gemeen wees.

Dit het hulle lank gevat om die kuns van saamloop te bemeester, veral in bedrywige omgewings, en hulle moes ook wrede aanmerkings van vreemdelinge aanhoor.

“Ons wou hulle nie eintlik uitneem nie, want mense kan baie gemeen wees,” sê Rosianne.

“Eenkeer het ons buite gestap en mense het vrae gevra soos: ‘Hoekom het jul ouers nie die swangerskap beëindig nie?’

“Dit was baie erg. Mense het vir my ma gesê: ‘Jy hou hulle net aan die lewe vir die geld.’ Hulle het geen respek gehad nie.”

Nelly stem saam.

“Ons moes kleintyd baie versigtig wees. Dit was irriterend. Jy wil uitgaan en jou eie ding doen, want met jou toestand het jy nie tyd om vir môre te leef nie.”

Maar Rosianne is ontsettend trots op haar susters.

“Dokters het nie verwag hulle sou die ouderdom 10 haal nie. Nou is hulle 18, en jy moet eenvoudig dink: ‘Sjoe!’ ”

Vir haar is die tweeling “net my kleinsussies, en dis hoe dit altyd was.

“Elkeen het beslis haar eie persoonlikheid. Hulle is baie hardkoppig, en ’n mens kan agterkom hulle wil regtig hul stempel op die wêreld afdruk.”

Nelly en Neev se sosialemedia­rekeninge wys hoe die tweeling die Ajax Amsterdam-sokkerspeler Joël Veltman ontmoet, hul grimering laat doen en verlede jaar by Beyon­cé en Jay-Z se On the Run II-­konsert in die Amsterdam-arena dans.

Die bywoning van Queen Bey se konsert was ’n verjaardaggeskenk van hul suster, en die twee het die kans gekry om van ’n balkon af na die vertoning te kyk – weg van die malende massas van die konsertgangers.

Beeldmateriaal van die tweeling by die konsert het duisende likes op YouTube gekry – nes hulle gehoop het dit sou.

Die meisies wil bewustheid oor hul toestand skep en aan mense wys hulle is meer as hul gestremdheid.

Rosianne en die meisies se ander ouer sibbes, Timothy en Marione, het die tweeling aangemoedig om te begin vlog om met mense van oor die wêreld in aanraking te kom en hul boodskap te versprei.

“Ons het ons eie YouTube-kanaal sodat mense ons kan leer ken. Hopelik sal mense dan ophou staar en agterkom ons is oulike meisies en nie net ‘die meisies met ’n gestremdheid’ nie,” sê Nelly.

En dit werk, sê Neev.

“Dis pret. Jy kry die geleentheid om nuwe mense aanlyn te ontmoet, en dis lekker om te weet baie mense reageer nie net negatief nie.”

Al het die tweeling teen alle verwagting in tot in hul laat tienerjare oorleef, bly hul lewensverwagting onseker.

Maar hulle verknies hulle nie daaroor nie. Hulle hou aan om op hul skoolwerk te konsentreer en pak die lewe een dag op ’n slag.

En Rosianne is vreeslik in haar noppies. “Ek is baie trots op hulle. Baie trots,” sê sy. “Hulle het soveel bereik en as mense gegroei.

“Op die oomblik is hulle nog in ’n fase waar hulle moet ontdek wie hulle is. Ons sal hulle dit teen hul eie pas laat doen. Ek dink die toekoms kan positief wees.”

Nelly voeg by: “Om so te leef is waaraan ons gewoond is. Ons sou nie geskei wou word nie, al was dit moontlik. Ons sou dit nie doen nie.”

“Solank ons gesond is – dis die belangrikste ding.”

Bronne: DAILYMAIL.CO.UK, INSTAGRAM, YOUTUBE.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.