Of dit nou Belle in Beauty and the Beast, Jasmine in Aladdin of Elsa in Frozen is – elke meisie droom in haar kinderhart daarvan om ’n Disneyprinses te wees.

Ons het gaan kyk watter van ons bekendes soos van ons geliefste prinsesse uit animasierolprente lyk.

Karlien van Jaarsveld as Belle

Karlien was gek oor die geelgoue skepping deur Anel Botha Couture waarin sy verlede jaar by die Afrikaans Is Groot-vertonings gepronk het. Die sangeres se man, Joe Breytenbach, het ewe beïndruk gelyk. Haar rok herinner aan die bekende geel balrok waarin Belle in Beauty and the Beast met die Ondier dans.

Belle. Foto: Disney.
Karlien van Jaarsveld. Foto: Instagram.

Amalia Uys as Ariel

Die aktrise het dieselfde bloedrooi hare as Ariel in The Little Mermaid. Boonop het sy net soos die geliefde meermin ook haar prins gevind. Sy en die watertegnoloog Shaun Golding is al twee jaar gelukkig getroud.

Ariel. Foto: Disney.
Amalia Uys
Amalia Uys. Foto: Martin de Kock.

Tracey Lange as Jasmine

Met haar donker hare en skitterende bruin bokkie-oë herinner Tracey aan prinses Jasmine in Aladdin, die geliefde animasiefliek van 1992. Ons dink as haar kêrel, Avukile Mabombo, drie wense gegun word soos Aladdin, sal hy oor en oor vir die borrelde Tussen Ons- en Bravo!-aanbieder wens.

Jasmine. Foto: Disney.
Tracey Lange
Tracey Lange. Foto: Instagram.

Leah as Raponsie

Leah het met haar opgewekte persoonlikheid as die aanbieder van Boer Soek ’n Vrou net so diep in ons hart gekruip soos Raponsie in Tangled. Met haar blonde lokke en skitterende oë lyk die sangeres boonop soos die Disneyheldin.

Raponsie. Foto: Disney.
Leah. Foto: Instagram.

Tarryn Lamb as Pocahontas

Met haar welige hare en olyfbruin vel laat sy nes Pocahontas die koppe draai. Daarom twyfel ons nie dat die sangeres Tarryn Lamb verlede jaar op haar troudag soos iets uit ’n sprokie gelyk het nie. Sy is in November met die prokureur Lester Timothy getroud.

Pocahontas. Foto: Disney.
Tarryn Lamb. Foto: Instagram.

Rolanda Marais as Sneeuwitjie

Net soos die silwerdoek se eerste Disneyprinses, Sneeuwitjie, het die aktrise Rolanda dit alles: ’n vel so wit soos sneeu, lippe so rooi soos die rooiste roos en hare soos ’n nagswart waterval. Gelukkig is sy nie soos Sneeuwitjie die huishoudster van sewe klein mannetjies nie.

Sy en haar man, die regisseur Jozua Malherbe, is wel die ouers van ’n oulike tweejarige dogtertjie, Charlotte James.

Sneeuwitjie. Foto: Disney.
Rolanda Marais. Foto: Instagram.

Elana Afrika-Bredenkamp as Tiana

Die aktrise en omroeper is nie net hardwerkend en ambisieus soos Tiana in The Princess and the Frog nie; met haar vleklose vel en skitterglimlag lyk sy ook soos dié beelskone Disneyprinses. Al wat immers kort, is ’n kroon op haar kop.

Tiana. Foto: Disney.
Elana Afrika-Bredenkamp
Elana Afrika-Bredenkamp. Foto: Instagram.

Nadia Beukes as Elsa

Nadia se kleintyddroom was om ’n Disneyprinses te wees. Toe ons voorheen by haar aanklop om te hoor watter Hollywoodakteur sy sou kies om haar in ’n fliek te speel, het sy Kristen Bell gekies. Kristen is die stem van prinses Anna in die animasierolprent Frozen. En Nadia lyk vir ons net soos Anna se suster, die geliefde sneeuprinses, Elsa.

Elsa. Foto: Disney.
Nadia Beukes. Foto: Instagram.

Lalla Hirayama as Mulan

Spieëltjie, spieëltjie aan die wand, wie lyk die meeste soos Mulan? Die TV-ster Lalla lyk vir ons met haar donker hare en jeugdige voorkoms net soos Disney se Mulan, wat nie net ’n prinses is nie, maar ook ’n magtige vegter.

Mulan. Foto: Disney.
Lalla Hirayama
Lalla Hirayama. Foto: Instagram.