Die aktrise Rolanda Marais (40) het Donderdag ’n kiekie van haarself met haar byna 17 000 Instagram-volgers gedeel waar sy in ’n byderwetse 1980's-geïnspireerde blombedrukte rok pryk. En in dié uitrusting, en met haar oulike haarstyl, was sy uitgeknip die Afrikaanse sangeres Carike Keuzenkamp.

“Man, Carike... as daar ooit ’n fliek gemaak word oor Carike Keuzenkamp benoem ek myself dankie…” het sy grappenderwys by die pragtige foto geskryf. 

Rolanda het aan Huisgenoot verklap dat sy tans besig is om ’n internasionale fliek te skiet wat in die 1980's afspeel. 

“Dit was heel toevallig dat ek besef het ek lyk soos Carike op die foto,” vertel sy.

Die sangeres, Carike Keuzenkamp. Foto: Verskaf

Rolanda sê sy is beslis ’n aanhanger van Carike omdat sy met haar musiek grootgeword het. Sy het die immergewilde sangeres al ontmoet en meen sy is ’n lieflike en baie gawe mens.  

“Niemand het vantevore aan my gesê ek lyk soos Carike nie, want normaalweg dra ek my hare heel anders as wat dit op die foto lyk,” het sy bygevoeg. 

Verskeie bekendes is mal oor die foto. Die aktrise Christi Panagio, wat die VIA-mooimaakprogram Die Skatties aanbied, meen daar is nou ’n klomp vervaardigers wat skielik idees kry. “Ongelooflik,” het die rocker Karen Zoid gesê. Clint Brink van Binnelanders-faam het ook gedink die foto is "baie mooi".

Rolanda is bekend vir haar unieke styl. Sy is gaande oor die styl van die 1980’s, vertel sy aan Huisgenoot.

“Die mode in die 1980’s was baie bold en out-there. Ek hou van mense met ’n bold modesin,” sê sy. 

Nee kyk, dis nou 'n dubbelganger!