Die senuagtige bruidegom het rede tot kommer: Sy bruid is laat. Dis al ná vyfuur – as alles volgens plan verloop het, moes die paartjie al 15 minute gelede voor die kansel gestaan het.

Dan kyk die akteur David Rees die soveelste keer na sy horlosie en erken hardop: “Ek begin nou effens bekommerd raak.” Maar die bruid het nie die hasepad gekies nie en is ook nie vandag fashionably late nie. Sy en haar strooimeisies is per ongeluk in hul kamer by die Ramkiki-trouvenue toegesluit, is die nuus wat ’n gas bring.

Enkele minute later swaai die swaar houtdeure van die grasdakkapel eindelik oop en die gelag van die 88 gaste bedaar. Toe die violis Johann die musiek van Christina Perri se A Thousand Years speel, kan die verligte bruidegom hom skaars ’n meer gepaste lied voorstel: I will die every day waiting for you.

Op 50 is dié dag sy grootste prestasie nóg, het David, 7de Laan se Chris Welman, vroeër vertel; daarom wou hy spiekeries lyk vir Herculina Pentz (40), sy meisie van die laaste jaar, wat op haar verjaardag vandag sy bruid word.

David Rees
Van links is Johan Bothma (strooijonker), Heidi Barnard (strooimeisie), Lina en David, Wanya Eloff-Rees (David se dogter), Rugby Angel (strooimeisie) en Marchant Steenkamp (strooijonker). Foto: Fani Mahuntsi.

Noudat die groot oomblik eindelik aangebreek het, raak die man in sy koningsblou baadjie, afgerond met ’n das van dieselfde kleur en ’n swart knopieshemp, haastig. Die sleep van die bruid se moulose koningsblou rok trek oor die vloer terwyl sy in die paadjie afstap, maar David kan nie wag nie.

Tot groot vermaak van die gaste stap hy haar tegemoet toe sy nog meters ver van die kansel af is en stap dan saam met haar terug tot voor die prediker Alistair Westcott.

Buite is dit ’n tipiese warm Desemberdag, maar die hoë bome om die kapel in Honeydew, Roodepoort, sorg vir heerlike skadu en koelte. Die blik deur die houtraamvensters skep die gevoel dat vandag se intieme seremonie in die hartjie van ’n lowergroen woud plaasvind.

“Dis die perfekte dag vir trou,” sê Alistair aan die bruidspaar. “So ’n wolklose dag kon nie bestel word nie. Dis wat elkeen vir julle wens: ’n wolklose huwelik, een wat herinner aan ’n dag soos vandag.”

Toe die nuwe egpaar aan die einde van die seremonie ringe ruil, sê elkeen op sy beurt vir mekaar: “Terwyl ek hierdie ring aan jou vinger sit, belowe ek aan jou liefde en trou – nou en vir ewig.”

David Rees
Die egpaar nadat hulle die papierwerk afgehandel het. Foto: Fani Mahuntsi.

Hul paaie het toevallig in Augustus 2017 gekruis, vertel die paartjie ’n dag voor hul troue in ’n gesellige restaurant by die trouvenue. David het destyds by ’n vriend gebly en sy huissleutels verlê en moes laataand dié vriend se romantiese afspraak onderbreek om die sleutels af te haal.

Daar in die restaurant het hy vir Lina, soos hy Herculina noem, gesien waar sy by ’n ander tafel saam met vriende kuier. David onthou hy het dadelik geweet: Met háár gaan hy trou.

“Ek kan sy nerves onthou toe hy ’n drankie gaan haal om die moed te kry om met my te kom gesels,” vertel die aantreklike rekenmeester. David lag. “Ek kon sommer uit die staanspoor sien gewone pick-up lines gaan nie vir dié girl werk nie. Sy was anders; ek kon dit van die begin af sien.”

Daardie aand, vroeg in Augustus, het hulle twee uur lank tot net ná tienuur gekuier. Toe Lina groet, wou sy nie sommer haar nommer aan die vreemdeling gee nie. Maar David het beloof: “Vir jou sal ek opspoor.” Wat hy inderdaad reggekry het, met herhaalde probeerslae en die hulp van gemeenskaplike vriende.

Voor die einde van die maand het David die vraag gevra: “Kan ek maar jou kêrel wees?” En Lina se antwoord was: “Jy mag maar.” Sy het nie geweet hy is ’n bekende plaaslike akteur nie, vertel Lina, veral omdat David in die eerste ruk van hul verhouding met verlof was.

David Rees
Die sny van die troukoek. Foto: Fani Mahuntsi.

Eers toe sy later met ’n vriendin praat oor al die vreemde mense wat David kort-kort foto’s vra, het sy agter die kap van die byl gekom. “Maar ek het reeds verlief geraak op die man agter die akteur,” koer Lina. “Die res het nie vir my saak gemaak nie.”

David was voorheen te sien in onder meer die TV-reeks Egoli, die fliek Susanna van Biljon en toneelstukke soos My Boetie Se Sussie Se Ou en Die Waarsêer. Hy het ’n dogter uit ’n vorige verhouding.

