Die gedagte het in die middernagtelike ure ontstaan toe Albertus Potgieter van iTickets vir Ignaz Streicher van die radiostasie Overvaal Stereo gevra het of hulle kan saamspan om ’n konsert te hou om geld vir die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark in te samel nadat ’n loopbrug op 1 Februarie ingestort en die lewe van vier leerders geëis het.

“Tien uur later was alles gereël,” vertel Ignaz. “Al die kunstenaars was aan boord, die klank gereël, die plek, skoonmakers, die hele vertoning. En in minder as 72 uur was al 2 500 kaartjies uitverkoop. Almal betrokke het hul dienste en optrede gratis aangebied.”

Driehoek
Willem Bo­tha op die verhoog. Foto: Papi Morake.
Driehoek
Juanita du Plessis, Jo en Willem gesels voor die konsert. Van die slagoffers se families wat teenwoordig was, het die geleentheid gekry om die kunstenaars agter die skerms te ontmoet. Foto: Papi Morake.

Mense het van naby en ver gekom en reeds ure voor die konsert by die Emerald Resort & Casino se deur tougestaan.

Van die skool se matrieks het in hul pers-en-geel skooluniforms – en met ballonne van dieselfde kleur – ’n erewag by die deur gevorm.

Driehoek
Brendan Peyper en sy groep het hul optrede in die Hoërskool Driehoek se skoolbaadjie gedoen.. Foto: Papi Morake.
Driehoek
Juanita (middel) en haar kinders die sangers Franja du Plessis en Ruan Josh het die konsert op die nippertjie tussen hul ander optredes ingepas. Foto: Papi Morake.

Ondanks die pyn van die tragedie was daar ’n gevoel dat oorwinning met volharding moontlik is.

Jo Black, Juanita du Plessis, Brendan Peyper, Willem Botha, Franja du Plessis, Ruan Josh en Manie Jackson het opgetree. Ignaz sê hulle gaan met verteenwoordigers van die skool vergader om te besluit hoe die R250 000 wat hulle deur kaartjieverkope ingesamel het, aangewend sal word.