Die 21-jarige sanger, wat al jare lank in Bloemfontein woon, het onlangs die Rosestad vir die Jakarandastad verruil en pas “na ’n klein plasie noord van Pretoria” verhuis.

Hy het boonop die hoofrol in die musiekblyspel Buddy – The Buddy Holly Story losgeslaan wat in Mei en Junie in Emperors Palace in Kempton Park op die planke is.

Sy Jack Russell, Trompie, is sy “regterhand”, vertel Brendan. Sy viervoetvriend toer soms ook saam met hom as die omstandighede dit toelaat. Foto: Instagram

“ ’n Oom (Frans Swart van Lefra Produksies) bel my aan die begin van die jaar en sê ek moet vir hom Buddy Holly op die verhoog speel. Toe antwoord ek: ‘Oom, ek is nie ’n akteur nie en ek weet ook nie wie Buddy Holly is nie.’ ”

Maar toe Brendan meer uitvind, was hy gou lus vir die nuwe uitdaging en die kon­trak is geteken.

Brendan Peyper het van ’n Vrystater in die ruk-en-rol-legende Buddy Holly verander. Foto: Verskaf

Nou ontvang dié stoere Vrystater vyf dae per week stemafrigting om die Amerikaanse aksent van dié ruk-en-roller van die middel-1950’s aan te leer.

Dis harde werk, bieg hy. “Dit voel vir my of ek ’n alien-taal moet aanleer.”

Brendan bestudeer ook nou alle fliek­mate­riaal wat oor Buddy beskikbaar is in ’n poging om onder sy vel in te klim.