Tydens ’n vakansie in Windhoek in Namibië in Desember 2017 het David besluit hy móét haar vra om te trou, vertel hy. “Almal wat haar ontmoet het, was gek oor haar. My vriende het dit ook bevestig: Sy is ’n keeper.

“Ek het nog nooit so gevoel nie – en nou, op 50, is dit die rede waarom ek die eerste keer trou.”

Op sy 50ste verjaardagpartytjie, op 2 Februarie verlede jaar, het hy haar by die Bosheuvel Country Estate in Muldersdrift voor meer as 100 gaste, onder andere bekendes soos Amor Vittone en 7de Laan-akteurs soos Hennie Jacobs en André Lotter, die jawoord gevra. Sy senuwees het geknaag, want sy was te gespanne om ja te sê.

“Toe knik ek net,” onthou Lina. “En die gaste gee ’n dawerende applous,” vertel David.

Die akteur straal toe hy oor sy lewe saam met Lina praat. Die egpaar gaan ná die troue in Zonnehoeve naby Muldersdrift nesskop. “Vir die eerste keer in my lewe is ek ’n heel mens – en dis fantasties, want ek kan ’n heel man vir Lina wees.” Lina koer terug: “Ag, hy is ’n regte gentleman, die soort wat jy nie sommer meer vandag sien nie.”

David Rees
Gedroogde roosblare reën oor die nuwe egpaar. Foto: Fani Mahuntsi.

Hy kon nie wag om sy titel as geswore alleenloper eindelik prys te gee nie, sê David oor Lina nadat die nuwe egpaar troufoto’s by die laning wilgerbome op die landgoed geneem het. Die gaste is intussen op die oewer van die meer met vonkelwyn getrakteer.

Vir haar wat Lina is, gee hy op enige dag die wêreld prys – mits dit beteken hy kan aan haar sy bly. Sy het die kat eers goed uit die boom gekyk, terg Lina. “Ek wou weet hoekom hy so lank ’n alleenloper was . . . waarom hy nooit aan trou gedink het nie. Maar ek weet nou ek sou hom andersins nooit ontmoet het nie. Dan sou ons nooit hier gewees het nie en nooit so gelukkig gevoel het nie.”

Toe die egpaar later die onthaalsaal binnestap, is daar luide applous. Eenvoud was vir hulle belangrik, het hulle vroeër vertel, en dis te sien aan die elegante dekor, drielaagtroukoek van sjokolade, rooi fluweel en wortel-en-pekanneut en spyskaart met tradisionele geregte soos gebraaide aartappel, groente en beesvleis.

David Rees
Lina se ring het ’n 1,5-karaat- wit diamant. Foto: Fani Mahuntsi.

Ook Lina se ring, ’n 1,5-karaat-witdiamantring, is nes sy dit wou hê. “Ek het hom nie eens vertel van die prentjie in my kop nie, maar toe kry ek die ring waarvan ek gedroom het,” vertel sy.

“Ek wil vir God dankie sê vir hierdie dag en vir hierdie wonderlike vrou,” sê David later in ’n toespraak en sluk swaar aan die trane. “Sy is perfek, en ek weet nie wat ek gedoen het om dit te verdien nie.”

Toe die egpaar die dansvloer open, speel ’n Barry White-liedjie oor die luidsprekers: I never take anything for granted. Only a fool maybe takes things for granted . . .

Net ná die dans, nog voor die applous van die gaste bedaar het, sê David aan sy bruid: “Hierdie liedjie weerspieël my hoop vir ons huwelik: dat ek jou nooit as vanselfsprekend aanvaar nie, maar elke oggend en elke aand en elke oomblik onthou hoe kosbaar jy vir my is.”

Die pasgetroudes het die Kersvakansie saam met familie op Hartbeespoort deurgebring, en David beplan ’n wittebrood vir later. Al wat hy hieroor verklap, is: “Dis iets om na uit te sien.”

Die bruidspaar bedank: RUBY ANGEL (BRUID EN BLOMMEMEISIES SE ROKKE) 078-021-1880; YOUR PAL MEN’S BOUTIQUE (BRUIDEGOM EN STROOIJONKERS SE PAKKE) 012-346-3355; VITALIS HOLDINGS (KONTANTBORG) 072-679- 3660; BESTDRIVE CENTURION (KONTANTBORG) 087-654-0790; LEE TEC CC MECHANICAL SERVICE CENTRE (BORG VAN RINGE EN KONTANTBORG) 085-223-3415; CAFE PATISSE (TROUKOEK EN NAGEREG) 011-026-0411; RAMKIKI COUNTRY RESTAURANT AND WEDDING ESTATE (TROUVENUE) 011-958-0503; ELECTRONIC CONTENT HUB (VIDEOGRAAF) WWW.MOGUL.AFRICA; DJ KALLIE (MUSIEK) 072-873-8552; JOHANN (VIOLIS) 063-215-8558; JD Flowers (Blomme en tafelversierings) 0768743445