Dit help ook natuurlik dat sowel die akteur Francois Jacobs as sy meisie, die beeldskone Abigail Hutton, mal is oor die buitelewe en reis.

Francois, wat die romantiese hoofrol van Sampie de Klerk in Huisgenoot se 2016-eeufeesfliek, Vir die Voëls, gespeel het, lyk inderdaad dolverlief.

Die paartjie is tans saam met sy familie by die Beachcomber-vakansieoord in Mauritius om Francois se pa, Kobus, se 60ste verjaardag te vier. 

Francois het vroeër aan Huisgenoot vertel hy het aanklank gevind by Abigail omdat sy net soos hy avontuurlustig is. Hulle het mekaar in Junie 2018 by ’n gholfdag in sy tuisdorp Mbombela in Mpumalanga ontmoet, en ná ’n paar dae wou hy by haar weet of sy ’n paspoort het.

Foto: Verskaf.
Foto: Verskaf.
Francois Jacobs
Foto: Verskaf.

En nou, maande later, is dit die tweetjies se eerste keer saam oorsee. “Dit is Abi se eerste stempel in haar paspoort,” vertel Francois opgewonde aan Huisgenoot voor hy trots byvoeg dat sy paspoortboekie al vol stempels is.

“Ons is mal daaroor om te explore. Ons is nie toeriste nie, maar reisigers,” voeg hy plegtig by.

Francois vertel dat dit die wonderlike mense, blou water en heerlike skubaduik-uitstappies is wat van dié vakansie ’n treffer maak.

Francois en sy pa, Kobus. Foto: Verskaf.
Francois en sy ma, Sandra. Foto: Verskaf.
Francois Jacobs
Foto: Verskaf.

“Ek dink ons balanseer mekaar goed uit, maar ’n mens leer mekaar beter ken op elke nuwe avontuur,” deel Francois sy wysheid. “Booboos (sy liefdesnaam vir Abigail) dink sy dra die broek, maar doen elke vrou dan nie?” skerts hy oor sy Abi en hul reisplanne. “Volgende op die reisagenda is Mexiko, Kuba en Jamaika,” sê Francois.

Dit is egter nie net pret en plesier vir Francois nie, en hy gaan baie besig wees wanneer hy oor ’n paar dae in Suid-Afrika land.

Rubber Arm Produksies, die produksiehuis wat hy drie jaar gelede saam met sy vennoot, Adriaan van As, begin het, begin ook nou grond te vat. “Ons is besig om die eerste episode vir ’n komediereeks, Weermag, te skiet, wat hopelik later op kykNET sal wys.”

Die produksiehuis doen ook hul eerste groot teaterproduksie op die Innibos-kunstefees later vanjaar en beplan ook om ’n fliek uit te reik. “Dit gaan mense na hul asems laat snak,” belowe Francois.