Klein Iza Grace, wat na verwagting op 8 Maart haar opwagting sou maak, is Sondagmiddag om 12:15 in die Mediclinic op George gebore. Die pienkvoet is met ’n keisersnee in die wêreld gebring en het 3,39 kg geweeg. 

“Ek het darem betyds my tasse gepak. Al haar goedjies was reg en ek moes net my laaste goedjies ingooi,” sê Caroline-Grace, wat deesdae op George in die Wes-Kaap woon. 

Die sangeres sê sy het geweet sy moet by 38 weke maar regstaan omdat sy en Heinrich se eersteling, Marcel Werner (1), ook op 38 weke sy opwagting gemaak het. “Ek wou nie onkant betrap word nie,” vertel sy laggend. 

View this post on Instagram

A post shared by Caroline-Grace (@carolinebrussow)

Caroline-Grace het in Oktober 2020 aangekondig sy is swanger met hul tweede kind. Sy het ’n week gelede aan Huisgenoot vertel haar tweede swangerskap was baie rustiger. 

“Ons het in ’n nuwe huis ingetrek, so dit was vir my half 'n nuwe begin. Ek het nie enige komplikasies nie, tot dusver is dit net vir my ’n baie lekker swangerskap,” het sy vertel. 

Hul dogtertjie se naam het ook ’n baie spesiale betekenis. “Iza Grace – (God is abundance, God is my oath). Ons hou vas aan Sy belofte. Jy het ons ’n week vroeër kom verras en ons kan nie die Here genoeg dank vir die mees volmaakte geskenk nie,” skryf die sangeres op Instagram. 

View this post on Instagram

A post shared by Caroline-Grace (@carolinebrussow)

Caroline-Grace vertel Heinrich het eintlik vir haar gesê Iza is vir hom ’n baie mooi naam. 

“Ek is erg op betekenis; dus het ek dit gaan navors en toe ek sien wat dit beteken, toe sê ek vir hom ek dink dis die perfekte naam. Ek was toe ook regtig mal daaroor - dit was dus so half sy idee. Ek dink dit is wat die Here wou gehad het ons haar moes noem. Dis vir my ’n baie besonderse naam,” sê sy. 

Dit was vir haar wonderlik dat Heinrich daar kon wees met die geboorte. “Met covid-19 weet ek dis nie altyd moontlik vir die pappas nie of was nie in die verlede nie; dus is ek so bly die hospitaal is nie meer so erg streng nie. Ek wil dit nie sonder hom doen nie; dit was vir my regtig spesiaal,” vertel sy. 

Heinrich was op sy beurt net so opgewonde om sy dogtertjie te ontmoet. “'n Mens is so dankbaar as hulle uitkom en hulle is gesond. Ek dink dit was al wat hy wou gehad het, net dat sy dogtertjie gesond en gelukkig is. Ek dink enige pappa het maar ’n sagte plekkie vir ’n dogter; dis alles vir hom baie spesiaal in daai opsig,” sê sy. 

Die sangeres en haar dogtertjie is steeds in die hospitaal en sê sy hoop om Woensdag ontslaan te word en huis toe te gaan.  

Die oumas en oupas aan albei kante het ook dadelik kom kuier en kon darem Maandag hul kleindogter ontmoet.

“My ouers is van Bloemfontein en Heinrich se ouers van Keurbooms. Net die oumas en oupas kon kom kuier. Hulle het darem 'n bietjie tyd saam met haar deurgebring, iets wat vir my so kosbaar is," vertel Caroline-Grace.

“Dis ’n baie belangrike deel vir my, dat hulle haar ’n bietjie vashou en dat sy weet sy het ’n ouma en ’n oupa. Dit was vir my baie lekker,” sê sy.  

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe