Prinses Diana se ikoniese trourok met sy groot pofmoue en eindelose voue tafsy het soveel bruide geïnspireer dat dit belangrik was om dit presies reg te kry.

David Emanuel, wat Diana se rok saam met sy destydse vrou, Elizabeth, ontwerp het, sê dit was ongetwyfeld een van die oomblikke wat sy loopbaan gedefinieer het. David dien as konsultant vir Netflix om te help met die geskiedkundige dramareeks wat oor koningin Elizabeth se heerskappy handel.

View this post on Instagram

A post shared by David Emanuel (@david_emanuel)

Hy het ’n presiese replika gemaak van die rok wat prinses Diana op 29 Julie 1981 gedra het en sê om die herskepte weergawe te sien was “soos om ’n spook te sien”. “Dit bring soveel herinnerings terug.”

Prinses Diana maak haar langverwagte debuut in die vierde seisoen van die reeks, wat van Sondag hier in Suid-Afrika beskikbaar is. Die 24-jarige Britse aktrise Emma Corrin vertolk die rol van Diana. David sê Emma was die perfekte koninklike bruid.

“Hulle het die hare reggekry en sy het haarself soos Diana gedra; skaam, dog stralend. Om haar te sien, was soos om terug te gaan in tyd,” sê David.

Amper vier dekades het verloop sedert David en Elizabeth aan Diana voorgestel is. Hy sê die geheimhouding rondom die rok was so erg dat hy sketse moes opskeur nadat hy dit vir Diana gewys het en dit in ’n kluis in hul ateljee in Mayfair moes bêre. Hulle het ook vir die prinses die skuilnaam Debra gegee.

Volgens David was dit dieselfde storie met die ontwerp van die replika. “Ek het ’n oproep ontvang om na die Elstree Studios te gaan en daar was die strengste sekuriteit wat ek nog ooit gesien het. Dit was in geheimhouding gehul.” 

Hy het talle wenke met die kostuumontwerper, Amy Roberts, en haar span gedeel, en selfs vir hulle die oorspronklike persverklaring gebring wat om 10:30 op die dag van die troue uitgereik is, en saamgeval het met die publiek se eerste kykie na die prinses. 

“Ek het vir hulle hope wenke gegee: Sit net in die moue, gebruik baie sprankel in die sluier, kies die regte kleur vir die materiaal,” sê hy.

Die herskepte trourok het sowat R180 000 (£9 000) gekos. “Ons het alles uitgehaal. Die detail is eksieperfeksie.” Emma sê jy kon ’n speld hoor val toe sy vir die eerste keer in die rok verskyn.

“Ek het uitgestap en almal het heeltemal stil geword.” Sy sê die rok verteenwoordig werklik vir Diana. “Meer as enigiets wat ek in die reeks dra, is dit uitgeknip sy.”

DIE ONTWERPPROSES

DIE SKEP VAN DIE ROK

David sê die span naaldwerkers, rokmakers en assistente op die stel het almal hand bygesit om die trourok te skep. “Daar was sowat 15 of 20 mense wat patrone uitgesny en by masjiene doenig was,” sê hy.

Volgens Netflix is drie mense wat onder Amy gewerk het gevra om net aan die rok te werk. Daar was in 1981 ook net drie mense wat aan die rok gewerk het: David, Elizabeth en die naaldwerkster Nina Missetzis. 

“Dit het ons lewe oorgeneem. Dis al waaraan ons gedink, gepraat en gedroom het van die oomblik toe ons die taak gekry het,” sê David.

STEMMINGSBORDE 

Die kostumiers van The Crown het alles van foto’s, video’s en koerantartikels tot kulturele verwysings geraadpleeg. Omdat elke lid van die koninklike familie hul eie stemmingsbord het, “is die moontlikhede eindeloos” wat inspirasie betref, sê Amy.

“Omdat Diana een van die vroue was wat die meeste ter wêreld afgeneem is, het hulle tonne verwysings gehad,” sê David.

DIE REGTE KLEUR 

David sê nie baie mense is bewus daarvan dat Diana se rok geskitter het met 10 000 pêrels en piepklein blinkertjies wat alles met die hand geborduur was op die tafsybostuk en -romp nie.

Hy sê ’n kykie na die replika-rok het gewys dat elke detail herskep is, tot op die strikke op die krae en moue, asook die onderrok gemaak van 85 m tulle. 

“Ek het vir die kostuumafdeling vertel van ons truuks om die rok net reg te laat sit. Moue soos daardie pof nie net op hul eie nie. Ons moes net binne sit sodat dit nie binnetoe frommel nie. En hulle moes die romp met lae tulle volstop,” verduidelik David.

“Ons het ’n blou strik in Diana se lyfband vasgestik as haar ‘ietsie blou’. En ons het ’n goudsmid gevra om vir haar ’n klein goue perdeskoen te maak om haar voorspoed toe te wens.”

KANT VIR AFRIKA

David sê The Crown se kostumiers het sowat 100 m se kant gekry by Roger Watson, dieselfde familieonderneming in Nottingham wat die oorspronklike materiaal in 1981 verskaf het.

“Ek het vir hulle gesê om hope pêrels en blinkers op die kant van die bostuk te sit. Diana was baie spesifiek daaroor. Ek sal nooit vergeet hoe sy gesprankel het nie.”

DIE SLEEP 

Prinses Diana wou die langste sleep in die geskiedenis van koninklike troues hê, sê David, en hulle het ’n 7,6 m-stuk materiaal (600 cm langer as die vorige rekord) geskep. Die Netflix-weergawe is glo 1,5 m langer.

BYKOMSTIGHEDE

Volgens die assistent-kostuumontwerper van The Crown, Sidonie Roberts, is bykomstighede op onwaarskynlike plekke gesoek.

“Ons het materiale, klere, knope, juweliersware en bykomstighede van ’n magdom plekke verkry, wat wissel van handelaars, materiaalskoue en plekke wat kostuums verhuur en markte, antieke markte en bagasiebakverkope,” sê Sidonie.

DIE AANPASSESSIES

Dit het die kostuumafdeling vier maande geneem om die replika-rok net reg te kry, waartydens Emma vyf aanpassessies gehad het. Die tydsraamwerk was byna identies aan Diana s’n.

Dit het ses maande geneem van die oorspronklike sketse tot die troudag en vyf verskillende bostukke vir Diana om perfek in haar rok te pas. 

’N SPAN OM HAAR AAN TE TREK

Vanweë die grootte en gewig was 10 mense nodig om Emma in die rok te help. Diana het net twee gehad, en een van hulle het haar gevolg bygestaan.

“Elizabeth was in die ander kamer by Clarence House en het probeer om die strooimeisies kalm te hou en ek was met Diana in ’n ander kamer besig om haar in die rok te kry,” sê David.

As hy terugkyk na die mooi herinnerings sal dit betowerend wees om Diana se ikonies rok herskep te sien, “maar niks sal die betowering van daardie dag kan vasvang nie".

  • Die vierde seisoen van The Crown is nou op Netflix beskikbaar.

Bronne: Dailymail.co.uk, Tatler.com, Independent.co.uk