Len het Maandag die geslag van hul eersteling verklap in ’n video wat hy op Instagram gedeel het.
“Ons kry ’n seuntjie! Kan nie wag nie,” het die sanger geskryf by die video, waarin hy straal van blydskap oor die babanuus.
In die video maak die sanger ’n koevert oop wat sy kleinding se geslag bevat. Sy vrou, Chanél, ’n vervaardiger vir die produksiehuis Navlug Films, het Len afgeneem terwyl hy die nuus op die video bekendmaak.
Nadat hy die koevert oopmaak, kyk Len sprakeloos na die kamera en uiter: “Dis ’n seuntjie.”
“Ons is saam met ons families baie opgewonde oor die koms van ons seuntjie. Ons sien uit om hom later die jaar te ontmoet,” vertel die paartjie aan Huisgenoot.
Len en Chanél het in Desember verlede jaar uitgevind dat hulle vir die eerste keer ouers gaan word.
“Chanél was so vyf weke swanger, maar ons wou die nuus vir eers stilhou — ten minste tot die eerste paar weke verby is,” het Len vroeër aan Huisgenoot vertel.
Nadat die paartjie Gauteng vir die Wes-Kaap verruil het, het hulle dikwels gepraat oor hul begeerte om ouers te word. “Die seisoen in ons lewe is reg daarvoor; daarom was ons albei verskriklik opgewonde en dankbaar toe ons hoor Chanél is swanger,” het hulle vroeër vanjaar aan Huisgenoot vertel.
Len het op 12 Januarie die nuus in die sosale media verklap dat hulle eersteling op pad is. “Alles wat my kop nou bekommer, kan wag tot jy sag in my arms slaap. Die hele wêreld kan wag, want jy is welkom, klein mensie, en jou plek is gereed,” het hy in die sosiale media geskryf.
Die gelukwensinge het op Instagram ingestroom nadat die sanger die geslag van hul eersteling bekend gemaak het.
“Ag Len! Baie, baie geluk! ’n Seuntjie kan ek met oorgawe sê is ’n groot seën! Julle gaan die beste ouers wees!” het die sangeres Caroline-Grace Brüssow in die kommentaarafdeling geskryf.
Caroline-Grace en haar man, die oud-Springbok Heinrich Brüssow, is self die ouers van ’n 15 maande oue seuntjie, Marcel Werner, en ’n dogtertjie, Iza Grace, wat op 28 Februarie vanjaar gebore is.
Die sanger Bernice West en TV-aanbieder Leandie du Randt het ook die sanger in die kommentaar-afdeling gelukgewens.
“Geluk en baie seëninge,” het Leandie vir die paartjie toegewens.
Danie du Toit, hoofsanger van die groep Spoegwolf, wat Len bestuur, was net so sprakeloos soos die pa en het net ‘Wow!’ laat hoor.
Die sanger en TV-aanbieder Willem Botha is net so bly vir die paartjie. “Nog ’n surfertjie! Geluk julle twee,” het Willem geskryf.
Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET