Die pragtige Melinda Bam en haar man, Adriaan Bergh, het die afgelope week na die Franse Alpe vertrek waar hulle op die spierwit hange van dié bergreeks baljaar.

“Hulle sê liefde kan berge versit, wel, ons kyk of dit bergaf kan ski ook,” het die voormalige Mej. Suid-Afrika by een van die foto’s laat hoor.

Sy het natuurlik ook tyd gemaak om van die skidrag ontslae te raak en het haar in die mooiste, rooiste rok vir die opening van die Club Med Les Arcs Panorama opgetower.

Nog ’n skoonheid wat haar in die Franse Alpe bevind, is Jo-Ann Strauss.

Dié voormalige Mej. Suid-Afrika en haar hele familie span by ’n oord nie ver van Melinda-hulle nie uit.

Sy vertel in een van die inskrywings sy was aanvanklik bekommerd om met drie kinders van vier en jonger te reis om te gaan ski, maar dat dit wonderlik is om te sien hoe haar seuntjie selfvertroue kry in die sneeu.

Die 7de Laan-aktrise Carina Nel, wat die rol van Alexa Welman vertolk, en haar man, Deon Nagel, is op die oomblik in New York waar die temperatuur rondom vriespunt kuier.

By ’n foto van hulle op die Hudsonrivier vertel sy hoe koud dit is en het sy onder meer die hutsmerke #sneeu #koue #liefde #winter bygevoeg.

Nog ’n sepie-aktrise, Christel van den Berg, kuier in New York by Jaqui Shiel, ’n vriendin.

Hulle het die Brooklynbrug, Central Park, die Rockefeller Center en die Museum of Modern Art besoek.