So gek dat sy die sanger se handtekening op haar regterenkel laat tatoeëer het.

“Dit was vrek seer gewees,” vertel Helen (51) vanuit haar huis in Rustenburg, die dag nadat sy die tatoeëermerk laat aanbring het. 

“Ek is 51 en dit was my eerste tatoeëermerk. Ek weet regtig nie hoe mense tatoes doen nie. My pyndrumpel is hoog en ek't baie seer gekry.”

Vir Helen is Steve ‘n ikoon. ‘n Legende eintlik, meen sy.

Helen de la Rey het onlangs ’n foto saam met Steve Hofmeyr geneem toe hy in Rustenburg opgetree het. Foto: Verskaf

“Ek en Steve is dieselfde ouderdom; ek het (as't ware) saam met hom grootgeword en was nog altyd mal oor hom.

“Nee, ek is nie verlief op hom nie,” keer sy gou.

“Ek is net ‘n groot fan van hom.”

Volgens Helen het haar man, Danie, met wie sy 19 jaar lank in ‘n verhouding was en nou al 17 jaar getroud is, geen probleem met sy vrou se bewondering vir die sanger nie. 

Dit is ook vandag, die dag nadat sy die tatoeëermerk laat aanbring het, dat sy en Danie hul huweliksbeloftes aan mekaar hernu. 

“O nee, hy verstaan hoe ek oor Steve voel en hy lag lekker daaroor,” sê sy.

Helen wys haar boek waarin Steve geteken het. Foto: Verskaf

Helen se bewondering met die Agter Elke Man-akteur was maar soos die meeste van sy aanhangers, tot fibromialgie onlangs by haar gediagnoseer is.

Die diagnose het Helen aangemoedig om ‘n emmerlys op te stel, 'n lysie dinge wat sy wil doen voor sy die emmer skop. Een daarvan was om saam met Steve op ‘n foto te wees. 

Dit het Helen sommer vinnig reggekry toe Steve verlede maand in Rustenburg optree en Danie sy vrou tot voor in die ellelange ry geneem het. 

Helen koop toe net daar Steve se boek waarna die sanger sy handtekening – sy naam, ‘n hartjie en ‘n kruisie - daarin gemaak het. 

Die hantekening het die kreatiewe kant van Helen wakker gemaak en kort daarna het sy besluit om dié einste handtekening op haar enkel te laat tatoeëer. 

En nadat die afspraak by die tatoeëerkunstenaar gemaak is, was daar geen omdraaikans nie. 

“Danie was heeltyd langs my. Dit was so seer. Dan sal Danie vir my sê om asem te haal en saam met my in- en uitasem,” lag Helen. 

“Ag ek dink Steve is die beste Afrikaanse sanger wat daar is. Ja, almal kritiseer hom oor sy baie kinders, maar hy staan op vir Afrikaanse mense.”

Helen se tatoeëermerk van Steve se handtekening. Foto: Verskaf

Helen het die foto van haar tatoe op Facebook aan Steve gestuur, waarna hy dit op sy eie blad gedeel het met die boodskap: “Dit die derde keer (wat ek van weet) dat 'n handtekening van my op iemand se lyf 'n tatoeëermerk word op dieselfde plek. Dit lyk blerrie seer. En ek's onseker oor jou romantiese vooruitsigte van hier af aan . . . he-he! Ouch!”

Helen se die tatoeëermerk is nog ietwat rooi, maar sy is geensins spyt daaroor nie.

“Volgende op my emmerlys nou is om 'n lekker gesprek met Steve te voer,” skimp die 51-jarige vrou, waaghalsiger as ooit.