As mooi ’n adres gehad het, was dit sweerlik dié statige dubbelverdiepinghuis in een van Suid-Afrika se gesogste woonbuurte.

Met sy klassieke boustyl en imposante pilare aan weerskante van die voordeur herinner dit aan die Amerikaanse presidentswoning. Maar iets is ook anders . . .

Ja, val dit jou dan op: Die lyne is skoner, sonder daardie oordaad van die Withuis. Meer klassiek en Europees.

Stap jy by die voordeur in, is alles uiters modern – en natuurlik eksieperfeksie gegewe die besonderse smaak van die inwoners.

Die marmer-en-leiklipvloere is vlekkeloos, goue rame hang in simmetriese lyne teen die mure, die pienk bos sintjosefslelies in die middel van die vertrek is lieflik gerangskik.

Die klassieke huis met sy wit houtraamvensters en imposante pilare herinner aan die Amerikaanse Withuis. Foto: Papi Morake

Peperduur meubels, alles wit of skakerings daarvan, is met groot sorg in die enorme vertrekke geplaas om net die regte indruk te skep. Niemand en niks spring die Glam Guru se hande vry nie, terg Hannon Bothma met duiweltjies in sy oë.

Nie die hare, grimering of klerekas van een van die “lelike eendjies” wat deur hom in pragtige swane omskep word nie – en ook nie die binnenshuise versiering van sy woonplek hier in Sandhurst, Johannesburg, nie.

Kyk 'n mens so na die TV-stylghoeroe kort ná sy 50ste verjaardag, buig hy nie eens voor Vader Tyd die knie nie. Daar is nie die geringste teken van ’n plooi of ’n grys haar nie.

Sy sjiek knopieshemp lyk asof dit aan sy gespierde bolyf gegiet is. Hannon sweef as’t ware met die trap af na die grondvloer toe hy ons in die ingangsportaal verwelkom.

Hannon rangskik ’n bos blomme in een van die leefruimtes. Foto: Papi Morake

Deur die groot houtraamvensters is die twee “kinders” – soos Hannon en sy lewensmaat van die afgelope 27 jaar, Julius Swart, na hul peperduur wit Mercedes- Benz-motors verwys – sigbaar waar hulle buite geparkeer staan.

Dit lyk kompleet asof hulle na binne loer. Dis Julius wat die voortou geneem het met die ontwerp en restourasie van die huis waar hulle in April ingetrek het, vertel Hannon beskeie.

Maar hy wat Hannon is, moet mooigoed om hom hê, vertel hy en skuif ’n vaas op die tafel dat dit net reg staan. “Almal het iets nodig. My iets was nog altyd om aan die binnekant van ’n juweelkissie te bly,” sê hy en glimlag.

In sy lewe is byna alles wit, skerts Hannon – selfs sy en Julius se Mercedes-Benz-motors. Foto: Papi Morake

Weelde sien jy oral in die huis met sy drie slaapkamers en drie badkamers, maar dit spreek ook van emmers vol nederigheid en liefde. Hannon en Julius staan met hul voete plat op die aarde, al is hul voete in stylvolle ontwerperskoene.

Hier waar die paartjie langs die swembad in hul boomryke tuin sit, maak die oggendson ligstrepe deur die blare. Maar vir Johannes, soos Hannon gedoop is, voel dit soos gister toe hy nog met skoolvakansies die kasregister in ’n supermark op Vryburg, Noordwes, beman het.

Met sy vakansiegeld het hy dan sommer ’n paar goedkoop kledingstukke gaan koop en opgekikker, nes hy vandag nog mense se voorkoms met die minimum bykomstighede omtower.

“Mooimaak was nog altyd ’n groot deel van my lewe. Maar deesdae hoef ek darem nie meer goedkoop kledingstukke te koop en dit met kleurstof ’n duurder voorkoms te gee nie,” sê hy en trek sy noupassende broek reg.

Dit was nie ’n maklike pad na die toppunt van styl nie. Hy en Julius het mekaar ontmoet toe hy as haarkapper in ’n klein salon in die Mount Nelson-hotel in Kaapstad gewerk het.

Hulle het ’n kamer gedeel met net ’n tuimeldroër, matras en ’n paar handdoeke op hul naam. Dit was ’n armoedige bestaan.

Die handdoeke het hulle gebruik om die vensters mee te bedek – moeilik om te glo as jy na die gordyne van ryk geborduurde materiaal hier in hul Sandhurst-huis kyk.

