Die kleinding is snoesig in ’n pienk kombersie toegedraai. Sy slaap rustig in haar pa se arm en maak net af en toe ’n sagte kreungeluidjie. 

Haar trotse ma, die sangeres Irene-Louise van Wyk, kyk liefdevol na klein Kelsey, wat met ons besoek net ’n week oud is. 

“Ek dink net heeltyd: Sy is myne. Dit is ons dogter en ek is totaal en al halsoorkop verlief,” sê die sangeres stralend.

Kelsey sou aanvanklik eers ’n week later gebore word, maar omdat sy so klein is en ophou groei het, is sy op 3 September met ’n keisersnee in die wêreld gebring. Sy het 2,56 kg geweeg.

Hy was tóé glad nie so rustig soos wat hy nou met die bondeltjie in sy arms lyk nie, bieg die trotse nuwe pa, Nicholas du Preez (37).

irene-louise van wyk,nicholas du preez,bekendes,ge
Pa Nicholas du Preez is ook in die wolke. Foto: Jorietha Rabie

“Ek was maar op my senuwees voor die tyd. Jou vrou word oopgesny en al waaraan jy kan dink, is om nie uit te pass en dié oomblik mis te loop nie.”

Ja, sy was maar besorg oor haar Nick, erken Irene-Louise (27). “Ek het gevra: ‘Is jy oukei? Kan jy iets sien? Moenie kyk nie. Asseblief moenie flou val nie.’ ” 

Maar kort voor namiddag, met haar hand in syne terwyl rustige instrumentale musiek die teater vul, het dié paartjie ouers geword. 

“Toe ek haar die eerste keer hoor huil, het ek net na Nick se gesig gekyk, en wat ek gesien het, is iets wat ek nooit sal vergeet nie. Daar was trane in sy oë en dit was net ’n pragtige oomblik,” sê Irene-Louise, dogter van die musiekpromotor Louis van Wyk.

Nick vertel sy aanvanklike spanning oor die geboorte het gou plek gemaak vir vreugde en trots. 

“Die dokter het net ná die geboorte na my toe gekom en die trane sien loop. Sy vra toe of ek oukei is en ek antwoord net: ‘Ja, ek is net regtig baie happy.’ ”

irene-louise van wyk,sangeres,baba,kelsey du preez
Klein Kelsey. Foto: Jorietha Rabie

Kelsey se rooi hare het die nuwe ma onkant betrap toe sy haar die eerste keer vashou. 

“Ek het heel eerste gedink: Wag, sy het rooi hare?” sê Irene-Louise en boots haar aanvanklike verbasing na. “Ek het dit regtig nie verwag nie.”

Daar is wel mense in haar familie met rooi hare, vertel sy, en Nick voeg by dat sy donker hare ook heelwat ligter en ’n bietjie rooi was toe hy ’n kind was. 

Hy hou sy wysvinger uit en Kelsey vou haar piepklein vingertjies daarom. 

Sy is bly Kelsey is nou hier, sê Irene-Louise, wat ’n moeilike swangerskap vol dae van naarheid, sooibrand en ongemak gehad het. 

irene-louise van wyk,sangeres,baba
Kelsey se Disney-prinsespienk kamer. Die 5-in-1 kot is deur Baby Boutique Online en die skattige omruil-stasie is deur Stroopsoet Babagoed. Foto: Verskaf

“Die enigste ding wat wel vir my lekker was tydens die swangerskap was haar skoppies. Maar hoekom sal jy dít wil voel as jy haar nou ordentlik kan vashou? Kyk net daai gesiggie!” 

Die paartjie ontvang ons by hul huis in Mooikloof Ridge in die ooste van Pretoria. Hulle het twee maande gelede hierheen verhuis om plek te maak vir die nuwe toevoeging tot die gesin. 

“Ek het tydens die trekproses baie van Nick geleer. Hy is nie iemand wat maklik tou opgooi nie; ek dink dit is ’n goeie ding om vir ons kind te leer,” sê Irene-Louise oor haar man van die afgelope jaar. 

Hy is ’n houtouditeur – iemand wat die gehalte van hout en houtprodukte toets.

Hul troue op 30 September verlede jaar het ’n Disney-tema gehad – Irene-Louise is ’n groot aanhanger van Disney-flieks. 

irene-louise van wyk,sangeres,louis van wyk
Sy en haar pa, Louis. Foto: JC Crafford

“Ek’s van nog altyd af mal daaroor. As jy in Disney World instap, voel jy dadelik: Hier is geen worries nie en almal is gelukkig,” sê sy oor die Disney-pretparke in Amerika en Frankryk wat sy al meermale besoek het. 

