Quanita en Brian is al meer as vyf jaar ’n paartjie. Hulle het in Januarie 2018 ewige trou aan mekaar beloof.

Die onthaal het Saterdag in die Kaapse stadsaal plaasgevind. Dié gebou is baie spesiaal vir haar, vertel Quanita.

Sowat 300 van die paartjie se naaste vriende en familie het die groot dag saam met hulle in Kaapstad gevier.

“Ons het so te sê die hele tweede verdieping van die stadsaal vir onsself gehad, en ons het in die heel mooiste gebou fees gevier. Dit was perfek!,” vertel Quanita aan Huisgenoot.

Die paartjie het reeds in Januarie vanjaar afgehaak. Foto: Retha Ferguson
Vir haar groot dag in Januarie, het Quanita 'n goue rok aangehad. Foto: Retha Ferguson

Die aktrise met die borrelende persoonlikheid het die koppe laat draai in ’n rooi-en-goud uitrusting en het met ’n rooifluweel-hooftooisel op haar kop gepryk.

Foto: Retha Ferguson

Onder die bruid se 25 strooimeisies was bekende gesigte soos die oud-7de Laner Diaan Lawrenson, wat saam met haar in die fliek Susters te sien was, en die aktrise Kim Engelbrecht, wat onlangs in die Amerikaanse superheldreeks The Flash as The Mechanic te sien was.

Die aktrise Nadia Valvekens, wat Pippa in Binnelanders gespeel het, was ook een van die strooimeisies.

“Ek het Indië verlede jaar besoek en het die materiaal vir my goue trourok en die romp daar gekoop. Ek was geïnspireer deur die kultuur daar,” vertel sy oor haar bruidsuitrusting.

"Ek moet sê ons het onsettend mooi gevoel en gelyk. Die hooftooisel was 'n gelukkige ongeluk! En toe ek sien dat dit my Moslemerfenis en plaaslike Suid-Afrikaanse styl kombineer, was ek in die wolke. Maar drie meter fluweel op my kop was nogal 'n uitdaging,” sê sy.

Quanita meen sy en haar ma het albei pragtig gevoel en gelyk. Foto: Retha Ferguson

Sy geniet omtrent die getroude lewe. “Ek is wel steeds besig om van die high van Saterdag af te kom! Dis was so magies,” sê sy.

Quanita en Brian het Saterdag die onthaal van hul troue in Januarie gevier. Foto: Retha Ferguson

Vir die paartjie was elke oomblik van die onthaal vir hulle ’n hoogtepunt.

Van die Maleierkoor wat tradisionele Afrikaanse trouliedjies gesing het, die toesprake, die voorlesing uit die Koran, die nageregte en selfs die springmieliemasjien was ’n hoogtepunt op die mooi dag.

Quanita meen elke oomblik van Saterdag se onthaal, was vir haar 'n hoogtepunt. Foto: Retha Ferguson
Die Malay-koor het die gaste met tradisionele trouliedjies vermaak. Foto: Retha Ferguson

En haar toekomsplanne?

Quanita vertel grappenderwys dat sy nie eens seker is wat sy vir die volgende uur gaan doen nie, maar die nabye toekoms sluit beslis in troukoek eet en om die ongelooflike geskenkbewyse te gebruik en die winkels in te vaar.

Die paartjie het onlangs hul wittebrood gevier. Hulle het vir twee week in Portugal uitgespan.

“Vir nou geniet ons net elke oomblik,” sê Quanita.