Die paartjie het ’n swembad en dak­tuin laat bou om die huis ’n ontspanne atmosfeer te gee. Foto: Papi Morake

“Jy sal dink ons was rasend ongelukkig, maar dit was glad nie die geval nie,” sê Hannon gou.

“Daar was uitdagings. Ons het soms net genoeg geld gehad om die huur te betaal. Dan het ons maar in die winkels rondgehang en soms van die kookdemonstrasies se kos geëet.

“Terug huis toe klim ons dan by die kattebak van Julius se ou Volkswagen-stasiewa in, want die deure was vasgeroes en kon nie meer oopmaak nie.

“Met tye het ons van die see geleef. Ons het gaan mossels pluk, dit by die huis opgekook en later gevries. Tot vandag toe eet ek nie mossels nie. Die reuk laat my dink aan armoede,” sê hy.

“Maar ons was rietskraal en beautiful,” beduie hy met sy hande teen sy lyf. “Dis die een voordeel van swaarkry – ons het absoluut fantasties gelyk.”

’n Skoothondjie kom die trap afgetrippel en maak haar gemaklik in ’n sonkol op die groot stoep wat op die swembad uitloop.

Wanneer hy smiddae tuiskom, vertel Hannon, gaan lê hy op sy rug om Bella en Bessie, die paartjie se Pekinese hondjies, te vertroetel. Maar nie vandag nie.

Hy glimlag net en vermy oogkontak met die hondjie wat om sy aandag smeek hier waar hy kiertsregop op die bank sit, met elke haar van sy welige swart kuif op sy plek.

Hy weet wanneer ’n mens op die grond kan rondrol en wanneer jy eerder jou pose moet hou, sê hy met ’n koppie koffie in die hand, pinkie in die lug.

‘G’n plek is lelik as jy jou kwas en jou goetertjies uitpluk nie’

“Jy fake dit deur alles,” vertel hy voort oor die sukkeldae. “As jy vrek arm is, gaan pluk jy blomme in die veld en gooi hulle in ’n pot water. Dan sit jy dit in die middel van ’n vertrek waar dit mense se aandag van die afgryslike dinge kan aftrek.

“Jy leef in jou kop die lewe wat jy graag wil hê, anders is jy dalk altyd tussen aaklige dinge vasgevang.”

Dis dié dat hy met sy eerste groot tjek ’n stel peperduur pienk glase gekoop het. Julius het baklei en gesê hy moet die glase terugvat, maar hy het vasgeskop.

Toe brand ’n deel van die Mount Nelson af en Hannon open sy eie salon. Gou het die mense begin instroom, en hy en Julius het geweet: Dié besigheid gaan hulle na groot hoogtes neem.

Eers was dit ’n soort mooimaakwerkwinkel . . . en die vroue het aan Hannon se lippe gehang. Nie lank daarna nie het hy die blink idee gekry om Hannon-produkte te bemark.

Hannon en Julius wou hê hul slaapkamer moet herinner aan iets uit ’n koningshuis – glinsterend en luuks. Foto: Papi Morake

Eers was dit net ’n grimeerseëlaar wat hulle aan salonne gesmous het, maar vandag het die Hannon-handelsnaam meer as 200 produkte in nagenoeg 2 000 salonne landwyd.

Van daar af was dit net ’n stylvolle sprong na die huis hier in Sandhurst met sy magdom kristalkandelare wat die vertrekke verlig en ’n luukse tweeslaapkamerwoning vir Lena Molaodi (56), hul huishulp, wat al 17 jaar ma is vir dié twee.

“Niks van hierdie dinge om my sou moontlik gewees het as dit nie vir Julius en die res van my ondersteuningsnetwerk was nie,” sê Hannon en voer een van die honde ’n southappie.

Die kompakte maar gesellige tuin is ’n gunstelingkuierplek saam met familie en vriende. Foto: Papi Morake

“Ek en Julius is albei estete. Die dinge om my beïnvloed my gemoed. Daarom het ek die eerste keer toe ek op ’n besoek aan België ’n huis soos dié sien vir Julius gesê dís nou wat ons nodig het.”

Maar hulle sal gelukkig wees in enige plek, hou hulle vol.

“Eintlik is ons glad nie vol draadwerk nie,” sê Hannon en glip sy suèdeskoene aan voor hy oor die gras na die stoep loop.

“Ek bly net nie in ’n gastehuis sonder matte nie omdat ’n teëlvloer koud is. Solank ’n ding net mooi is, maak dit my gelukkig.

Een van die badkamers. Foto: Papi Morake

“Terwyl dié plek na ons smaak getimmer is, het ons meer as ’n jaar in ’n klein eenslaapkamerwoonstelletjie gebly. Met net twee messe en twee vurke en twee borde. Dit was fantasties. Ons het net my televisie-wardrobe uitgehou, en dit het tot teen die dak gestaan. Ek moet darem steeds mooi lyk as ek ander mense wil mooimaak.

“Maar jy kan my in enige afgryslike plek sit en ek sal jou mooimaak. G’n plek is lelik as jy jou kwas en jou goetertjies uitpluk nie.”

Hulle skep “monstertjies”, soos Julius na hul gesamentlike projekte verwys, oral waar hulle kom. Hulle is gemaklik met al hierdie weelde om hulle, maar dis die vrugte wat jare se harde werk afgewerp het.

En sou hulle dié mooi lampe en duur kunswerke moes prysgee, sou albei eenvoudig weer inspring om dieselfde lewe van voor af te bou. “Armoede is ’n ding wat in jou kop is,” vertel Julius. Hannon knik instemmend.

Die portaal is versier met goue rame en kandelare, ’n marmerbladtafel en ’n vars bos blomme. Foto: Papi Morake

“Ons het nog altyd gevoel ons is welaf en het nog nooit gedink ons is gebou vir armoede nie. Selfs in die moeilikste tye het ons die dinge rondom ons gebruik om vir ons vreugde te bring. Dis alles ’n state of mind.”

Die lewe moes hulle leer dat rykdom nooit ’n oplossing vir alles kan wees nie. Jare lank moes Hannon toekyk hoe sy ma met ’n ongeneeslike siekte swaarkry tot dit haar lewe 15 jaar gelede op die ouderdom van 57 geëis het.

Die genetiese siekte is bekend as osteogenesis imperfecta en word gekenmerk deur bros beendere, verduidelik hy.

“My ma was ’n emosionele skepsel soos ek,” vertel Hannon. Vir die eerste keer is hy sigbaar hartseer.

“Ons kon bespiegel oor dinge, mense bespreek en lekker saam skinder. Maar daar was niks wat ons vir haar kon doen nie. Sy was die laaste dekade van haar lewe permanent aan ’n rolstoel gekluister.

Julius is die kok in dié huis. Foto: Papi Morake

“My lewe lank was ek bewus van my en my geliefdes se verganklikheid. Op ’n jong ouderdom het ek hospitaalgange leer ken. Ek het van naby kennisgemaak met pyn en die dood. En dit hou my op die grond, want ek staan telkens terug en kyk oor my lewe en voel dankbaar dat ons hierdie lewe vir ons kon bou. Dat ons die nodigste én die luukses in ons lewe het. En ons mag maar mooi dinge hê; die lewe is gans te kort.”

Op sommige dae is die verlange meer as op ander, sê Hannon en tuur na die strelende water van ’n fontein in die hoek van die tuin.

“Gelukkig het ons nog my pa, en daaroor is ons baie dankbaar.

“Ons bel mekaar elke dag; selfs al praat ons net oor ditjies en datjies. Ons probeer mekaar minstens een keer per maand sien. Siestog, hy is baie trots. Hy knip alles van my uit die tydskrifte en die koerante. Hy is dankbaar dat die mooimaakbedryf my toe eindelik so mooi behandel het. Hy was tog so bang daar lê geen toekoms vir my nie.” Hy huiwer ’n oomblik.

“Ons het nou ’n rustigheid wat ons nooit tevore gehad het nie,” sê hy.

Hannon dek die eetkamer­tafel. Foto: Papi Morake

“In dié lewe is daar sekerlik iets wat elkeen tot die laaste dag toe sal jaag, maar ons monstertjies is nou die stilste nog. Deesdae is geluk vir ons belangriker as ooit tevore.”

Toe Hannon die huis binnekom en ’n bottel yskoue vonkelwyn in uitspattige glase skink, sê hy tergend: “Sien jy, ek gebruik tog die kombuis.”

Dan kyk Julius en selfs die skoothond van onder hul wenkbroue na Hannon, maar niemand sê ’n woord nie.

Julius en Hannon klink ’n glasie vonkelwyn terwyl hul hondjies, Bella en Bessie, toekyk. Foto: Papi Morake

Van een ding is hulle oortuig: Sou die ghoeroe in dié huis iets sien of hoor wat hom nie aanstaan nie, sal hy dit sommer gou-gou regdokter.

Dan lig die paar die glase en klink op die lewe: “Op ’n rustiger toekoms met vrede en geluk en, die meeste van alles, op ’n lewe omring met net mooi dinge wat vreugde bring.”