Dis dus geen wonder dat sy Disney ook as tema vir haar eie klein prinsessie se kamer gekies het nie. 

Kelsey slaap steeds in ’n wiegie voor haar ouers se bed, maar ’n pragtige pienk kamer wag vir haar, met talle sagte Minnie Muis-poppe op die bed en blink roosgoue letters wat haar naam uitspel. 

En haar ma kan nie wag dat sy groot genoeg is om saam na die klassieke Disney-flieks te kyk en die trefferliedjies daaruit te sing nie. 

“Ek en Nick wou albei baie graag ’n dogtertjie hê,” vertel sy. “Ek het gebid vir ’n meisie omdat ek en my ma so ’n goeie verhouding gehad het.” 

irene-louise van wyk,sangeres,troue
Elke tafel het die naam van ’n Disney-fliek gehad. Foto: JC Crafford

Haar ma, die sangeres Irene van Wyk, is ’n dekade gelede op 12 Oktober 2009 naby Delmas in Mpumalanga in ’n motorongeluk oorlede. 

Irene-Louise was toe maar 17 jaar oud en erken dis steeds ’n stryd om met die verlies saam te leef.

“Baie mense vra my hoe ek my ma se dood verwerk het; dan sê ek ek sal hulle inlig wanneer ek eindelik weet,” sê sy met trane wat skielik vlak in haar oë lê.

Kelsey se tweede naam is Irene, ’n familienaam ter herinnering aan die ouma wat sy nooit gaan ken nie.

“Ek wil nes my ma vir my kind ’n ma wees wanneer sy ’n ma nodig het en ’n vriendin wanneer sy ’n vriendin nodig het,” sê Irene-Louise en kyk teer na haar eie dogter. 

Toe klein Kelsey, wat heeltyd stroopsoet op haar pa se skouer lê en slaap het, begin woel en saggies huil, beraadslaag die nuwe ouers vinnig oor wat die oorsaak kan wees. 

irene-louise van wyk,sangeres,troukoek
Nicholas se suster, Tamsen Annandale, het hul troukoek gemaak. Foto: JC Crafford

Dan kry haar pa blitsig vir haar ’n bottel reg. Dat sy haar ouers om haar pinkie gedraai het, is duidelik. 

“Ek sê gisteraand vir Nick: ‘Wil jy nie net van blydskap huil wanneer jy haar sien nie?’ ” sê Irene-Louise. 

“Al die emosie oorweldig jou. Dit sink nog in: Sy is nou hier, ek is ’n ma, Nick is ’n pa en ons is nou ’n gesin – ’n span.”

Van kraamverlof is daar nie veel sprake nie, vertel Irene-­Louise. “As ek kon, sou ek net heeltyd na haar sit en staar, maar ek weet ek wil ook graag werk.” 

Sy is tans besig om ’n sprekersgeleentheid te reël wat in November sal plaasvind. 

irene-louise van wyk,sangeres
Irene-Louise en haar oorlede ma, Irene. Foto: Verskaf

Die geleentheid, getiteld ’n Dag van Vrouekrag, is die eerste wat sy aanpak as bestuurder van die agentskap Music Profile Management, die onderneming wat haar pa destyds gestig het.

Talle bekendes, onder wie die aktrises Leandie du Randt en Bertha le Roux-Wahl en die voormalige Mej. Suid-Afrika Melinda Bam, sal sprekers by dié geleentheid in Pretoria wees, en Irene-Louise vertel sy sal self ’n sangoptrede lewer. 

Die sangeres beplan nie om van haar eie musiekloopbaan afstand te doen noudat sy ’n baba in die huis het nie. 

Sy het haar nuwe enkelsnit, “Iziiit?”, ’n dag voor Kelsey se geboorte uitgereik.

Dié uitreiking is nie doelbewus beplan vir die geboortedag nie, hou Irene-Louise vol – sy het net gewag dat die lente aanbreek voor sy die prettige liedjie met mense deel. 

Maar die tydsberekening het eintlik goed gewerk, voeg sy by. “Dit wys vir mense ek is ’n familiepersoon, maar ook baie ernstig oor my loopbaan.”

Sy wil hê Kelsey moet deel wees van alles in haar lewe. “Sy is deel van ons span.”

Om dié rede gee sy nie om om die tye wanneer Kelsey slaap te benut deur e-posse te beantwoord en telefoonoproepe te maak nie. 

“Dit is vir my die grootste voorreg om saam met haar tyd deur te bring en om haar mamma te wees, maar ek wil ook vir haar wys ’n mens kan albei doen,” sê Irene-Louise.

“Ek wil vir haar ’n rede gee om trots te wees.” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.