Sy wou nog altyd ’n swangerskapfotosessie by die see doen en dit het gevoel asof sy in ’n “droom leef”, vertel Caroline-Grace, wat tans swanger is met hul tweede kind, ’n dogtertjie.
Die sangeres het tydens die fotosessie gestraal in ’n rok deur Wild Lily wat haar babamagie mooi beklemtoon het. Die egpaar se 14 maande oue seuntjie, Marcel Werner, het homself ook gate uit geniet op die strand.
“Ek het geweet hy sal dit ook geniet op die strand, want dit is altyd sy gunstelingplek om te wees. My doel was eintlik om hom op sy gelukkigste te hê, want vir ’n eenjarige om daai tyd van die aand (halfsewe) nog vriendelik en aktief te wees, is nie ’n maklike ding nie. So ek is bly hy het saam gewerk,” vertel sy.
Caroline-Grace, wat nou byna 37 weke swanger is, sê sy en haar man kan nie meer wag vir hul dogtertjie se koms nie. Hul tweede kleinding maak na verwagting op 8 Maart haar opwagting.
“Ek dink met die tweede kind weet jy half wat om te verwag en dan is jy nog meer opgewonde. Die babakamer is gereed, daar is net ’n paar goedjies waarvoor ek nog wag,” sê sy.
Caroline-Grace het in Oktober 2020 aangekondig sy is swanger met haar tweede kind.
“Ek was geskok, want dit was nie beplan nie, en dis so naby aan die eerste enetjie,” het sy voorheen aan Huisgenoot vertel. Heinrich was nie so geskok soos sy nie. “Hy wou nog altyd sy kinders baie vinnig op mekaar gehad het, so vir hom was dit fantasties,” het sy gesê.
Die egpaar het reeds op ’n naam vir hul dogtertjie besluit, maar sê hulle wil dit eers bekendmaak nadat sy gebore is.
Die voormalige deelnemer aan die sangkompetisiereeks The Voice SA vertel haar tweede swangerskap is baie lekker, want sy is baie rustiger.
“Ons het in ’n nuwe huis ingetrek; so dit was vir my half hierdie nuwe begin. Ek het nie enige komplikasies nie; so tot dusver is dit net vir my ’n baie lekker swangerskap.
“Met Marcel het ek mos maar ’n bietjie komplikasies aan die einde gehad met hom wat op my urinepypie gelê het, en ek het infeksies gehad. Dit was maar ’n bietjie tough aan die einde, maar met haar is daar nie sulke goed nie. Ek is baie bevoorreg,” sê Caroline-Grace.
NUWE LIEDJIE
Die sangeres en haar man woon deesdae op George in die Wes-Kaap. Hulle pak vandag die lang pad Kaapstad toe aan waar sy ’n liedjie gaan opneem.
“’n Ander liedjieskrywer het dit geskryf. Ek en hy het gekommunikeer oor wat ek wil hê, in watter rigting ek wil gaan en waar my hart lê. Toe het hy net skielik hierdie pragtige liedjie geskryf en dit vir my gestuur, en ek was dadelik mal daaroor,” sê sy.
Caroline-Grace hoop om die liedjie ná haar dogtertjie se geboorte uit te reik.
“Ek dink as ’n mens weet ’n liedjie werk, is jy opgewonde daaroor. Ek is trots daarop en dink dis ’n mooi liedjie. Ek kan nie dink dat jy nie van hom gaan hou nie,” sê sy laggend.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET