Die jare het sy tol geëis van die groepie manne wat op ’n winteraand hier in Johannesburg saamtrek.

Daar is grys- en bleskoppe, brille en boepmagies. Party loop moeilik.

Maar jy kan jou beswaarlik ’n groep groter volkslegendes in een vertrek voorstel. Want in die 1960’s en vroeë ’70’s het dié einste manne gedrop, getackle en gescore soos min jonges hulle dit vandag kan nadoen.

Maak jy jou oë toe, is dit kompleet asof jy die skares hoor brul terwyl een van dié helde bal onder die arm op die doellyn afstorm. Dit is die room van ’n goue era van Springbokrugby wat vanaand hier teenwoordig is.

Die oudste lewende Springbok uit die destydse Transvaalspan, Joe Kaminer (84), wat in 1958 teen Frankryk uit­gedraf het. Foto: Dino Codevilla.

Die nostalgie en kameraadskap loop dik deur die gesprekke tussen die Boklegendes en ’n aantal grootkoppe uit rugbykringe. Dis immers ’n reünie, ’n aand om staaltjies uit te ruil oor hul gloriedae. En waar beter om dit te doen as hier in die Ellispark-rugbymuseum, neffens een van die land se beroemdste speelvelde!

Later vanaand sal hulde gebring word aan hul voormalige Springbokspanmaat Syd Nomis, wat verlede maand aan ’n hartaanval oorlede is. Maar eers is dit tyd om weer op die speelvelde van die verlede uit te draf, hier waar duisende rugbyaandenkings hulle omring.

Wie is nie versot op Laurika Rauch se trefferliedjie oor die rugbyderduiwel Mannetjies Roux nie? En hier staan hy in lewende lywe.

Mannetjies Roux en sy vrou, Charlotte. Foto: Dino Codevilla.

Op sy dag was Mannetjies, wat tussen 1960 en ’70 hoofsaaklik senter gespeel het, ten spyte van sy klein postuur ’n monster op die verdediging. Maar hier waar hy ’n vertoonkas met Italiaanse rugbytruie uit sy speeldae bekyk, verklap sy vrou, Charlotte: “Ons gaan volgende jaar vir ons 80’s.”

Hy dink van almal hier, kom hulle die verste, sê Mannetjies dan. Die egpaar bly die afgelope vyf jaar in die Kaap. Mannetjies onthou ’n storie van ’n brief wat doeriejare op Huisgenoot se brieweblad verskyn het.

“ ’n Seuntjie het geskryf en gevra Huisgenoot moet vir oom Mannetjies op die voorblad sit. En wragtig, ’n ruk later hier bel iemand en sê hulle is van Huisgenoot en hulle kom foto’s neem.”

Charlotte lag. “Die oom was baie bekommerd, want hy kon nie besluit of hy op ’n perd of tussen sy skape moet staan vir die fotosessie nie,” onthou sy.

Maar kort daarna ontdek hulle dit was ’n fopoproep van een van hul vriende wat met hom die gek geskeer het.

Frik du Preez (82), wat van 1961 tot ’71 vir die Bokke uitgedraf het, kom in en die gaste oorval hom om te groet. Maar hy sê: “Wag, laat ek net eers ’n bier kry,” voor hy na die kroeg stap vir ’n lafenissie.

’n Foto geneem tydens die 1971-toer in Australië. Agter sit Joggie Viljoen en Frik du Preez, en voor Joggie Jansen (links) en John Williams. Foto: Verskaf.

Joggie Jansen (70), wat in Bloemfontein woon, klim oor ’n lae bankie om by ’n tafel te gaan sit.

“Dis darem ’n vreeslike werk om hier oor te klim,” kla hy met ’n laggie.

Toe hy sy sit kry, blaai hy deur ’n gedenkalbum van daardie legendariese 1970-All Black-toer in Suid-Afrika toe die Bokke hulle in drie van die vier toetse ore aangesit het.

“Kyk hier,” sê Joggie en wys na ’n foto van hom saam met John Williams, Frik du Preez en Joggie Viljoen.

“Hierdie foto is een aand tydens daardie toer in Frik se kamer geneem. Ons het altyd na sy kamer gegaan en sit en sing. Frik het kitaar gespeel. Nie omdat hy goed was nie, net omdat hy die enigste een was wat dit darem op ’n manier kon doen.”

Was hulle ooit stout op toer?

“Nee, nie ooit nie. Altyd!” sê Joggie onmiddellik.

Hannes Marais, 1971-Springbokkaptein, kom op ’n foto af waar hy kaalbolyf in ’n kleedkamer staan tydens die Bokke se toer in Frankryk. Hierdie slot, wat van 1963 tot ’74 vir Suid-Afrika uitgedraf het, was bekend vir die welige haargroei op sy rug.

Hannes Marais deel ’n handtekening uit. Foto: Dino Codevilla.

“Toe een van die Fransmanne dit sien, maak hy met handgebare en klanke ’n bobbejaan na.”

Nadat die manne heerlik gekuier en teruggestap het in tyd op die voetspore van elkeen se legendariese loopbaan, beweeg hulle oor na die groot onthaalsaal in die Ellisparkstadion.

Hier sluit hulle by ’n groep van sowat 400 rugbyondersteuners aan wat by ’n dinee hulde bring aan die ontslape Springbokvleuel Syd Nomis, wat van 1967 tot ’72 die Groen-en-Goud 25 keer gedra het.

Hierdie stadion is ook sy tuisveld, waar hy van 1963 tot ’74 sy rugby vir Transvaal gespeel het. Hy het in Junie op 76-jarige ouderdom aan ’n hartaanval gesterf.

Frik beweeg na tafel no. 2 soos wat die plekaanwysings aandui. Die 2002-’03-Springbokafrigter, Rudolf Straeuli, sit reeds. “Waar sit ons?” wil Frik by Rudolf weet.

“Die kapteins links van my; die offisiere regs,” spot die voormalige afrigter.

Rudolf Straeuli en Frik du Preez deel weer herinneringe. Foto: Dino Codevilla.

Frik gaan sit links van hom en kyk met verontwaardiging na die bottel wyn op die tafel, want hy drink nie wyn nie.

“Die beste wyn is brandewyn,” verklaar hy plegtig. Hy sal wel af en toe ’n bier drink, “maar net as dit ’n uiterse noodgeval is”.

Op die skerm word beeldmateriaal van toetse gewys waarin die legendes gespeel het. Frik, die ewige platjie, sê hy hou nie van die dele waar hy “in slow motion” gewys word nie, “want dan kan ’n mens nie sien hoe vinnig ek hardloop nie.”

Maar daar word ook gepraat oor die man wat hulle hier vereer. Piet Greyling (76), wat tussen 1967 en ’72 vir die Bokke gespeel het en in ’72 die kaptein was, diep ’n staaltjie oor Syd op.

Dit was 1970. Nuweland. Op die veld was die Bokke en hul aartsvyande, die All Blacks. Wat gevolg het, is beskryf as “die vuilste en hardste wedstryd ooit in Springbokrugby”.

Syd het die bal oor die All Black Fergie McCormick se kop geskop en om hom gehardloop om die bal weer in die hande te kry.

“Maar toe kom McCormick vir Syd met die elmboog by en slaan twee van sy tande uit. Maar in daardie tyd het die skeidsregter sommer die tande opgetel, in ’n sakdoek toegedraai en dit ná die tyd aan die speler teruggegee,” vertel Piet onder groot gelag.

Die Oud-Spring­bokke Hannes Marais (middel) en Piet Greyling (regs) kuier saam met adv. Max Baer, lid van die Goue Leeus se dissiplinêre komitee. Foto: Dino Codevilla.

Syd het die wedstryd met ’n bloeiende mond klaargespeel . . .

Hierdie aand bring “wonderlike herinnerings”, som Joggie die reünie later op. “Elke gesprek, elke staaltjie en elke foto laat jou aan iets dink.”

Tussendeur word die handjie vol legendes oorval deur ondersteuners vir hul handtekeninge. Hannes sit later net stil en staar stip voor hom uit. Dit lyk asof hy effens emosioneel is.

Hy sê hy kan sien die mense wat vanaand hier is, stel werklik in rugby belang.